DA oorweeg regstappe teen Zuma oor al-Basjir

President Jacob Zuma en president Omar al-Basjir in Soedan (31/01/2015) Foto: Departement van kommunikasie

President Jacob Zuma en president Omar al-Basjir in Soedan (31/01/2015) Foto: Departement van kommunikasie

Die Demokratiese Alliansie het Dinsdag gesê hy oorweeg regstappe teen pres. Jacob Zuma en sy kabinet oor die omstrede kwessie van die Soedannese president Omar al-Basjir se besoek aan die land.

Die party het reageer ná die hoogste hof van appèl bevind het die Suid-Afrikaanse regering het die grondwet oortree toe hy versuim het om al-Basjir in hegtenis te neem tydens sy besoek aan die land. Die DA het gesê die saak het ʼn “internasionale verleentheid” veroorsaak.

Al-Basjir, wat Suid-Afrika in Junie besoek het om die Afrika-Unie-beraad by te woon, word gesoek deur die Internasionale Strafhof vir misdade teen die mensdom in sy land. Die Strafhof het Suid-Afrika versoek om al-Basjir in hegtenis te neem, maar die regering het gesê hy was ʼn gas van die AU en beskerm deur immuniteit as ʼn staatshoof.

Die Southern African Litigation Centre (SALC) het die saak na die hof geneem en ʼn beslissing bekom wat die Suid-Afrikaanse regering verplig het om al-Basjir in hegtenis te neem, maar die regering het hom toegelaat om die land te verlaat. Die Suid-Afrikaanse regering het verlede maand appèl aangeteken teen die hooggeregshof se uitspraak dat sy aanvaarding van die Statuut van Rome hom wettig verplig het om al-Basjir in hegtenis te neem sodra hy die land betree.

Die DA het Dinsdag gesê dit is ʼn verleentheid wanneer “ons regering sy [al-Basjir] vertrek uit die land verseker het ondanks plaaslike en internasionale wette wat hulle verhinder het om dit te doen”.

“In die lig van dié aanklag op die regering sal die DA oorweeg om ʼn klag van minagting van die hof te bekom teen pres. Jacob Zuma en sy kabinet en ander wat gehelp het dat ʼn internasionaal gesoekte oorlogsmisdadiger uit die land gevlug het,” het adv. Glynnis Breytenbach, die party se skaduminister van justisie, in ʼn verklaring gesê. “Pres. Zuma, as die beskermheer van ons grondwetlike demokrasie, ondersteun deur sy kabinetministers, het doelbewus en openlik die wet verbreek om ʼn vriend van Zuma te beskerm, ondanks ʼn hofbevel wat hom uitdruklik verbied het om die land te verlaat. Dit is die man wat bo aan ons grondwetlike demokrasie staan. In plaas daarvan dat hy die wet onderhou het, het hy besluit om dit met die grootste minagting te hanteer en hy moet aanspreeklik gehou word.”

Lees alle vorige berigte oor Omar al-Basjir op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

M A ·

Gaap. Alweer die DA wat vir Zuma op sy neus wil laat kyk. Hoeveelste (flou) poging is dit nou?

Veritas ·

Ou Zoomer steur hom nie aan ‘n hooggeregshof- of appélhofuitspraak nie. Die DA se dreigemente gee hom beslis nie slapelose nagte nie. Hy glo hy is onaantasbaar en dit wil vir my ook so voorkom.

elisabet ·

DA…ag siestog..as dit nie die verkiesingstyd was nie was jul nou tjoepstil.
Jul onderskat die denke van die man op straat.
Mnr ZoemaZoeloe gaan nerens soos dit vir ons lyk.

ST ·

Boring DA, boring politiek. Los maar die ou uit want niks sal gebeur nie.

Schalk ·

Die regering het die grondwet oortree!?!? Hulle oortree hom elke liewe dag. Ons grondwet is nie die papier waarop dit geskryf is werd nie.
Dalk is dit tyd dat zuma voor n hof geroep word vir sy aandeel in die moorde op SA burgers. Wat, net ingeval iemand dit nie geweet het nie, sy goedkeuring wegdra. En die DA is niks beter as die ANC nie.

Liewe Heksie ·

DA ek het soveel hoop in julle gehad maar elke dag verloor ek respek vir julle Julle is oral waar dit nie saak maak nie Regtig zoompie is onaantasbaar Pasop as julle wakker word is julle koffie koud

Trolle ·

Wat gaan hulle daardeur regkry of bewys,plaas hulle eerder n slaggie vir Zuma dagvaar omdat daar niks aan plaas moorde gedoen word nie,maar lyk my die die DA is tevrede daarmee.
2+2=5

GES ·

Dit is net oorlogpraatjies van die DA (anc lite). Onthou daar is ‘n verkiesing op hande.

Mielie ·

DA, julle mors net geld, JZ is onaantasbaar. Julle gaan rooi (pers)gesig daarvan af kom. Hoekom baklei die oposisie partye nie eerder dat die Valke, Gordhan moet uitlos nie, hy het n belangrike werk om te doen. Dit sal meer waarde voel as n nuttelose hofsaak

Joe ·

Met ander woorde: Julle ou suurgatte wil alles maar net laat gaan. Te veel moeite vir julle?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.