DA ontvang De Lille se voorleggings

Patricia de Lille. Argieffoto: Werner Beukes/SAPA

Die DA het Woensdag gesê die party sal Patricia de Lille se voorleggings oorweeg oor hoekom sy nie moet bedank nie.

Dit volg nadat De Lille haar verlede week ʼn mosie van wantroue op die lyf geloop het toe die meeste raadslede in die DA se Stad Kaapstad-koukus ten gunste van die mosie teen haar gestem het. De Lille is daarna geleentheid gebied om voorleggings in te dien oor hoekom sy nie uit haar pos as burgemeester van Kaapstad moet bedank nie.

Natasha Mazzone, die DA se adjunkvoorsitter van die federale raad, het Woensdag gesê die federale raad het nou De Lille se voorleggings ontvang. Die raad sal dit oorweeg en ʼn besluit daaroor neem. “Ons neem kennis dat me. De Lille gekies het om haar voorleggings openbaar te maak en sal nie toelaat dat dit die prosedure van die federale raad enigsins beïnvloed nie. Dit is belangrik dat hierdie proses waartydens die voorleggings oorweeg word nie aangejaag word nie en dat die federale raad kans kry om behoorlik en op regverdige wyse oor die saak na te dink.”

Sy het gesê die DA se optrede sal verseker dat die mense van Kaapstad eerste gestel word. Dit sluit in “om diegene te verwyder wat nie voldoen aan die hoë standaarde van ʼn skoon en doeltreffende regering wat die DA verwag nie”.

Op 26 April het die beleërde Kaapstadse burgemeester gesê sy sal aanhou baklei selfs nadat die Kaapstad-DA-koukus se mosie van wantroue in haar geslaag het. Sy het kort ná die uitslag van die stemproses in ʼn twiet op haar amptelike Twitter-profiel geskryf: “Volgende ronde. Kom ons gaan!” Sy het ʼn video hierby geplaas waarin sy bokshandskoene dra en haar stryd met die DA as ʼn boksgeveg bestempel.

“Hierdie stryd wat ek met die DA voer, is soos ʼn boksgeveg – jy wen een ronde, jy verloor een ronde. Maar op die ou end is dit belangrik wie die kishou gaan toedien,” het sy gesê en met haar regterhand in die lug geboks.

De Lille het kort daarna in ʼn verklaring bevestig die meeste DA-raadslede in Kaapstad het gestem dat die mosie teen haar moet slaag. “Die mosie is op grond van verskeie beweegredes ingestel, wat ek almal betwis, en waaroor ek die raadslede vandag gevra het vir voorbeelde waar ek die raadslede se gedragskode, die DA se grondwet of die voorwaardes van my skorsing oortree het,” het sy gesê.

“Ek het ook voorbeelde versoek waar ek stellings gemaak het wat die party in ʼn swak lig kon stel nadat ek beklemtoon het dat elke persoonlike uitlating oor die bewerings teen my in reaksie op uitlatings van ander DA-lede was.”

De Lille noem in die verklaring dat dit nie regverdig sal wees dat haar naam en integriteit skade ly, maar sy nie toegelaat word om haarself in die openbaar te verdedig nie.

Altesaam 97 DA-raadslede het vir die mosie van wantroue gestem, 41 daarteen, daar was een bedorwe stembrief en 15 raadslede was afwesig.

De Lille is vroeër deur haar party aangekla van wangedrag, omkopery en korrupsie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Gatvol ·

Wag nog vir MM en sy kader om n klagte van korrupsie en omkopery by SAPS in te dien. Sien is glo!!!

Kannaland ·

Waarom word mense heeltyd geleentheid gegee om te verduidelik waarom hulle nie in die pad gesteek moet word nie. As iemand skuldig is, dank net af.

Sophia ·

Die DA soek De Lille uit omdat hulle hulle eie agendas het en ook net omdat hulle dit nie vroeër kon regkry nie wil hulle nou ‘n punt bewys. En hulle sal haar lewe ‘n hel maak indien sy wel sou bly. Sies man!!

Inus Bester ·

Die DA en Helen Zille het die naam “Patricia de Lille” net misbruik om die Bruin stemme te kry. Noudat die DA kwansuis goed presteer, het hulle haar nie meer nodig nie. Patrica weer, was in ekstase toe Helen Zille haar en die OD destyds vra om by die DA aan te sluit. Dit was ‘n reddingsboei vir De Lille se eie politieke toekoms.
Ek het al met De Lille te doen gehad op politieke vlak. By haar gaan dit oor niemand anders nie as PATRICIA DE LILLE. En selfs in haar hart was sy nog nooit ‘n DA nie – sy is uit en uit ‘n PAC (die party wat sy verlaat het om die OD te stig).
Maar, hoewel ek nie ‘n Patricia-“fan” is nie, is dit so duidelik soos daglig dat die DA alles in sy vermoë sal doen om van haar ontslae te raak. In dié opsig ken ek ook die DA met wie ek in koalisie was. Wanneer die DA jou nie meer nodig het nie, sal hulle jou beswadder sodat niemand meer aan jou wil raak nie – want die dom wit mense aanbid mos die DA. Hoe kan die DA dus verkeerd wees? (Byna soos die wittes destyds die NP aanbid het – en toe?).
Ek kry werklik vir Patricia jammer, maar dan weer… elke hond kry sy dag (met verwysing na Patricia/OD se slinkse optrede destyds in Saldanhabaai).

Iché ·

Wens die DA wil die heksejag op hul eie kaders staak
en op dienslewering en die komende verkiesing konsentreer.
Kyk,ek verstaan dit kan nie maklik vir hul wees nie,
( in ag genome die duidelike sabotasie wat plaasvind van ander partye en werkers wat skielik onder DA bewind moet werk).
Gee die DA die krediet waar dit toekom. Maar ai, daar is soveel onderstrominge in die Party ! Die bestes ( in hul veld) word
aangeval /vervolg, of “verdwyn” net skielik van die toneel af.
Kyk maar na Zille, Lindiwe Mazibuku, Phumzile van Damme ,
de Lille. Om ‘n paar te noem.
Almal het fenomenale breine al het mens nie altyd saamgestem met
sommige van hul se uitgesprokenheid en uitlatings nie.
Wie gaan eventueel oorbly in die DA?
MM en Natasha Mazzone?

Johann du Toit ·

As jy nie konflik in ‘n afdeling kan hanteer nie weet ek nie hoe iemand dink hy of sy ‘n stad sal kan bestuur nie, wat nog te sê ‘n land. Los nou die najaag van skinderstories en aantygings waarvoor julle tot nou toe nog geen oortuigende bewyse voorgelê het nie en doen vir ‘n slag julle werk. Aanvaar miskien nou maar enige “baas” is nie altyd “nice” nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.