DA neem bewind in Knysna oor

Knysnakoppe (Foto: Marianne Styan)

Die skilderagtige dorp Knysna in die Wes-Kaap sal by aanstaande maand se stadsraadsvergadering weer voluit onder DA-beheer wees nadat die ACDP besluit het om die DA-kandidate vir burgemeester, onderburgemeester en speaker te ondersteun.

Dit is die tweede Wes-Kaapse stadsraad binne drie weke wat uit die hande van die ANC-groep oorgaan na die DA-groep. Die ander stadsraad waar die DA onlangs oorgeneem het, is Laingsburg.

Die ooreenkoms tussen die DA en die ACDP bring ‘n einde aan ‘n lang tydperk van beheer oor Knysna deur die ANC en sy meelopers. Die ANC-groep in die stadsraad het beheer oor die raad verkry toe ‘n DA-wyksraadslid, Mark Willemse, skielik saam met die ANC en teen die DA begin stem het, al het die kiesers in hul wyke oorweldigend DA gestem in 2016 en 2019.

En toe die DA van Willemse ontslae wou raak weens sy heulery met die ANC, het Willemse soos ‘n neet aan sy posisie geklou. Hy het selfs beweer die kiesers van sy wyk steun hom teen die DA, maar hy het elke jakkalsdraai in die boek gegooi om daardie kiesers nie demokraties te raadpleeg nie.

Willemse het goed geld gemaak uit sy manteldraaiery, want sy kornuite in die ANC-kamp het gesorg dat hy tot burgemeester verkies word, en dat sy salaris gevolglik toeneem.

Na ‘n langdradige proses het die Wes-Kaapse hooggeregshof die noodwendige bevinding gemaak dat Willemse sy setel verloor het toe hy opgehou het om ‘n DA-lid te wees. Teen daardie tyd het die burgemeestersgeld al dik vir Willemse ingerol.

Toe die tussenverkiesings vir wyke 9 en 10 in Knysna dus eindelik verlede maand plaasvind, het dit geblyk dat Willemse se stellings oor sy kiesers wat hom teen die DA steun, ‘n vergissing of ‘n leuen of ‘n stukkie goedkoop opportunisme was.

Wat dit nie was nie, was die waarheid, want wyke 9 en 10 het oudergewoonte baie groot meerderhede vir die DA opgelewer. Niemand wat Knysna ken, kon daardeur verras gewees het nie, want die twee wyke omvat Knysna se middedorp, Leisure Isle en Thesen’s Eiland. Dit is welvarende, gevestigde buurte met ‘n lang geskiedenis van liberale oopkop-politiek.

Met wyke 11 en 12 nou weer terug in die hande van die kiesers se keuse, die DA, het die DA nou weer 10 setels in die raad van 21. Die ACDP se een setel beteken ‘n DA/ACDP-meerderheid in die stadsraad.

‘n Belangrike deel van die DA en ACDP se ooreenkoms in Knysna is dat die twee partye nie in koalisie gaan nie. Die ACDP het wel besluit om die DA se nominasies vir die poste van burgemeester, onderburgemeester en speaker te steun.

Die ACDP kry geen poste uit die gedoente uit nie en sal teruggaan na sy opposisierol in die stadsraad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
AJ

Willemse must “pay back the money”!

Hy het “verraad” gepleeg teen die demokratiese “stem” van die inwoners.

Verhaal asb ELKE SENT van die geld wat hy ‘onwettig’ bekom het.

En sluit hom op!

Elsabe

Jinne, sommer die tweede nuusbrokkie wat ek vanoggend oopmaak is verblydende nuus. Dit gebeur nie aldag nie.

Dries

Integriteitsloos soos magushule

Elmarie

Dankie DA en ACDP het goeie besfluit geneem om hul gewig by DA te gooi. Maar om dinge reg te ruk… Gaan baie, baie gesukkerl en geld kos want die agterbakse ANC sal als doen om dinge in die wiele te ry

Eltan

“Dit is die tweede Wes-Kaapse stadsraad binne drie weke wat uit die hande van die ANC-groep oorgaan na die DA-groep”
Sou dit nie beter van pas gewees het om eerder te sê: “uit die hande van die anc groep gered” ?