DA oorhandig KPMG-verklaring aan Valke vir ondersoek

KPMG-twitter

Foto: @SADN_Diaspora/Twitter.com

Die Demokratiese Alliansie het KPMG Internasionaal se verklaring aan die Valke oorhandig om hulle by te staan met hul voortgesette ondersoek oor die omstrede Gupta-familie.

Die DA het die ondersoek oor die werk wat KPMG Internasionaal namens die Gupta-familie gedoen het, verwelkom, het David Maynier, woordvoerder van die DA, Sondag gesê. Dit het daartoe gelei dat sewe senior beamptes van KPMG Suid-Afrika bedank het.

“Die ondersoek oor die oudits van Gupta-maatskappye, insluitend Linkway Trading (Edms) Bpk, ʼn Suid-Afrikaanse maatskappy wat deur die Guptas bestuur word wat na bewering betrokke was in belastingontduiking, het bepaal dat die ‘bestuur van talle Gupta-maatskappye misleidend en onvoldoende reageer het op die ouditspanne se navrae oor die aard van die betrokke party se verhoudings en beduidende ongewone transaksies.”

Maynier het gesê dit beteken dat KPMG Internasionaal, en KPMG SA, moontlik oor inligting beskik wat noodsaaklik is vir die Valke se ondersoek oor die minister van minerale hulpbronne Mosebenzi Zwane, Atul Gupta, Ajay Gupta, Rajesh Gupta, Ronica Ragavan en Kamal Vasram oor beweerde geldwassery; dat hulle mekaar bygestaan het om voordeel te trek uit die opbrengs van onwettige aktiwiteite; die aanskaf, besit of gebruik van opbrengs uit onwettige aktiwiteit kragtens die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde misdaad; en dat hulle vervalste belastingopgawes ingedien het.

Die ondersoek volg nadat Maynier op 3 Julie 2017 strafregtelike klagtes aanhangig gemaak het nadat dit aan die lig gekom het dat publieke geld wat aangewend moes word om armes by te staan, na bewering deur ʼn komplekse web van maatskappye gewas is en in 2013 gebruik is om vir Vega Gupta en Aakash Jahajgarhia se luukse troue van ongeveer R30 miljoen by Sun City te betaal.

“Ek het ʼn afskrif van KPMG Internasionaal se persverklaring, wat op 15 September 2017 vrygestel is, aan genl.maj. Zinhle Mnonopi [hoof van die Valke se ernstigekorrupsie-ondersoeke] oorhandig. Dit sal moontlik hul ondersoek kan bystaan.”

Maynier het gesê dit is moontlik dat voormalige minister van finansies Pravin Gordhan regstappe teen KPMG SA kan doen vir die maatskappy se rol in die forensiese oudit oor ʼn sogenaamde “rogue”-eenheid. Gordhan het die aankondiging deur KPMG SA verwelkom dat hy sy SAID-verslag wat hy namens die Gupta-familie gedoen het, gaan terugtrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

James ·

Is die Valke se oe en snawels skerper as die van n baba mossie….?

Paul ·

Kan iemand asb vir my sê wat word van al die verklarings wat so ingedien word by die Valke en Polisie deur verskeie organisasies want ek het nog nooit gehoor van enige optrede of vervolging wat daaruit voortvloei nie. Is hierdie sake wat so ingedien word net oëverblindery of wat?

Eish ·

Belaglik, wat van die 3000 mense wat daar werk? Bestuur moet toegesluit word dis wat. Wat wel moet val is Zuma en sy croonies wat die land in uiterste korrupte chaos gedompel het. KPMG gaan n baie duur prys betaal want die kliënte gaan verseker stelselmatig onttrek. Dis bykans ondenkbaar dat die Gupta’s nog nie padgevat het nie. Geen bank wil met hul sake doen nie, en ouditeure wil nie met n tang aan hul vat nie. Ek weet waaragtig nie hie gaan die klomp hul belastingopgawe die jaar voltooi nie. Maar, daar sal seker weer vir hul gesore worre deur Duduzani se pappie.

Alida ·

Hoekom kry ek die Pravin Gordhan is onskuldig? Zume behoort hom dan onmiddellik weer terug te plaas as min van finansies.

jaco ·

as ek so na die lys name kyk van die mense wat skielik weg is by KPMG, dan is die meerderheid wit. Met ander woorde, die “wit monopolie kapitaal” wat glo amper altyd gebruik word om swart mense uit te buit, is lekker gebruik tot voordeel van mense wat gewoonlik sulke lelike goed teen wit mense en wit kapitaal sê.
Dis mos dubbele standaarde…

Buitestander ·

Die edele broepe het toe ook maar voete van klei as dit by geld kom.
Hoe stel ons dit reg? Betaal ‘n paar miljoen terug en alles is weer in orde.

Alida ·

Pravin Gordhan behoort teruggeplaas te word as minister van finansies. Hy hou tenminste die beursie toe !!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.