DA neem bewind oor in Port Elizabeth

Nqaba Bhanga is die nuwe burgemeester van die Nelson Mandelabaaimetro.

Die Nelson Mandelabaai-metro (Port Elizabeth, Uitenhage, Despatch en omgewing) is weer terug onder DA-bewind na ʼn paar jaar van algehele chaos, erge wanbestuur en skrikwekkende korrupsie.

Die DA se Nqaba Bhanga is Vrydagaand eenparig as burgemeester verkies. Dit lyk boonop asof Bhanga (wat ook die provinsiale DA-leier in die Oos-Kaap is) ʼn stabiele meerderheidsregering daar sal kan stel. Dit beteken die DA is in ʼn baie beter posisie in Nelson Mandelabaai as in Pretoria se Tshwane-metro, waar die nuwe DA-burgemeester, Randall Williams, ʼn minderheidsregering lei en dus gaan sukkel om byvoorbeeld die stadsbegroting aanvaar te kry.

Die Nelson Mandelabaai-metroraad het 120 lede. Hiervan het die DA 57, die ANC het 50, die EFF het ses, die UDM het twee, die ACDP het een, die African Independent Congress het een lid, Cope het een, die United Front of the Eastern Cape het een en die Patriotic Alliance het een setel.

Die DA kan in hierdie stadium formeel staatmaak op die ACDP, Cope en die Patriotic Alliance as koalisievennote, wat aan hom 60 van die 120 setels gee.

Boonop het Bhanga nog altyd goeie verhoudings met die EFF gehandhaaf, wat beteken hulle sal baie moeilik die ANC teen hom steun.

Boonop is EFF-raadslede volgens Maroela Media se inligting heeltemal keelvol vir die korrupte gedrag van ANC-raadslede en beskou hulle die ANC se gewelddadige ontwrigting van die demokratiese proses as ʼn skande vir die stad.

Die stadsraadsvergadering Vrydag was ʼn uiters swak advertensie vir die Suid-Afrikaanse demokrasie, met die ANC wat skokkende gedrag geopenbaar het.

ANC-lede het toerusting beskadig, doodsdreigemente gemaak teen die stadsbestuurder en sy familie, probeer om die krag te ontkoppel en vir elke bakatel probeer om die raad te laat verdaag – enigiets om te keer dat die demokratiese kieserswil uitgevoer word.

In ʼn stadium, ja werklik, het ʼn groep mans selfs die raadslokaal binnegestorm en die ANC-speaker gewelddadig ontvoer. Sy is redelik ernstig beseer en is nog nie uit die hospitaal ontslaan nie.

Sy is ook uiters ontstoke oor wat gebeur het.

Dit is nog nie duidelik wie vir haar ontvoering uit die ampstoel verantwoordelik was nie, hoewel die doel duidelik was: Die ontvoerders en diegene in wie se naam hulle dit gedoen het, het gemeen sonder ʼn speaker sou die stadsraadsvergadering en die bewindsoorname nie kon voortgaan nie.

Daar is dus baie mense in Port Elizabeth wat meen die ontvoerders is waarskynlik deel van die anargistiese faksie in die plaaslike ANC, soos versinnebeeld en gelei deur raadslid Andile Lungisa, wat enkele dae gelede uit die tronk vrygelaat is na die uitdien van sy straf omdat hy raadslid Rayno Kayser van die DA op ʼn vroeëre stadsraadsvergadering ernstig aangerand het.

Met die speaker uit die stoel het dit wel vir ’n tydjie gelyk of die vergadering kon ontspoor, maar toe kom daar ʼn belangrike wending danksy die Patriotic Alliance se raadslid, Marlon Daniels.

Daniels het sedert 2016 al ʼn paar keer van kamp verwissel in die stadsraad tussen die DA-geaffilieerde groep en die ANC-geaffilieerde groep. Sy enkele stem maak dan ook gewoonlik die verskil tussen wie aan bewind kom en wie verloor.

Nadat die speaker ontvoer is, het Daniels die ANC daarvan beskuldig dat dit sy lede is wat agter die ontvoering en die ontwrigting sit. Daniels het aan die ANC gesê dat hul wangedrag nie sal werk nie en dat hulle aan die einde van hul bewind gekom het.

Met Daniels duidelik hierdie keer vír die DA en téén die ANC het die ANC besef die koeël is deur die kerk. Hoewel net 65 van die 120 raadslede uiteindelik teenwoordig was om te stem, was Bhanga die enigste benoemde en is hy dus eenparig verkies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Stefan ·

Wie het nog hoop vir hierdie land as die demokratiese verloorders so optree?

Jaco ·

“Regte” ras vir ‘n verandering. Die DA moes mos nou geweet het ‘n wit burgemeester gaan nie werk nie. Waarom nie dié man die job in 2016 reeds gegee nie? Dan was die Nelson Mandelabaai metro al die nonsens van die afgelope 3 jaar gespaar. Die DA verbaas my regtig: stem VIR regstellende aksie en BEE, maar hulle top mense is amper almal wit. Vreemd. Selfs die VF-Plus is meer in verbinding met die “grassroots level” en regstellende aksie en BEE: Peter Marais word lid, toe sommer verkiesingskandidaat net 4 maande later en sommer provinsiale parlementslid ná die verkiesing. Die DA kan ‘n paar lesse daar gaan leer.

JohanR ·

Kan jy dink hoe die ANC sal tekere gaan as dit lyk asof hulle ‘n algehele verkiesing gaan verloor? Die land sal brand!

koos10 ·

Lungisa het NIE sy straf uitgedien nie. Hy is polities bevoordeel en is op PAROOL.
Verder lyk dit of die DA nog nie hul les geleer het nie. Ja kan nie die EFF vertrou nie. Die EFF gebruik enige mense of iets om hulle eie agenda te bevorder.

Vrijburger ·

“Boonop is EFF-raadslede volgens Maroela Media se inligting heeltemal keelvol vir die korrupte gedrag van ANC-raadslede en beskou hulle die ANC se gewelddadige ontwrigting van die demokratiese proses as ʼn skande vir die stad.”

Ek moes die meer as een keer lees om te besluit of hierdie opmerking sarkasme is. Ironies, beslis.

Dawid ·

Interessant dat die eff die geweldadige ontwrigting van die anc as skandalig vir die stad beskou, maar geen probleem het om dieselfde gedrag (pre-covid) in die parlement te openbaar nie.
Ek is nie ‘n ‘fan’ vd DA nie, maar asb mense van PE en omgewing, stem tog vir hulle volgende jaar dat die DA die meerderheidstem kry, en die nonsens van koalisies en manteldraaiers kan end kry.

Mad Mike die Rhodesiër ·

Hopelik sal daar nou beter dinge uit die Oos-Kaap kom noudat die DA aan die bewind is.

christo ·

Die ANC besef dat sy onderrok nou vêr uithang. Die ANC sal nóóit vrywillig sy mag oorgee as hy verloor nie. Waar hulle nie hul sin kry nie, is geweld en beskadiging van eiendom hulle manier van uitdrukking van ‘ misnoë .

Dup ·

Ons woon in Afrika mense,dinge is rof hier en die “wilde diere”loop oral rond.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.