DA-navorser in Noordwes vermoor

Argieffoto

Argieffoto

Sherril Bester (50) is Saterdagaand in haar huis in Ottoshoop, Noordwes vermoor.

Sers. Kelebogile Moleko, woordvoerder van die polisie, het gesê Bester is Saterdagaand deur drie mans in haar huis aangeval. “Daar was merke op haar kop en nek en sy is glo gewurg.” Sy is vermoedelik met ʼn stomp voorwerp doodgeslaan.

Volgens Moleko het Bester vroeër saam met vriende gekuier, maar sy was alleen ten tyde van die voorval. Die verdagtes het van Bester se klere en kos agter op haar bakkie gelaai en na ʼn nabygeleë informele nedersetting gevlug waar die bestuurder van die bakkie teen ʼn hek vasgery het. Die polisie het die bakkie opgespoor met die kos en klere wat steeds in die voertuig was.

“Na verdere ondersoek het ons vasgestel dat die bakkie aan die slagoffer behoort,” het Moleko bygevoeg. “Polisiebeamptes het by haar huis gaan ondersoek instel en op haar liggaam afgekom.” Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Die DA het gesê Bester was ʼn navorser vir die party in die Noordwes-wetgewer. “Sherril was ʼn lojale en pligsgetroue werknemer vir die afgelope tien jaar en het amper daagliks verslag gedoen oor voorvalle soos die een wat haar lewe gekos het,” het Chris Hattingh, DA-leier in Noordwes, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.