DA ontken LP is ‘aangestel’, nie ‘verkies’ nie

Natasha Mazzone, DA-LP en adjunkvoorsitter van die DA se federale kongres (Foto: Natasha Mazzone, Twitter)

Die Demokratiese Alliansie het ʼn berig in die Sunday Times verwerp dat DA-LP Natasha Mazzone as een van twee adjunkvoorsitters van die party se federale raad “aangestel” en nie “verkies” is nie.

“Me Mazzone is deur die federale raad, die party se hoogste besluitnemingsliggaam, verkies. Verwarring oor die saak spruit waarskynlik daaruit dat slegs een adjunkvoorsitter deur die federale kongres aangekondig is,” het James Selfe, voorsitter van die DA se federale raad, Sondag gesê.

Tydens die kongres op 7 en 8 April het die kongres besluit om artikel 6.2.4.1 van die federale grondwet te wysig, dat twee persone as adjunkvoorsitters in die raad kan dien. Kragtens ʼn ander artikel van die federale grondwet moet hierdie ampsdraers tydens die federale kongres verkies word, het hy verduidelik.

Die raad het op 6 April besluit dat die stemmery in dié verkiesing eers op Sondag, 8 April sou plaasvind, onderhewig aan goedkeuring deur die kongres dat twee adjunkvoorsitters verkies mag word. Dit beteken dat die twee adjunkvoorsitters van die raad verkies sou word as die kongres dié wysiging aan die federale grondwet sou goedkeur.

Anchen Dreyer, hoof verkiesingsbeampte van die DA se federale kongres, het Donderdag in ʼn verklaring bevestig dat die kongres op 7 en 8 April artikel 6.2.4.1 gewysig het dat twee lede as adjunkvoorsitters kan dien. Kragtens die federale grondwet moet dié ampsdraers tydens die federale kongres verkies word.

“Die saak is na die federale regskommissie (FLC) geneem, ʼn struktuur in die party wat die federale grondwet kan interpreteer en kan besluit oor die wettigheid van enige vergadering, opdrag, verkiesing of resolusie deur enige ander struktuur in die party. Die FLC het bepaal dat ‘die posisie van ʼn tweede adjunkvoorsitter van die federale raad gevul moet word deur die stemmery wat op 8 April 2018 tydens die federale kongres plaasgevind het’,” het Dreyer verduidelik.

“Ek wil gevolglik me Natasha Mazzone LP gelukwens met haar verkiesing as adjunkvoorsitter van die federale raad,” het Dreyer gesê.

Mazzone dien al 20 jaar in die leierskapstrukture van die party. Sy is in 1997 verkies as voorsitter van die destydse Demokratiese Party se jeugtak aan die Universiteit van Pretoria. Sy is in Mei 2009 aangestel as lid van die parlement en dien as die DA se skaduminister van openbare ondernemings sedert Februarie 2012.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Colleen ·

Hoekom ‘n kabaal opskop. Hierdie vrou veg vir reg en geregtigheid.

Hennie ·

Colleen jy sal nog leer dat dit nie gaan oor geregtigheid nie, dit gaan wel oor ‘n magsbeheptheid en geld. Almal wil in ‘n posisie wees en as jy dit nie het nie, probeer jy daardie persoon wie die posisie het op allerlei wyses verwyder sodat jy dit kan kry met die salaris wat daarmee gepaard gaan.

marous ·

Sy is ‘n doring in die vlees vir diegene wat alles met eish! wil verantwoord…

JANEE ·

Ai die DA val so uitmekaar ….ek kry die idee dat die kiesers nie meer belangrik is vir die party nie ,en defnetief ook nie vir die vooruitgang van ons mense nie …”elke ou vir hom self en die duiwel vir die res”

Oom Kalahari ·

Me Natasha Mazzone, jy is ‘n doring in die vlees vir vele en jy het ‘n sterk karakter tot geregtigheid. Soos Mnr Trollip is jy wit en as koalisie met agent Julius se EFF soek hy geensins blanke verteenwoordiging nie. Jy kan wel ‘n groot rol speel en waardevol wees vir VF+.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.