DA-onderstrominge blyk uit leierskapbenoemings

Mmusi Maimane, leier van die DA (Foto: Twitter via ANA)

Die onderstrominge en magsewewig binne die DA het duidelik geblyk toe die benoemings vir die party se leiersposisies vanoggend aangekondig is.

Meer as 2 000 afgevaardigdes sal die party se federale kongres op 7 en 8 April by die ou skougrond in Pretoria-Wes (deesdae bekend as die Tshwane Events Centre) bywoon.

Daar is net twee onbestrede posisies, maar dit is die twee prominentste posisies. Die DA-leier, Mmusi Maimane, sal onbestrede herkies word. Daarvoor bestaan twee op die oog af teenstrydige maar eintlik verwante redes, het vooraanstaande DA-lede aan Maroela Media gesê.

James Selfe, voorsitter van die DA se federale uitvoerende raad. Foto: ANA

Die eerste is dat Maimane homself ingeburger het as DA-leier en nou krediet kry daarvoor dat hy die DA in 2016 na hul beste uitslae ooit gelei het. Die tweede is dat dit in hierdie stadium – en dit is nog ver soontoe – lyk asof die DA in 2019 ʼn taamlike moeilike verkiesing kan beleef weens interne verdeeldheid en die wegval van die Zuma-faktor wat opposisiekiesers verenig en aangevuur het. Die leier sal die verantwoordelikheid vir die DA se vertoning in 2019 moet dra, en in hierdie stadium staan mense nie juis tou daarvoor nie.

Die ander onbestrede posisie is dié van James Selfe as voorsitter van die federale bestuur. Daar was tot onlangs baie planne dat hy teengestaan sou word, maar sedertdien het dit geblyk hoeveel oorweldigende steun hy geniet, wat beteken enige uitdager sou ʼn vernederende loesing op die lyf loop.

Die wedloop wat die meeste belangstelling gaande sal maak, is die stryd om die posisie van nasionale voorsitter. Die huidige nasionale voorsitter en burgemeester van Nelson Mandelabaai, Athol Trollip, is iemand wat sterk gevoelens by mense ontlok – dié van diepe lojaliteit aan die een kant, maar ook van teenstand en selfs afkeur aan die ander kant.

John Steenhuisen, hoofsweep van die DA. Foto: Twitter

Trollip word deur twee kandidate geopponeer: die burgemeester van Tshwane, Solly Msimanga, en die Vrystaatse voorsitter van die party, dr. Annelie Lotriet.

Drie vroueleiers sal meeding om die leierskap van die DA se vrouenetwerk, Dawn. Hulle is die Durbanse stadsraadslid Shehana Gabie, die Wes-Kaapse LUR vir gesondheid dr. Nomafrench Mbombo en die voormalige Oos-Kaapse DA-voorsitter, Veliswa Mvenya. Die Dawn-onderleierstryd is tussen Arlene Adams van die Wes-Kaap en Safiya Stanfley van die Noord-Kaap.

Een van die groot vrae is waar die naam van die DA-hoofsweep, John Steenhuisen, dan is. In sommige koerante is gespekuleer dat hy Selfe sou opponeer. Na wat betroubaar verneem word was dit nooit ʼn moontlikheid nie, maar Steenhuisen kan dit oorweeg om hom ná die 2019-verkiesing vir ʼn posisie in die nasionale leierskap beskikbaar te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Lukas van Zyl ·

My dae van stem vir hulle is elk geval verby so hulle kan stry soos hulle wil

Lolla ·

Gee n dooie duit om vir DA. Mag hulle n stille dood sterf en verdwyn met geen stemme.

Eish ·

Afgesien van die Zuma faktor wat weggeval het, dink ek daar gaan n uittog van blanke kiesers wees ten gunste van die party waar hul hoort.

Lerato ·

Lukas van Zyl, Lola, Bart, Eich.

Twee vrae.
As ek nie DA stem nie, vir wie moet ek dan stem?
Sal die party wat julle voorstel, telkens die ANC, hof toe sleep as die regering (ANC) droogmaak?

Jaco ·

Stem vir wie jy in glo, so maklik soos dit. Baie witmense glo Mmusi verkoop die DA uit en sal nie weer vir hom stem nie. Die bietjie swart stemme wat hy moes wen is terug na die ANC nou onder CR.

Dit help nie jy stem net vir die DA, want hulle is die opposisie nie, en dan val hulle plat met die 2019 verkiesing. Die DA is oppad uit, tyd vir `n nuwe rigting.

LB S ·

Wat julle nie wil verstaan is nie, as jy nie DA stem nie, gaan jou stem na die ANC. Ons het ‘n GROOT oppossissieparty nodig, MET koalisies om die ANC te kan uitlig. Hoe moeilik is DIT om te verstaan? Agterna kan al die kleinlikheid en onderonsies uitgesorteer word.

Lerato ·

Jaco
Kan jy die ” baie witmense” kwantifiseer?
1 % of 2 % ?
Die VF+ staan tans nasionaal op minder as 1 %

Dooie perd ·

Hulle gaan NOG ‘n groter verrassing kry as hulle besef die BLANKES wat vir hulle gestem het net ‘omdat hulle die sterkste opposisie is’ gaan ook hulle steun onttrek omdat die ene Mmusi hom nog nooit teen enige moord op ‘n wit boer of wit persoon in ‘n stad of dorp of ‘n wit kind wat WREED vermoor is uitgespreek het nie – maar wel by hofgeboue saam ronddans as’n boer sy werker ‘n klap gegee het .. neewat . Mmusi dink hy is so magtig . die oud ANC manne gaan almal weer terug Anc toe, die EFF Manne gaan lekker posisies in die ANC kry so hulle gaan saamsmelt en Mmusi gaan met ‘n klein groepie swart kiesers en ‘n handjievol wit kiesers wat nie weer vir wie om te stem nie sit .. CHEERS DA, julle gaan regtig niks uitrig nie .. Almal wat DA stem gaan dieselfde oorkom as die mense wat vir die NNP gestem het . ou kortbroek het almal se stemme GEMORS op ‘n dooie party ..

Lerato ·

Ou dooie perd
Ons probeer almal sangomas speel en die toekoms voorspel. Hiers myne.
ANC gaan steun wen omdat Cyril die sg ” clever blacks” wat Zuma verjaag het, weer gaan terugkom ANC toe.
Die DA gaan effens steun verloor, afhangende van Cope se verhoogde of verlaagde steun. Sal nog steeds die amptelike opposisie bly.
Die ANC en EFF sal nie saamsmelt nie. Die ANC gaan verhoogde steun kry en gaan nie die EFF nodig hê nie.

Boet Fasie ·

Die DA gaan in groot getalle lede en stemme verloor. Dit is in die binne gevegte om posisies waar die DA sy lede se respek verloor. Ek sal nie weer DA stem nie en glo my daar is baie DA lede wat so voel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.