DA onttrek uit Limpopo-munisipaliteit

Mokopane Foto: nightjartravel.com

Mokopane Foto: nightjartravel.com

Die Demokratiese Alliansie het besluit om uit alle politieke aktiwiteit in die Mogalakwena-munisipaliteit in Limpopo te onttrek.

“Die ANC se politieke gekibbel en onstabiliteit in die munisipaliteit het daartoe gelei dat alle basiese dienste opgeskort is,” het David Phokela, DA-raadslid, in ʼn verklaring gesê.

Die polisie het vroeër vandeesmaand nege voormalige raadslede uit die gebou begelei en die DA se polisiewoordvoerder, Dianne Kohler Barnard, het dit as ʼn “staatsgreep” by die munisipaliteit beskryf.

Die polisie in Limpopo het egter gesê die nege persone was onsuksesvol in ʼn aansoek in ʼn hoë hof oor hul afdankings, maar het geweier om die perseel te verlaat.

Die ANC het op 22 Augustus gesê sy nasionale dissiplinêre komitee (NDC) het 22 raadslede van die Mogalakwena-munisipaliteit se aansoek om hul skorsing uit die party te hersien, van die hand gewys. Hulle is geskors na berigte dat hulle in April ʼn raadsvergadering met opposisiepartye bygewoon het waar besprekings gehou is om die burgemeester, hoofsweep en sommige lede van die uitvoerende komitee te verwyder.

Die ANC het vandeesweek in die munisipale verkiesing al 13 wyke in Mogalakwena gewen ná die skorsings.

Phokela het gesê die DA sal sy politieke aktiwiteit in die munisipaliteit hervat sodra die situasie genormaliseer het. “Ons kan nie bekostig om in die middel van ʼn politieke twis vasgevang te raak of misbruik te word deur politieke partye om hul stryd te stry nie,” het hy gesê.

DA-raadslede in die gebied sal steeds hul dienste aan kiesers bied en enige kwessies van inwoners aanspreek.

Die Mogalakwena-munisipaliteit is in die Waterberg-distrik geleë en sy setel is in Mokopane (Potgietersrus).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

boesman ·

Die woorde “sirkus” en “absurd” kry elke keer n nuwe mening wanneer die ANC betrokke is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.