DA ook deel van regstappe oor rasteikens

(Argieffoto: Unsplash)

Die DA gaan aansluit by Solidariteit se regstappe om wetgewing te beveg wat “drakoniese rassemagte” aan die minister van arbeid en indiensneming sal gee.

Dr. Michael Cardo, die DA se woordvoerder oor indiensneming en arbeid, sê die amptelike opposisie gaan deel wees van Solidariteit se regstryd oor die nuwe Wet op Diensbillikheid wat pres. Cyril Ramaphosa Woensdag bekragtig het.

“Die DA is ferm in sy ondersteuning van die beginsel van nierassigheid en verwerp enige kategorisering van Suid-Afrikaners volgens ras,” sê hy.

“Hierdie wetgewing versterk slegs die rassekategorieë van die verlede, eerder as om broodnodige ekonomiese groei en werkskepping te bevorder.”

Solidariteit het reeds in Augustus aan die president geskryf en daarop gewys dat die wysigings aan die wetgewing volgens die organisasie ongrondwetlik is.

Die wetgewing sal wye magte aan die minister verleen om numeriese rasgebaseerde indiensnemingsteikens oor verskillende sektore en streke te stel. Dit sal verder vereis dat nakomingsertifikate deur die minister uitgereik word wanneer daar sake met die staat gedoen wil word.

“Dit sal ondoeltreffendheid verhoog en verdere onnodige rompslomp veroorsaak vir diegene wat sake in Suid-Afrika wil doen,” sê Cardo.

“Hierdie wetgewing sal nie transformasie in die werkplek teweegbring soos dit voorgee nie. Dit sal pleks daarvan die meerderheid Suid-Afrikaners verder verarm, terwyl ʼn paar polities gekoppelde individue verryk word soos onder die beleid van swart ekonomiese bemagtiging (BBBEE).”

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het Ramaphosa vroeër gemaan dat regstappe sal volg as die wysigings bekragtig word. Solidariteit het dus reeds begin voorberei vir litigasie en het aangedui dat hy sy hofstukke binnekort sal beteken.

Volgens Cardo is die DA teleurgesteld dat die wysigings deurgevoer is, maar dit is wel te wagte van ʼn regering wat “obsessief is met sentrale rassebeplanning”.

“Verdere rasgebaseerde inmenging deur die regering in die ekonomie en private ondernemings sal net lei tot minder beleggings in Suid-Afrika, ʼn daling in ekonomiese groei en hoë werkloosheid landwyd,” sê hy.

“Daarom ondersteun die DA Solidariteit se regstappe om hierdie ongrondwetlike rasgebaseerde wetgewing in sy spore te stuit.”

Sakeliga is ook besig om litigasie voor te berei rakende die Wysigingswetsontwerp op Diensbillikheid en sê hy sal ook met ander organisasies skakel wat dit doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Althes ·

Die wêreld is keelvol vir raspolitiekery, daarom is dit verblydend dat al hoe meer partye en drukgroepe saamstaan.
Rasklassifikasie is ñ onreg wat nie meer hoort by die wêreldnorme nie. Dit skend die reg op die jeug se vooruitsigte om werk te kry, gekeur te word vir ñ studierigting en volwaardig te voel.

Elizabeth ·

Is dit deur Ramaphosa blindelings afgeteken om steun te werf vir 2024?

Harley Davidson ·

Die hele wêreld moet betrokke raak want hierdie is omgekeerde apartheid wat verklaar is as ‘n misdaad teen mense.Die media moet meer media tyd gee aan hierdie euwel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.