DA: ‘OB se bevindings is vals’

Mmusi Maimane, leier van die DA

Die DA het Maandag gesê hulle gaan die Openbare Beskermer (OB) se verslag oor die Vrede-suiwelplaasprojek op geregtelike hersiening plaas. Hulle het ook haar bevindings as vals beskryf.

Mmusi Maimane, leier van die party, het in Kaapstad gesê daar is te veel uitlatings in die verslag en het gesê OB Busisiwe Mkhwebane het nie eens ondersoek wat reeds in die openbare domein is nie.

“Daar is nie pogings gemaak om die ware korrupsie in die hart van die Vrede-skandaal te ondersoek en die skuldiges verantwoordbaar te hou nie. Ace Magashule en Mosebenzi Zwane kom onaangeraak af van die skema wat hulle saam met die Guptas uitgedink, beplan en uitgevoer het om die publiek uit honderde miljoene te bedrieg,” het Maimane gesê.

“Ná vier jaar kan adv. Mkhwebane eenvoudig nie die gebrek aan kapasiteit blameer vir hierdie verleentheid van ʼn verslag nie.”

Mkhwebane, openbare beskermer (OB), word skerp gekritiseer nadat sy haar langverwagte verslag oor die Vrede-suiwelprojek Vrydag bekend gemaak het.

Die verslag kom nadat die Valke verlede maand op die Bloemfontein-kantoor van Ace Magashule, premier van die Vrystaat, toegeslaan het in verband met die omstrede Vrede-suiwelplaas. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het ook ʼn bewaringsbevel bekom teen die Estina-suiwelprojekplaas wat Gupta-bande het. Volgens berigte is slegs 1% van die R220 miljoen wat die Vrystaat-landboudepartement vir die projek oorgedra het, daarvoor gebruik.

Daar is verlede jaar onthul dat die Guptas glo miljoene rande gekry het van die Vrystaatse regering se suiwelprojek in Vrede. E-posse wys glo hoe miljoene rande na Gupta-maatskappye oorbetaal en gebruik is om onder meer vir die Gupta-troue te betaal. Die joernalistieke ondersoekeenhede amaBhungane en Scorpio beweer R84 miljoen wat deur die Vrystaatse regering aan die suiwelprojek gegee is, het in die Guptas se hande beland.

Mkhwebane het geen onwelvoeglike bevindings teen Magashule en Zwane gemaak nie, en alhoewel sy die mediaberigte oor die Gupta-maatskappye wat aan die omstrede tender verbind is erken het, het sy geen bevinding teen die familie en sy maatskappye gemaak nie.

Sy het in stede daarvan vir Magashule opdrag gegee om dissiplinêre stappe teen Peter Thabete, die provinsiale hoof van die departement van landbou, en ander beamptes te neem omdat hulle die meer as R220 miljoen se tender aan die Estina-suiwelmaatskappy uitgeloof het in 2012.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frik Booysen ·

Kan duidelik hoor sy is n Zuma aanstelling, haar verklaring is vaag en uitgedink deur iemand anders dankie.

christa ·

Natuurlik het Zuma sy seekat kloue oral ingeslaan. Die hele cabinet moet ontbind want dit is verrot.

Veritas ·

Thuli Madonsela het ‘n standaard daar gestel waarteen alle toekomstige Openbare Beskermers, gemeet gaan word. Die huidige bekleër van die pos skiet vêr tekort. Soos meeste van Zuma se aanstellings.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.