DA ontken ‘koalisie’ met ANC

John Steenhuisen, leier van die DA. (Foto: Twitter)

Die DA het ʼn klag by die Persombudsman ingedien in reaksie op ʼn berig in die Sunday Times wat volgens die amptelike opposisie die indruk probeer wek dat die DA ontvanklik is vir ʼn koalisie-ooreenkoms met die ANC.

“Dit is nooit so in die onderhoud gestel nie en is ʼn wanvoorstelling van die DA se standpunt oor die kwessie,” het Natasha Mazzone, DA-hoofsweep, Maandag gesê.

Die DA sê twee sinne dra spesifiek tot hierdie wanvoorstelling by: Een daarvan was ʼn verdraaiing van wat DA-leier John Steenhuisen in die onderhoud gesê het en die ander sin was bloot onwaar. “In die belang van billike en akkurate verslaggewing het ons die ombudsman gevra om die Sunday Times te dwing om die berig te herroep en ʼn regstelling te plaas.”

Luidens die berig het Steenhuisen “die deur geopen vir ʼn moontlike koalisie met die ANC, sou daar ʼn dooiepunt in die 2024-verkiesing bereik word, maar nét as pres. Cyril Ramaphosa steeds die leier [van die ANC] is”.

Mazzone sê dit is nié wat Steenhuisen gesê het nie. Die DA het ook ʼn volledige opname van die onderhoud bekend gestel.

Sy sê toe Steenhuisen verwys het na die moontlikheid van samewerking met die ANC, het hy geensins na koalisies verwys nie. “Hy het gepraat daarvan om uit te reik na hervormers in die party wat ten gunste is van ʼn pro-groei-agenda en om hul steun te werf vir ʼn hervormingsagenda wanneer dit in die parlement ter tafel gelê word.”

Mazzone sê Steenhuisen het verwys na die behoefte vir mense wat ten gunste van groei, hervorming en die Grondwet is om met mekaar te begin praat en dat ʼn sterk party in die middel hiervan – met ander woorde die DA – ʼn goeie bondgenoot is vir ʼn hervormingsagenda in die ANC.

“Dit is nie dieselfde as om aan te voer die DA is bereid om ʼn koalisie met die ANC aan te gaan nie en dit is iets wat die Sunday Times moet regstel.”

Sy verwys ook na die sin in die berig dat Steenhuisen se standpunt ʼn beduidende vertrek is vir die DA wat lank reeds gekant is teen enige samewerking met die ANC.

“Dit is bloot nie waar nie.”

Mazzone sê die DA het onder Steenhuisen se leierskap en dié van sy voorganger, Mmusi Maimane, herhaaldelik uitgereik na hervormers in die ANC, asook gestreef na samewerking met diegene in die regerende party wat die DA se waardes en visie vir Suid-Afrika deel.

Maimane het vroeër gesê hy is bereid om met alle partye saam te werk wat die doelwit deel om die land te red.

Mazzone sê die idee om politiek só te hergroepeer om ʼn nuwe meerderheid rondom gedeelde waarde te bou, is lank reeds die DA se boodskap. Sy sê die bewering in die Sunday Times-artikel dat die DA gekant is teen enige sulke samewerking is onwaar en wil die indruk wek dat dit onder Steenhuisen se leierskap verander het. Sy sê dít moet ook reggestel word.

“Uit die opname van die onderhoud is dit duidelik dat Steenhuisen se antwoorde nie akkuraat weerspieël word in hierdie gedeelte van die berig nie. Sy antwoorde lui dat die DA van plan is om die sterk party te wees in ʼn herskikte meerderheid wat op gedeelde waardes gevestig is.

“Dit wil die skans wees teen die oorkruiping van die radikale linkse groep in die gedaante van die ANC se radikale ekonomiese transformasie-faksie en die EFF wat reeds met hul terugvegpoging begin het.

“Dit moet ʼn stem gee aan diegene wat uitgesluit en gemarginaliseer is en ʼn einde maak aan die ekonomie van binne- en buitestanders. Dit het ook geen bedoeling om een faksie van die ANC bo ʼn ander te versterk nie,” sê Mazzone.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Anel ·

Waar daar ‘n rokie is, is daar altyd’ ‘n vuurtjie. Geen politiekeparty kan in hierdie land meer vertrou word nie.

Rentia ·

So TV nuus het jou ook “verkeerd verstaan”?

Word wakker John! Jou eie woorde byt jou bas nou, jy moet maar maaitjies maak met die ANC soos jy graag wil. CR of nie – JY het dit gesê, dis nie “misverstaan” nie en nie “verdraai” nie. JOU woorde, JOU gevolge.

Johanncb ·

Miskien moes Mnr Steenhuisen homself beter verwoord het.

Jannie van Niekerk ·

Uitreik na die ANC en moontlike samewerking met die ANC is ‘n sinoniem vir koalisie met die ANC

Genis ·

So if can’t beat them join them? Is dit wat die DA se nuwe lese gaan wees?

Hennie J ·

Ek glo die ouens moet nou keer vir hulle wickets, maar dit gebeur as jy dink ,en probeer se, dat jy allerwys is. As jy oral mis strooi sal jy noodgedwonge daarin trap!
Een ligstraal…………die VF Plus is op pad!

JohanR ·

Hoekom wil enige iemand met die Sunday Times enigeiets te doen he. Dit is ‘n gemors koerant wat al hoeveel stories verdraai het. Ons dink maar hier aan Johan Booysen en die Cato Manor Death Squad, wat in die einde alles lieg stories was, maar hulle het baie se lewens verwoes met die storie. Ek koop hier in die Kaap die Burger, in Gauteng a leng die Beeld, en op ‘n Sondag koop ek Rapport. Hier in die Kaap het die Argus en die Cape Times net ANC spreekbuise geword.

Cherokee ·

Dit klink asof jy die DA verdedig. Niks kan die feit wegredeneer dat DA-kiesers liberaliste is wat vir regstellende aksie stem terwyl hulle dit in gesprekke aanval.

Thea ·

Dit wil vir my voorkom of die DA soms uit twee monde praat…

annie ·

Dis darem nou net te veel van stroperige stories oor samewerkings en handevattery met die rewolusionère bende wat nog nooit van sy kaderagtige kommunistiese kadense afgesien het nie, Almal wil nou net help. Waarmee? Al woord wat die ANC verstaan is: Geld… gespel, Money.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.