DA neem ANC-wyk af in die Vrystaat

By die DA se laaste verkiesingsveldtog voor die munisipale verkiesing op 3 Augustus 2016 (30 Julie 2016) Foto: DA, Facebook

Die DA het hierdie week ʼn wyk in die Vrystaatse dorp Wesselsbron by die ANC afgeneem nadat die VF Plus nie ʼn kandidaat gestel het nie en die DA beter as voorheen in die township gevaar het.

Wyk 2 in die Nala-munisipaliteit, wat in 2016 deur die ANC gewen is, is hierdie keer deur Bri-anne Masencamp (DA) verower, met 971 stemme teenoor 875 vir die ANC, 118 vir die EFF, 17 vir ʼn onafhanklike kandidaat en vier stemme vir die ACDP.

Die wyk sluit die dorp Wesselsbron met sy township Monyakeng in. Vergeleke met 2016 het die ANC met vyf persentasiepunte teruggesak, en het die DA met omtrent 20 persentasiepunte gegroei. Die VF Plus, wat in 2016 die derde meeste stemme in die wyk gekry het, was nie ʼn opsie nie en dit lyk of baie van dié party se ondersteuners vir die DA gestem het om die ANC uit te hou – hoewel die DA ʼn bietjie beter in Monyakeng gevaar het as in 2016.

Elders in die Vrystaat het die DA ook sukses gesmaak deur wyk 12 in die Ngwathe-munisipaliteit (ʼn deel van die dorp Parys) met ʼn verkleinde meerderheid te behou.

Andries Vrey (DA) het 1 191 stemme getrek, gevolg deur die VF Plus met 357, die ANC met 322 en die EFF met 51 stemme. Dit is ʼn swaai van tien persentasiepunte teen die DA sedert 2016.

In Pretoria se Tshwane-metro het die ANC wyk 37 (deel van Soshanguve) met ʼn verkleinde meerderheid behou.

Zachariah Ntohla (ANC) het 2 924 stemme gekry teen 1 225 vir die EFF, 510 vir die DA, 31 vir die PAC en 12 vir die ACDP.

Dit verteenwoordig ʼn swaai van vier persentasiepunte teen die ANC sedert 2016, met die EFF wat met drie persentasiepunte gegroei het en die DA met twee persentasiepunte.

Die laaste tussenverkiesing van die week was in wyk 7 van die Lekwa-Teemane-munisipaliteit in Noordwes. Die wyk omvat die klein, oorwegend bruin woonbuurt Geluksoord en ʼn deel van die township Utlwanong, albei net buite Christiana, asook ʼn klomp omliggende plase.

Rapule Kwena van die ANC is die nuwe raadslid nadat hy sy opponent van die EFF met 1 191 stemme teen 408 uitgeknikker het.

Die ANC se aandeel in die stemme het met vyf persentasiepunte teruggesak en die EFF s’n het met 17 persentasiepunte geklim sedert 2016 – ʼn voortsetting van die party se sterk groeikurwe in Noordwes. Die DA, wat in 2016 tweede was in die wyk, het nie ʼn kandidaat gestel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jerry ·

Na Ernie Roets se domastrante bravade gister in die parlement gaan Afrikaners wat vir die VF gestem het nou vir die DA en enige ander partye stem!

ZAR ·

Die enigste rede was omdat daar nie ‘n VF+ kandidaat was nie. Jy is ver verkeerd oor hoe die mense voel oor Ernst Roets se bravade.

ZAR ·

Jerry jy’s heeltemal uit pas uit met die Afrikaners. Afriforum het die waarheid gepraat. VF+ mense stem net vir VF+ en die Afrikaners wat vir DA gestem het sal nou na VF+ stap na DA se anti-wit uitsprake. Dit gebeur as ‘n mens holrug gery is en dan word daar gesê jy het nie genoeg gedoen nie en moet nog meer opoffer. Meeste mense is keelvol vir kruip.

Ja ne ·

Man ek hoop dat daai boere daar
Se plase almal afgevat word. Rugstekers skinderbekke papbroeke en lafaards is wat daar bly.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.