DA ondersteun mosie van wantroue teen De Lille

Patricia de Lille. Argieffoto: Via Twitter

Die DA se federale uitvoerende komitee het die DA-koukus in die Kaapstadse stadsraad opdrag gegee om ʼn mosie van wantroue wat deur die ANC teen Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, ingestel is, te ondersteun.

Die mosie sal vandag gedebatteer word. Die party het in ʼn verklaring gesê hoewel hierdie ʼn ongekende skuif is, is die ANC korrek deur die mosie van wantroue teen De Lille in te stel. Volgens die DA kan van die wanadministrasie wat in die ANC se mosie aangevoer word regmatig voor De Lille se deur geplaas word.

“Die federale uitvoerende komitee het hierdie besluit geneem op grond daarvan dat die party ook sy vertroue in haar leierskap verloor het. Dit is daarom in die beste belang van die mense van Kaapstad en goeie bestuur – gegewe die bedreiging wat Patricia de Lille vir albei inhou – dat ons geen ander keuse het om haar as burgemeester te verwyder nie,” lui die verklaring.

“Hierdie is ʼn bewys daarvan dat ons daartoe in staat is om uit te styg bo eng partypolitieke belange en in die beste belang van die demokrasie van Suid-Afrika op te tree.”

Die party het in ʼn verklaring gesê dié opspraakwekkende skuif is deur ʼn aantal redes gedryf.

Volgens die party het ʼn onafhanklike ondersoek wat na De Lille gedoen is growwe wangedrag, ernstige pligsversuim en gedrag wat neerkom op misleiding van die raad aan die lig gebring. Die party het gesê hierdie bevindinge is geskoei op prima facie-bewyse voor die raad wat die burgemeester se eie vertoë insluit.

“Hierdie prima facie-bewyse is ondersteun deur die feit dat die ouditeur-generaal (OG) die stad se ouditstatus afgradeer het van skoon na ongekwalifiseerd met voorwaardes. Dit is ʼn onuithoudbare situasie vir die DA-regering om hierdie agteruitgang van sy ouditstatus te moet sien, veral wanneer hierdie agteruitgang ʼn direkte gevolg van die burgemeester se optrede is. Dit is geheel en al onaanvaarbaar en strook nie met die DA se toewyding vir ʼn skoon, oop en aanspreeklike regering nie,” lui die verklaring.

De Lille se beweerde oortredings, wat volgens die DA tot die OG se bevindings gelei het, word in die verklaring uiteengesit. Volgens die party sluit dit in swak gevolgebestuur vir senior bestuurders, swak leierskap en verswakking van vertrouensverhoudinge, die burgemeester se versuim om beamptes toe te laat om hul werk te doen en die kontroleprosedures van die reg en regulasies te volg en deurlopende verlies aan inkomste binne die vervoer en stedelike ontwikkelingsowerheid (TDA).

Die DA het spesifiek verwys na die bewerings rondom die beweerde onreëlmatige opgraderings by De Lille se huis. De Lille het vroeër ontken dat die opgraderings by haar huis onreëlmatig was en daar is gesê dié sekuriteitsopgraderings is gedoen kragtens ʼn risiko-assessering en ondersoek oor die veiligheid van die burgemeester deur ʼn spesiale eenheid van die SAPD.

“Die OG het in die openbaarmaking en notering van onreëlmatige uitgawes in die finansiële state egter bevind dat hierdie opgraderings wel onreëlmatig was – wat vorige uitsprake deur die burgemeester as blatant vals ontbloot het. Dit is doodgewoon onuithoudbaar vir ʼn burgemeester om haar party te mislei en nog te meer die mense van Kaapstad op so ʼn opsetlike en onverskoonbare manier.”

Die DA het gesê De Lille se versuim om die stad se reaksie op die voortslepende droogte in die provinsie korrek te bestuur en akkurate inligting te kommunikeer “het ʼn wesenlike rol gespeel in die huidige openbare paniek” en het ʼn “negatiewe impak gehad op die stad se reaksie op die krisis”.

“Sy het aktief inligting weerhou, beamptes mislei, begrotingsbesluite vertraag, ingemeng met projekplanne en gevolglik die uitrol van aanvullingsprojekte ondermyn. Sy het ook versuim om die nasionale regering te druk om sy wetlike verantwoordelikhede na te kom – ten koste van die inwoners van Kaapstad. Dit het op sig self ʼn massiewe bestuursrisiko veroorsaak.”

Die DA het gesê hy het voorheen ʼn beroep op die ANC gedoen om mosies van wantroue in pres. Jacob Zuma te ondersteun weens die ooglopende skade wat die president aan Suid-Afrika aangerig het en sy beweerde betrokkenheid by staatskaping.

“Dit is om hierdie selfde redes dat die federale uitvoerende komitee die koukus toestemming gegee het om ten gunste van die mosie van wantroue teen De Lille te stem. Ons het hierdie punt bereik weens die onuithoubare en verwoestende rol wat deur die burgemeester gespeel is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Eish ·

En as ’n koninkryk teen homself verdeeld is, kan daardie koninkryk nie bly staan nie; en as ’n huis teen homself verdeeld is, kan daardie huis nie bly staan nie;
MARKUS 3:24‭-‬25 AFR53
So val die helde. Tragies dat haar bewese rekord van aktivisme teen korrupsie so getaan moet word deur haar onlangse optrede.
Née wat, in politici het ek geen vertroue nie. Ek wag maar vir die wederkoms op Hom wat met n ysterstaf gaan regeer.

Gert ·

Ek hoop nie die Hom waarvoor jy sit en wag is Jesus nie. Hy het al in die selfde geslag wat Hom gekruisig het gekom om deur die mens te regeer. Hy sit nou aan die regterhand van Sy Vader, waar hy wag dat sy vyande ‘n voetbank vir Sy voete gemaak word. Waar lees jy die stukkie oor die ysterstaf?

nie polities ·

Nooit regtig ‘n oog vir politiek gehad nie maar wel vir dubbelstandaarde! Zuma agter die deur en nou moet DA (net omdat dit Kaapstad is) die prys betaal.

stefan ·

Ja nee Ore en ek weet van n hele paar mense wat ook hul kruisie op n ander plek gaan trek, beslis nie by die DA nie !!

Alida ·

Dit is nogal ‘n goeie eienskap van die DA om nie blind te wees vir hulle eie foute nie. Die ander partye beskerm mos gedurig hulle eie mense en kritiseer die DA net waar hulle kan. Kan maniere by hulle gaan leer.

LouE ·

Aan die begin was daar allerhande bewerings van knoeiery en geld wat verduister is. Toe kom die klagtes formeel uit en dis net vae beskrywings van swak bestuur. Dit lyk asof die DA probeer om haar uit die pad te kry. Sulke slegte metodes het altyd ‘n nadraai. Kierankies gaan braai!

Jaco ·

Nie die DA nie, did MM wat dit jag sodat hy kan koning kraai.

Hy gaan beslis nie my stem kry nie!

Arak ·

Ek is van mening dat Kaapstad se water krisis voorkom, of die impak ten minste verminder kon word, deur goeie beplanning en bestuur. Ongelukkig toon die geskiedenis dat sosialiste tipies nie in staat is om stede en lande suksesvol te bestuur nie. Nou dat Kaapstad amper by dag zero is, moet daar iemand gekry word om die blaam te dra, maar eintlik is die die hele DA wat moet pa staan vir hierdie gemors.

Anoniem ·

En die ware beeld van DA tree na vore… Veels geluk, julle is net nóg ‘n verdeelde, ruggraatlose party wat nie hul huis in orde kan hou nie. Totsiens DA! Vergeet maar van my stem! ;-)

Loeis ·

Wie dink julle gaan volgende jaar in Kaapstad sterker uit die stryd tree: ACDP, Kaapse Party of Vryheidsfront Plus?

Rupert Ashford ·

Mmm, ek weet nie. Dit is darem maar baie toevallig dat hulle so hard werk om de Lille en Zille ewe skielik in onguns te laat val terwyl hulle twee vir so lank die DA gedra het toe hulle ‘n hopelose, niksseggende klein partytjie was. En toe ewe skielik kom Mmusi op die toneel…

Alida ·

Almal wat so anti DA is stem dan maar vir die EFF en kyk wat gebeur.

Wiehan ·

Die DA en die ANC gaan een van die dae nie meer in die Weskaap reger nie want hulle gaan die wit en bruin steun aan die Cape Party afstaan. Dan gaan hulle die Weskaap onafhanklik verklaar. Trek dan dadelik terug na ons land!!! Cape Party bo!!!!

Rupert Ashford ·

Wie is die Cape Party? Het jy meningsopname ( opinion poll) uitslae wat kan staaf dat dit sal gebeur?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.