DA neem bewind oor in Port Elizabeth

Nqaba Bhanga is die nuwe burgemeester van die Nelson Mandelabaaimetro.

Die Nelson Mandelabaai-metro (Port Elizabeth, Uitenhage, Despatch en omgewing) is weer terug onder DA-bewind na ʼn paar jaar van algehele chaos, erge wanbestuur en skrikwekkende korrupsie.

Die DA se Nqaba Bhanga is Vrydagaand eenparig as burgemeester verkies. Dit lyk boonop asof Bhanga (wat ook die provinsiale DA-leier in die Oos-Kaap is) ʼn stabiele meerderheidsregering daar sal kan stel. Dit beteken die DA is in ʼn baie beter posisie in Nelson Mandelabaai as in Pretoria se Tshwane-metro, waar die nuwe DA-burgemeester, Randall Williams, ʼn minderheidsregering lei en dus gaan sukkel om byvoorbeeld die stadsbegroting aanvaar te kry.

Die Nelson Mandelabaai-metroraad het 120 lede. Hiervan het die DA 57, die ANC het 50, die EFF het ses, die UDM het twee, die ACDP het een, die African Independent Congress het een lid, Cope het een, die United Front of the Eastern Cape het een en die Patriotic Alliance het een setel.

Die DA kan in hierdie stadium formeel staatmaak op die ACDP, Cope en die Patriotic Alliance as koalisievennote, wat aan hom 60 van die 120 setels gee.

Boonop het Bhanga nog altyd goeie verhoudings met die EFF gehandhaaf, wat beteken hulle sal baie moeilik die ANC teen hom steun.

Boonop is EFF-raadslede volgens Maroela Media se inligting heeltemal keelvol vir die korrupte gedrag van ANC-raadslede en beskou hulle die ANC se gewelddadige ontwrigting van die demokratiese proses as ʼn skande vir die stad.

Die stadsraadsvergadering Vrydag was ʼn uiters swak advertensie vir die Suid-Afrikaanse demokrasie, met die ANC wat skokkende gedrag geopenbaar het.

ANC-lede het toerusting beskadig, doodsdreigemente gemaak teen die stadsbestuurder en sy familie, probeer om die krag te ontkoppel en vir elke bakatel probeer om die raad te laat verdaag – enigiets om te keer dat die demokratiese kieserswil uitgevoer word.

In ʼn stadium, ja werklik, het ʼn groep mans selfs die raadslokaal binnegestorm en die ANC-speaker gewelddadig ontvoer. Sy is redelik ernstig beseer en is nog nie uit die hospitaal ontslaan nie.

Sy is ook uiters ontstoke oor wat gebeur het.

Dit is nog nie duidelik wie vir haar ontvoering uit die ampstoel verantwoordelik was nie, hoewel die doel duidelik was: Die ontvoerders en diegene in wie se naam hulle dit gedoen het, het gemeen sonder ʼn speaker sou die stadsraadsvergadering en die bewindsoorname nie kon voortgaan nie.

Daar is dus baie mense in Port Elizabeth wat meen die ontvoerders is waarskynlik deel van die anargistiese faksie in die plaaslike ANC, soos versinnebeeld en gelei deur raadslid Andile Lungisa, wat enkele dae gelede uit die tronk vrygelaat is na die uitdien van sy straf omdat hy raadslid Rayno Kayser van die DA op ʼn vroeëre stadsraadsvergadering ernstig aangerand het.

Met die speaker uit die stoel het dit wel vir ’n tydjie gelyk of die vergadering kon ontspoor, maar toe kom daar ʼn belangrike wending danksy die Patriotic Alliance se raadslid, Marlon Daniels.

Daniels het sedert 2016 al ʼn paar keer van kamp verwissel in die stadsraad tussen die DA-geaffilieerde groep en die ANC-geaffilieerde groep. Sy enkele stem maak dan ook gewoonlik die verskil tussen wie aan bewind kom en wie verloor.

Nadat die speaker ontvoer is, het Daniels die ANC daarvan beskuldig dat dit sy lede is wat agter die ontvoering en die ontwrigting sit. Daniels het aan die ANC gesê dat hul wangedrag nie sal werk nie en dat hulle aan die einde van hul bewind gekom het.

Met Daniels duidelik hierdie keer vír die DA en téén die ANC het die ANC besef die koeël is deur die kerk. Hoewel net 65 van die 120 raadslede uiteindelik teenwoordig was om te stem, was Bhanga die enigste benoemde en is hy dus eenparig verkies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Willem

Niks maar niks waar hul betrokke is kan goed afloop

Stefan

Wie het nog hoop vir hierdie land as die demokratiese verloorders so optree?

Jaco

“Regte” ras vir ‘n verandering. Die DA moes mos nou geweet het ‘n wit burgemeester gaan nie werk nie. Waarom nie dié man die job in 2016 reeds gegee nie? Dan was die Nelson Mandelabaai metro al die nonsens van die afgelope 3 jaar gespaar. Die DA verbaas my regtig: stem VIR regstellende aksie en BEE, maar hulle top mense is amper almal wit. Vreemd. Selfs die VF-Plus is meer in verbinding met die “grassroots level” en regstellende aksie en BEE: Peter Marais word lid, toe sommer verkiesingskandidaat net 4 maande later en sommer provinsiale parlementslid ná die verkiesing. Die… Lees meer »

JohanR

Kan jy dink hoe die ANC sal tekere gaan as dit lyk asof hulle ‘n algehele verkiesing gaan verloor? Die land sal brand!

Elsabe

Sies.