DA neem ANC-wyk af in die Oos-Kaap

Demokratiese Alliansie

In die beste politieke nuus vir die DA in baie maande het die party daarin geslaag om ’n wyk by die ANC af te neem in die munisipale tussenverkiesings wat hierdie week gehou is.

Ter sprake is wyk 3 van die Walter Sisulu-munisipaliteit. Die wyk omvat die oorwegend wit Burgersdorp, die oorwegend swart township Nkqubela en twee boerderygebiede, te wete Kroonvlei en Knapdaar.

In 2016 se munisipale verkiesing het die ANC die wyk gewen, maar hierdie keer het Matthee Nel (DA) gewen met 688 stemme teen 522 vir die ANC, 112 stemme vir die EFF, 24 vir die plaaslike Civis  en tien stemme vir die African Transformation Movement.

Die swaai teen die ANC was ses persentasiepunte.

In dié wyk is Burgersdorp die DA se sterkste stempunt en die twee stempunte in Nkqubela (wat baie meer kiesers het), is die ANC se beste stempunte. Die twee plaasgemeenskappe dra nie veel kiesers by nie.

Wat hierdie week gebeur het, was dat Burgersdorp se DA-kiesers se stempersentasie beter was as by die twee Nkqubela-stempunte. Die DA het goed gevaar op die plase en het glad nie te sleg gevaar in die township nie. As die DA se township-stemme trouens na die ANC gegaan het, was die uitslag anders.

Die ander tussenverkiesing was ook in die Oos-Kaap, naamlik in wyk 29 van die Mbhashe-munisipaliteit. Die wyk omvat ’n afgeleë landelike gebied in die suide van die Transkei, met Idutywa as die naaste dorp.

Philile Mayiji (ANC) het 1 397 stemme gekry, gevolg deur die UDM met 186 stemme, die EFF met 60 en die PAC met 22.

Dit verteenwoordig ’n swaai van 26 persentasiepunte na die ANC, wat ’n absolute uitskieter-uitslag is – heeltemal anders as die ANC se gewone vertonings in tussenverkiesings sedert 2016.

Die opvallendste kenmerk van hierdie week se uitslae is dat die EFF steeds bykans geen stemme kry in enige van die land se kusprovinsies nie. Hulle vaar beter in die binneland as aan die kus, maar sukkel in die meeste binnelandse provinsies om te groei vergeleke met 2016.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jerry ·

Die goeie nuus uit die uitslae is die swak prestasie van die EFF. Dit mag daarop dui dat swart kiesers nie dieselfde pad as Zimbabwe wil stap nie.

Piet Pompies ·

Ek is opgewonde oor die toekoms van Suid Afrika, ons werk elke dag met alle kulture van mense en die meerderheid mense is net so teleurgesteld in die huidige regering, misdaad, plaasmoorde en geweld ens. Ongelukkig is dit maar so dat van die media nie verantwoordelik is in die verband en publiseer sensasie om verkope op te jaag, dit gaan oor geld en sensasie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.