DA: ‘Ons steun nie vir Lesufi’; eis sy afdanking

Panyaza Lesufi. Foto: Mia Slabbert

“Dit is hoog tyd dat Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, die deur gewys word aangesien dit nou meer as tevore duidelik is dat hy nie in staat is om die departement te lei nie.”

Só sê Khume Ramulifho, die DA in Gauteng se skaduminister vir onderwys. Volgens Ramulifho is hy verkeerd aangehaal in ʼn artikel wat op 26 November in Citizen verskyn het met die opskrif: “DA verdedig die LUR vir onderwys in Gauteng, Lesufi”.

“Dit kan nie verder van die waarheid wees nie, aangesien my kommentaar buite konteks aangehaal is.

“Dit is belangrik om daarop te let dat as daar van onreëlmatige uitgawes gepraat word, dit nie outomaties beteken dat dit ooreenstem met korrupsie nie. En dit is die punt wat ek in my onderhoud gemaak het.”

Volgens Ramulifho is ʼn voorbeeld van onreëlmatige uitgawes wanneer ʼn skool ekstra benodigdhede, soos lessenaars en stoele aankoop sonder dat daarvoor begroot is.

“Hierdie aankoop sou die tesourie-regulasies oortree en as onreëlmatige uitgawes geklassifiseer word, maar dit beteken nie noodwendig korrupsie nie, tensy ʼn ondersoek bewys dat korrupsie by die onreëlmatige uitgawes betrokke was.”

Ramulifho het gesê die DA is om dié rede nie ʼn aansoeker in AfriForum se regstappe teen Lesufi vir hierdie onreëlmatige uitgawes nie.

“As verkose lede van die Gautengse provinsiale wetgewer is dit ons plig om die besteding van openbare geld na te gaan en sal ons die nodige wetgewende meganismes tot ons beskikking gebruik.”

Lesufi is egter g’n engel nie, sê Ramulifho en voeg by dat die DA dringend David Makhura, premier van Gauteng, sal nader en versoek dat Lesufi afgedank word.

Volgens Ramulifho het onder meer die volgende tydens Lesufi se bewind plaasgevind: Baie skole het infrastruktuur wat in ʼn vervalle toestand is en wat dringend onderhoud nodig het. Daar is ook ʼn tekort aan klaskamers, wat lei tot oorbevolking en die LUR het nie daarin geslaag om asbesskole in die provinsie uit te wis nie. Hy belowe voortdurend om asbesskole te vervang, maar tot dusver het dit nog nie gerealiseer nie. Die veiligheid van leerders en die skole se bates word nou al ʼn ruk bedreig, maar die LUR versuim om voldoende veiligheidsmaatreëls in werking te stel. Ons skole het in oorlogsones verander met leerders wat wapens na skole neem. Boonop kon die departement in die 2018/19-boekjaar nie daarin slaag om bykans R1 miljard te bestee nie.

“Lesufi het nie die politieke wil wat nodig is om die veranderinge waaroor hy die afgelope ses jaar gepraat het te implementeer nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Feite ·

Mense sal moet begin besef dat daar net soos die georkestreerde ANC/eff en hulle meelopers aanslag teen witmense, daar ook georkestreerde aanslae (dirtypoliticstricks) van links en regs teen die DA as die hoofopposisie geloods word. Die DA was siek agv die eksterne en interne georkestreerde aanslae wat te wagte was met die ANC/eff wat lede vir ontwrigtings taktiek na die DA ontplooi het, en daar is nog van daardie lede aanwesig, maar die DA is besig om dit uit te sorteer. Moet dus nie fopnuus glo voordat die DA kans gekry het om kommentaar te lewer en dit geld natuurlik ook vir die ander partye. Om die DA te skop terwyl die DA le gaan net partye bevoordeel wat skuldig is aan “dirty politics tricks” en ons sien reeds in watter toestand dit SA laat!

Arak ·

Ek hoor wat jy sê, maar ongelukkig leef ek onder ‘n DA beheerde stadsraad (Pretoria) en ek kan vir jou sê dat daar bitter min verander het van die ANC na die DA; ek dink net my erfbelasting het verdubbel.

Die DA was nog nooit aan die Afrikaner se kant nie, en het altyd voor verkiesings hulle vrees veldtogte geloods van, “As jy nie vir ons stem nie, stem jy eintlik vir die ANC”. Nou, as die tipe veldtog nie die toonbeeld van “dirtypoliticstricks” is nie, weet ek nie. Die DA probeer nou voorgee hulle is ‘n party met integriteit, maar ongelukkig het hulle aksies in die verlede die teendeel getoon.

Laastens wil ek ook graag weet waar kom hulle fondse vandaan, want baie fopnuus suggereer dat George Soros hulle befonds; die DA was een van die organisasies wat hard geveg het om te keer dat die publiek kan uitvind waar hulle fondse vandaan kom. Sou dit wel die geval wees, hoe kan enige mens dan nog die party vertrou?

Gert du Plessis ·

Hard to trust honesty of an inconsistent political party…

AndrewL ·

Die DA spring nou rond soos ‘n kat op ‘n warm plaat. Kyk eers na die prys wat betaal is vir die “onbeplande uitgawes” voor dit nie as misdaad beskryf word nie.

Judge Dredd ·

Ja DA – Lesufi het gefaal die laaste 6 jaar.

So hoekom dan as ek ‘n vinnige google soek doen: DA scores for Lesufi 2017.

Dan sien ek die volgende plasings?:

– Lesufi gets highest scores in DA’s 2016 cabinet scores.
– DA has high praise for Gauteng Education MEC Lesufi – artikel 08 Desember 2017
– DA gives Lesufi a 75% mark – 07 Desember 2018

DA julle is bedrieers !!

Hans ·

Ag hy is net behep om Afrikaans uit te wis, niks anders het enige belang by die ou nie!!!

Feite ·

Sonder n verdraagsame, versoenende buffer tussen linkse sosiale ideologie en regse nasionalisme ideologie is die kanse te groot dat SA in anargie gedompel kan word. Dit is daarom uiters noodsaaklik dat die DA as buffer tussen die ideologiee moet bly voortbestaan. Die voorstanders van anargie sal uiteraard alles in hulle vermoe probeer om die buffer te probeer verwyder. Verstandige anti rewolusionere kiesers sal dus plaaslik vir die VF stem, maar nasionaal vir die DA in die volgende verkiesing!

Opgewonde ·

Ek ondersteun enige een wat dit regkry om van ou “L” ontslae te raak. In los die DA, hulle moet nou weer hard werk vir aanvaarding en hulle gaan nog baie mense verkeerd bewys.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.