DA ‘nie onredelik’ om De Lille uit te skop

Patricia de Lille. Foto: Ayanda Ndamane/African News Agency

Die hooggeregshof in Kaapstad het Dinsdag gehoor dat die 24 uur wat dié stad se burgemeester, Patricia de Lille, gegee is om te reageer op die beëindiging van haar lidmaatskap, was lank genoeg kans vir haar om haar saak te stel.

Sean Rosenberg, vir die DA, het aangevoer De Lille se argument dat die 24 uur wat sy gegee is om te reageer nadat haar lidmaatskap beëindig is, was ongeregverdig en onredelik. “Daar is niks in hierdie saak wat aandui dat die 24 uur tydperk onvoldoende was nie. Ons stel dit dat die tydperk nie onvoldoende was nie weens die eenvoud van dit wat besluit moes word,” het Rosenberg gesê.

“Gegewe die kwessie, en die beperkte aard van die kwessie, en gegrond op die feite, was 24 uur nie onredelik nie.”

Rosenberg het aangevoer De Lille het nie gevra vir langer tyd om te reageer nie en was daarom nie op langer tyd geregtig nie.

De Lille is in Mei in kennis gestel dat haar partylidmaatskap beëindig is op grond van ʼn klousule in die DA se grondwet wat dit stel dat enige lid wat in die openbaar sy of haar voorneme aankondig om die party te verlaat, se lidmaatskap word outomaties beëindig. De Lille het in April tydens ʼn radio-onderhoud gesê sy sal die DA verlaat sodra haar naam in ere herstel is.

De Lille se regspan voer aan sy het bedoel sy sal haar posisie as burgemeester verlaat, maar Rosenberg betwis dit. Volgens Rosenberg is dit duidelik wanneer daar na die konteks van die onderhoud geluister word dat sy van voorneme was om die DA te verlaat gegewe die feit dat haar verhouding met die party “onherroeplik beskadig” is.

Hy het verder aangevoer De Lille is geensins van voorneme om die verhouding te herstel nie en haar enigste wens is om haar onskuld te bewys.

Op ʼn vraag hoekom daar nie dissiplinêre stappe ingestel kon word vir De Lille om haar onskuld te bewys nie, het Rosenberg gesê dit was omdat dit “ʼn uitgemaakte saak” was dat die burgemeester die party sou verlaat en daarom was ʼn dissiplinêre verhoor oorbodig.

De Lille het verlede maand die eerste ronde van haar regsgeding gewen nadat sy tydelik weer in haar pos as burgemeester aangestel is totdat die hof ʼn finale beslissing kan maak oor die wettigheid van die manier waarop sy verwyder is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Cherokee ·

Waaroor sou alles vir die DA gaan? Om haar uit die party te kry of uit die pos? Waarskynlik is al wat van belang is vir hulle, om haar uit die burgemeesters se stoel te kry en sy word geskors vanuit die party omdat dit die enigste manier is waarop hulle dit kan doen. Soveel (Afrikaanssprekende !) kiesers val van bakboord na stuurboord in politiek. Van absoluut liberale DA na uiters konserwatiewe VF+. Êrens moet jy tog ‘n streep trek. Jou beginsels is òf liberaal of dit is konserwatief. Of die party waarvoor ek stem wen is vir my nie van soveel belang as dat ek later aan my eie gewete verantwoording kan doen.

Patty ·

Volgens my beperkte regskennis word aannames nie as redelike bewyse aanvaar nie. Hulle “neem aan” “uitgemaakte saak” is volgens my hul eie afleidings wat hul gemaak het maar geen kongrete bewyse kan gee nie. Alle stappe moes in so proses geneem en afgehandel gewees het soos enige dissiplinere verhoor. Ek sou ook die uitlating gemaak het dat ek sou bedank sodra my naam skoon is met bedoeling hoekom moet ek werk saam mense wat my nie vertrou nie, maar haar naam is nie skoon nie. Hierdie stigma hang nogsteeds oor haar en nou het hulle stappe teruggetrek omdat sy die uitlating gemaak het en aangeneem het sy gaan bedank. As jy verkeerd is moet jy jou pak vat soos n man maar moenie mense mislei en onmenslik behandel nie. Dit geld vir alle werkgewers en werknemers.

anita ·

As Kapenaar en helper by verskeie sopkombuise is dit ‘n groot terugslag vir die DA in die verkiesing want die bruin kiesers gaan nie meer DA stem nie as “Tante Pattie” uit is, ek dink die DA wou haar net uit kry vir iemand anders om die pos te beklee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.