DA pak skuld vir Ladysmith-onrus op KZN-LUR

Mxolisi Kaunda (Foto: ANA)

Die Demokratiese Alliansie het Mxolisi Kaunda, die KwaZulu-Natalse LUR vir vervoer, Dinsdag veroordeel oor sy vroeëre besluit om minibus-taxi’s te verbied om Ladysmith binne te kom.

Kaunda het die bedrywighede van die Klipriver- en Sizwe-taxiverenigings verlede maand opgeskort ná verskeie aanvalle wat tot moord op taxibedieners, hul familielede, kennisse en onskuldige omstanders gelei het. Die provinsiale regering het gesê gevegte tussen dié taxiverenigings is verantwoordelik vir 61 sterftes sedert 2014 en die bedrywighede word daarom opgeskort.

Kaunda het egter Maandag aangekondig dat hy sommige taxiroetes op die dorp weer sal heropen nadat gemeenskapslede die paaie met brandende bande afgesper en later vyf busse afgebrand het.

Erge taxigeweld het sedert verlede maand se aankondiging dele van die dorp oorheers.

Die DA het Dinsdag gereageer deur te sê Kaunda se besluit was onverantwoordelik en het die lewe van Ladysmith-inwoners in gevaar gestel.

Imran Keeka, ʼn DA-woordvoerder in die provinsie, het gesê sy besluit het nie net ʼn invloed op besighede en dienste gehad nie, maar ook op inwoners wat gesondheidsorg benodig het.

Keeka sê die DA het reeds ʼn versoek aan Willies Mchunu, KwaZulu-Natal se premier, en dr. Sibongiseni Dhlomo, LUR vir gesondheid in KwaZulu-Natal, gerig om saam met Kaunda te werk om die krisis op te los.

“Die padafsluitings met behulp van massiewe rotse het die beweging van ambulanse na en van hospitale in die dorp bemoeilik. Daar was ʼn groot moontlikheid dat daar hospitale sonder verpleegsters kon wees,” het hy gesê.

Keeka het gesê dit is belangrik dat Dhlomo nooddienste van gewapende veiligheidswagte voorsien wanneer hulle na gevaarlike gedeeltes op die dorp ontbied word terwyl die situasie op Ladysmith ontlont word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lba ·

Vir een keer in my lewe moet ek die ANC gelukwens met hulle besluit

Oorsaak? ·

En die oorsaak? Kyk op die foto, agter teen die muur . . .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.