DA nou MRK toe oor afsetting van boer

Argieffoto: Pixabay

Die DA gaan hom na die Menseregtekommissie (MRK) wend ná die onwettige afsetting van Ivan Cloete, ʼn opkomende bruin boer, van die plaas Colenso naby Darling. Volgens die party word Cloete geviktimiseer en sy regte as boer geskend.

Maroela Media het vroeër berig Cloete is vroeër vanjaar van sy staatsplaas afgeskop ingevolge ʼn aankondiging verlede jaar dat staatsgrond van 700 000 ha aan ontluikende boere beskikbaar gestel gaan word. Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het aanvanklik die plaas amptelik aan Cloete toegeken, maar dieselfde stuk grond later aan ʼn MK-veteraan gegee. Die nuwe begunstigde het glo noue politieke bande en is reeds ʼn suksesvolle sakeman.

Die departement het ook intussen erken dat hy moontlik die huurooreenkoms wat hy met Cloete gehad het, verontagsaam het. Dit volg nadat Mcebisi Skwatsha, adjunkminister van die departement, verlede maand in ʼn onderhoud op SAfm toegegee het dat die plaas aan ʼn groep militêre veterane toegeken is. Hy het erken Cloete het aan die proses deelgeneem om ʼn huurooreenkoms vir die plaas te ontvang, maar is oënskynlik afgekeur. Volgens Skwatsha het die departement bevestig dat hy ʼn wetlike verpligting het om ʼn plaas aan Cloete te voorsien.

Volens die DA het die departement het ook geen rede verskaf waarom hy nuwe aansoeke vir die plaas oopgestel het terwyl daar reeds ʼn huurooreenkoms vir die eiendom aangegaan is nie.

Annette Steyn, die DA se skaduminister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, sê die departement se skielike u-draai en poging om hom nou uit die ooreenkoms met Cloete te wikkel, is onwettig en maak ʼn bespotting van regverdige grondhervorming.

Thoko Didiza, minister van landbou, het onderneem om ʼn verslag oor Cloete se uitsetting teen einde Februarie bekend te stel, hangende ʼn ondersoek na die redes waarom die afsetting in die eerste plek gedoen is. Sy het egter versuim om dit te doen.

Steyn sê die vertraging met die uitreiking van hierdie verslag is ’n bewys dat die departement hom nou in ʼn hoek bevind en nie kan erken dat hy ʼn fout gemaak het deur Cloete onregmatig van die plaas af te sit nie.

“Die DA sien uit na ’n tydige resultaat van die MRK-ondersoek sodat Cloete met sy boerdery-aktiwiteite kan voortgaan sonder verdere inmenging,” sê Steyn.

Ná die Cloete-debakel het nog boere die DA om hulp genader omdat die departement hulle glo ook van hul plase wil afskop. Die party het elkeen van dié boere aangeraai om nie hul plase te ontruim nie en soos voorheen met hul boerderybedrywighede voort te gaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

jzjz05 ·

MRK ,moenie teveel verwag nie,dink maar net aan hul geskiedens en besluit self.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.