DA-oorwinning rakende Nkandla

Zuma se Nkandla-woning

Zuma se Nkandla-woning

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het Dinsdag ‘n versoek deur die Demokratiese Alliansie rakende ‘n verslag oor opgraderings by pres. Jacob Zuma se tuiste in Nkandla, as dringend verklaar.

Lindiwe Mazibuko, parlementêre leier van die DA, het gesê die aansoek sal volgende jaar op 18 Februarie aangehoor word. “Dit is ‘n oorwinning vir rekenskap en deursigtigheid,” het sy in ‘n verklaring gesê. “Ons sien daarna uit om ons saak voor die hooggeregshof te bring en vertrou dat die verslag uiteindelik publiek gemaak sal word, sodat diegene wat die staatskas geplunder het, aanspreeklik gehou kan word.”

Mazibuko het die hof op 30 September genader om ‘n hofbevel te bekom om die departement van openbare werke te dwing om haar met ‘n afskrif van die verslag van die taakspan te voorsien. Dié verslag bevat besonderhede van die opgraderings van meer as R200 miljoen by Zuma se private woning in Nkandla, KwaZulu-Natal.

Die DA het aangevoer dat die saak dringend aangehoor moet word, aangesien die “Nkandlagate-skandaal” en die “gevolglike toesmeer daarvan” ‘n saak van openbare belang is en dat die verslag reeds vir nege maande lank gesloer het nadat die ondersoek afgehandel is.

“Die verslag moet inligting bevat wat van besondere belang sal wees vir kiesers wat volgende jaar vir hul verteenwoordigers moet stem,” het Mazibuko gesê.

Thulas Nxesi, minister van openbare werke, reken egter dat die aansoek slegs gebring is om “politieke punte te behaal”. “Die verslag is aan die parlement se gesamentlike staande komitee oor intelligensie voorgehou, wat lede van die DA en verteenwoordigers van ander opposisiepartye insluit,” het Nxesi gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

H J Bester ·

Die minister van Openbare Werke kan die DA nou maar enigiets kleinliks toesnou, feit is dat die DA minstens baie moeite doen om die vergrype van die ANC-regering aan die kaak te stel.

mariaan ·

Sal die waarheid ooit uitkom? Nou verstaan mens hoekom hulle die pers wil muilband. En wat sal in elk geval met die skuldiges gebeur? Kyk maar onder andere na Shabir Shaik en Jackie Selebi. Mens se nugter verstand se tog dat Zuma dit onmoontlik uit sy eie sak betaal het. Watter ander vorige staatshoof het sy eie dorpie gebou! Lagwekkend! Om nie van al die vrouens te praat vir wie die staat ook moet sorg nie. Dis geen wonder daar word na ons verwys as ‘n piesang republiek nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.