DA neem ANC-wyk af

Argieffoto: Twitter via @Our_DA

Die vreugdevure brand hoog in die Wes-Kaapse DA nadat die party vir die eerste keer ʼn spesifiek hardnekkige ANC-wyk in die suide van die provinsie kon inpalm en in die proses alleenbeheer oor die Hessequa-munisipaliteit op Riversdal kon oorneem.

Hessequa wyk 4 is die gebied van Slangrivier tot op Witsand, en was sedert 1994 nog altyd ʼn ANC-wyk. Gerald Boezak (DA) het sy party se steun egter met 23 persent vermeerder en die wyk met 1 404 stemme gewen teenoor 1 015 vir die ANC, 75 en 34 stemme onderskeidelik vir twee onafhanklike kandidate en 28 stemme vir die VF Plus.

Stellenbosch het sy reputasie as sterkste DA-munisipaliteit in die land gestand gedoen toe Zelda Dalling (DA) wyk 9 (die gebied om die universiteit) met 379 stemme teen vyf vir die ANC gewen het. Dit verteenwoordig ʼn swaai van twee persentasiepunte na die DA vergeleke met 2016.

Minder goeie nuus vir die Wes-Kaapse DA het gekom uit George – ʼn dorp waar die party baie interne struweling ondervind. Wyk 18 is dele van die woonbuurte Denneoord, Denver Park en Genevafontein en hoewel Donovan Gulting (DA) die wyk gemaklik verower het met 953 stemme, het die party se steun met 21 persentasiepunte geval.

Die VF Plus was tweede met 221 stemme, gevolg deur die ACDP met 103, die EFF met drie stemme en die ANC met twee.

In die Noord-Kaap het die DA Kimberley se wyk 28 (die oorwegend bruin woonbuurt Colville) redelik gemaklik behou, hoewel die party met ses persentasiepunte teruggesak het.

Herbert Japhta (DA) het 1 222 stemme gekry, teenoor 923 vir die ANC en 78 vir die EFF.

Die DA se suksesse het voortgeduur in Gauteng, en wel in wyk 8 aan die Wes-Rand, wat Randfontein en Westonaria omsluit.

Donovan Cloete (DA) het die wyk vir sy party behou met 664 stemme teen 508 vir die ANC, 119 vir die EFF en 12 vir die ACM. Dis ʼn swaai van vyf persentasiepunte na die DA.

Die ANC het twee wyke in Johannesburg behou. Wyk 50 is Dobsonville, en hier is Bheki Mgaga (ANC) verkies met 2 605 stemme teen 399 vir die EFF, 252 vir ʼn onafhanklike kandidaat, 198 vir die DA en 177 vir die ATM. Die swaai teen die ANC is vyf persentasiepunte.

Johannesburg wyk 122 is ʼn uitgestrekte en redelik landelike gebied tussen Soweto en Lenasia. Die nuwe raadslid is Nkosephayo Zungu (ANC), wat 4 164 stemme gekry het teen 636 vir die EFF, 445 vir die DA, 160 vir die IVP, 126 vir die ACDP, 112 vir die ATM en 36 vir die NFP. Die steun vir die ANC het met vier persentasiepunte toegeneem.

In die Oos-Kaap het die DA en die ANC elk ʼn wyk behou.

Graaff-Reinet se wyk 2 is die Horseshoe-gebied en Nieu-Bethesda. Die nuwe raadslid is Ricardo Smith (DA) wat die ANC geklop het met 1 252 stemme teen 337. Die swaai na die DA is twee persentasiepunte.

Cofimvaba se wyk 18 is ʼn stuk landelike Transkei. Lusanda Makade (ANC) het gemaklik geseevier met 1 356 stemme teen 355 vir die UDM en 81 vir die EFF. Dit verteenwoordig ʼn swaai van agt persentasiepunte teen die ANC.

In KwaZulu-Natal het die ANC twee landelike wyke behou, een in Zoeloeland en een in die Drakensberg.

Bergville wyk 4 lê tussen die dorp en die grens met Lesotho. Die nuwe raadslid is Manqoba Hlatswayo (ANC), wat 1 039 stemme gekry het teen 783 vir die IVP. Die NFP was derde met 719 stemme, gevolg deur die EFF met 348, die ATM met 50 en Cope met 27. Die swaai teen die ANC is 17 persentasiepunte.

In Vryheid wyk 21 (ʼn landelike gebied buite eMondlo) het Nkosinathi Mkhwanazi (ANC) net-net gewen met 1 154 stemme teen 1 097 vir die IVP. Die NFP het 42 stemme gekry en die EFF 20. Die swaai na die ANC is vyf persentasiepunte.

Laastens was daar ook ʼn tussenverkiesing in Mpumalanga, en wel in wyk 6 van Carolina se munisipaliteit, te wete die landelike gebied Masondeza.

Sibusiso Dube (ANC) het 1 385 stemme gekry teen 109 vir die EFF en 96 vir die IVP. Dis ʼn  swaai van sewe persentasiepunte na die ANC.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Johannes ·

Mooi, so nou kan die DA voortgaan om hulle anti-Christelike en anti-Afrikaner waardes en strewes te bevorder in die Wes Kaap…

Gert ·

Baie geluk VF+! Julle groei selfs in die liberale Weskaap waar hulle niks omgee vir Afrikaans nie.

Marietjie Blignaut ·

Dis jammer dat die stem persentasie amper oral so laag is. Wys kiesers is ontevrede DA….

Genieve ·

Baie geluk vir die DA nou moet julle net na die mense se behoeftes omsien asb ek sien dis jongerbloed welgedaan.

Leon ·

Baie geluk DA dinge lyk goed. Wes Kaap bly DA wereld, bes bestuurde provinsie

Judge Dredd ·

As jy kyk na die stem persentasies wen of verloor dan lyk dit steeds na ‘n redelike mengelmoes.
Lyk nie vir my of die ANC baie steun gaan verloor by stembus nie.

fred ·

die suiwer swart gebiede stem nog altyd vir die ANC….korrupsie of nie,dit maak vir hulle nie saak nie..

Ronel ·

ongelukkig is Pretoria, die eens pragtige Jakarandastad, so verskriklik vuil, vervalle., verwaarloos, strate maande lank sonder straatligte!! Jammer maar hier kan die DA nie geloof word nie, my stem gaan nooit weer aan die DA nie!

Ronel ·

Ouma, dit was aanvanklik onder ANC beheer, daarom was baie mense (ek inkluis) so bly to die DA oorgeneem het!

Nico K ·

Ja die ANC se steun het nie in sy tradisionle gebiede afgeneem nie, maar minstens lyk dit of die EFF nie veld wen nie.

kolla ·

Nogal verower met ‘n gemaklike meerderheid. Hier kom die blou golf.

George in Bloem ·

Ses van die een,half dosyn van die ander. Daar’s nie eintlik veel verskil nie.

Dankie tog ·

Ek is net so so dankbaar die weskaap het nie in ANC of EFF hande beland nie. Maak nie saak wie wat van die DA se nie. Maar die provinsie is tops. Ek kom van mpumalanga / gauteng … ANC wereld. En die DA wes kaap is regtig soos n somer briesie. Moet net so bly

TN ·

Die regses sal eerder in hulle eie bloed stik as om die DA krediet te gee vir die puik wyse waarop die WES-Kaap betsuur word ten spyte van die ANC se pogings om dit onregeerbaar te maak . Ek het dit vroëer gesê maar voel dit kan gerus weer genoem word __ die DA-meerderheid in die Wes-Kaap gaan toeneem en ANC-steun gaan landswyd afneem . Die misdadige bestogings georkestreer deur die ANC gaan hulle byt __ die land se toekoms lê by die gematigdes __ laat die regses , EFF , BLF en die ANC konflik skep vir ‘n paar stemme ; die DA wie die stem vir redelikheid verteenwoordig sal groei en deur hulle dade oorwin .

Andre ·

DA ondersteuners kan my asb reghelp maar wat ons wat in die Overberg bly sien daagliks hoe nuwe mense die gebied instroom.Grond word onwettig beset,dan volg daar geweldadige vandalistiese proteste.Dan verskaf die DA dienste wat die belastingbetaler moet subsidieer.Die mense is dan tevrede en dan kom die volgende golf ingestroom en die proses herhaal hom.Hierdie nuwe”inwoners” stem vir nie DA nie.Investering verminder of stop as gevolg van hierdie toenemende geweld en meer mense raak werkloos soos besighede toemaak.Waarmee is die DA dan eintlik besig ?

TN ·

Andre __ die ANC sit agter die toestroming van mense vanuit die Oos-Kaap en elders want hulle wil die Wes-Kaap terugwen ten alle koste . Verdere toestroming vind plaas omdat dit hier strate beter gaan as in enige ander provinsie . Wat moet die DA daaraan doen ? Vryheid van beweging is eie aan ‘n vrye kapitalisties stelsel . Ek wens ook dat ons hulle kon terugstuur maar dit is ongelukkig nie moontlik nie ten spyte daarvan dat dit ongehoorde druk op ons bronne plaas .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.