DA pak wet vir nuwe hoofstuk 9-instelling

grondwet-argieffoto-02

Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Die DA wil nuwe wetgewing daarstel wat eindelik tot ʼn onafhanklike hoofstuk 9-instelling sal lei. Dié instelling sal bekend staan as die teenkorrupsiekommissie en moet onder meer hoëvlak-korrupsiesake ondersoek.

Die opposisieparty meen daar is lank reeds ʼn behoefte aan só ʼn instelling, aangesien die direktoraat vir prioriteitsmisdade (die Valke) nie voldoende onafhanklikheid geniet nie en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) sistematiese uitdagings beleef.

Die DA beoog nou om twee wetsontwerpe in te stel. Die een wetsontwerp sal wysigings aan artikels 181, 193 en 194 van die Grondwet voorstel om die nuwe hoofstuk 9-instelling tot stand te bring, terwyl die tweede wetgewing sal bepaal wat die funksies, magte en samestelling van die kommissie sal wees.

Adv. Glynnis Breytenbach, DA-skaduminister van justisie, het Donderdag gesê die stigting van die teenkorrupsiekommissie sal ʼn groot las van die NVG se skouers haal sodat dié instelling op sy kernfunksie – die vervolging van misdaad – kan fokus.

“Dit sal ʼn vinniger, doeltreffender en beter metode bied om die soort grootskaalse korrupsie te hanteer wat ons daagliks sien, maar wat nie doeltreffend binne die bestaande en oorbelaste strukture hanteer kan word nie.”

Breytenbach sê voorts die kommissie, soos die DA dit tans voorstel, sal bestaan ​​uit ʼn verskeidenheid kommissarisse, met ʼn afgetrede regter van die Konstitusionele Hof, hooggeregshof of appèlhof as die hoof- nasionale kommissaris.

Die aanstelling van die kommissarisse sal ingevolge artikel 193 onafhanklik geskied.

Daar sal ook ʼn sekretariaat van die kommissie wees en ʼn volledige aantal personeellede wat optree ter ondersteuning van die aangestelde kommissarisse.

Die DA stel voor dat die beplande instelling dié funksies uitvoer:

  • Ondersoek van bewerings van korrupsie op hoë vlak.
  • Ondersoek van openbare en private instellings se praktyke en prosedures om die oopvlek van korrupte praktyke te vergemaklik.
  • Ontvang klagtes oor die oortreding van relevante etiese kodes deur voorgeskrewe beamptes, en hou toesig oor die toepassing daarvan.
  • Ondersoek en doen aanbevelings by die nasionale direkteur van openbare vervolging (DOV) om enige korrupsie of oortreding van etiese kodes te vervolg.

Breytenbach sê indien die DOV weier om verdagtes te vervolg wat deur die kommissie na die NVG verwys word, moet die kommissie ook by magte wees om sy gekwalifiseerde personeel by die NVG te plaas om klagtes te vervolg sodat ʼn toepaslike hof finaal oor die saak kan beslis.

Die kommissie sal ook enige vermeende oortreding wat tydens die ondersoek onder sy aandag kom na enige toepaslike persoon of liggaam kan verwys vir verdere ondersoek, die bevriesing van bates of vervolging.

“Die teenkorrupsiekommissie sal ook die mandaat hê om openbare en private liggame te raadpleeg oor doeltreffende maatreëls om korrupsie te voorkom; lede van die publiek op te voed en bewus te maak van die gevare van korrupsie; en na gelang van die bevindings wat daar gemaak is, die nodige aanbevelings aan die toepaslike owerheid te doen.”

Breytenbach bestempel die instelling van ʼn nuwe, onafhanklike hoofstuk 9-instelling as ʼn “ongekende” voorstel.

Sy meen dis egter nodig aangesien die regerende party versuim om ʼn werklik onafhanklike korrupsiebestrydingsorganisasie op hoë vlak te stig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Baardman ·

Wil die DA nou NOG n wiel ontwerp. Maak eerder planne om te verseker dat die bestaande strukture in plek korrek funksioneer.

Anoniem ·

@Baardman dit is maar politiek, hulle maak altyd planne en stel nuwe dinge in plek om te lyk asof hulle iets doen daaraan maar dan vergeet hulle van alles wat klaar tot hulle beskikking is. Valse beloftes net om goed te lyk en stemme te probeer kry is maar hulle prioriteit. My voorstel van n oplossing tot ons probleme is raak ontslae van politiek en politikuste en bring in n nuwe manier van regeer.

Sonia ·

lees die berig: die huidige stelsels is nie onafhanklik nie – nuwe maatreëls is nodig, moenie altyd negatief reageer nie Ons land het elke beter maatreëls as wat tans bestaan nodig

Anoniem ·

@Sonia gee vir my een rede om positief te reageer, net een… Net nog maatreëls gaan nie die probleme oplos nie. Sien jy een politikus wat hulle steur aan “maatreëls”? Verder weet ons uit ervaring dat ondersoeke om korrupsie te bekamp tot niks kom nie.

Tiptol ·

Wette word gemaak en dit maak net ‘n deur oop vir verdere korrupsie. Enige persoon wat vir die staat werk moet geswartlys word en tronk toe gaan indien hul betrokke is by korrupsie.

Rian ·

Daar is n redelik eenvoudige oplossing om korrupsie stop te sit. Die tender beoordelings en betalings moet deur banke gedoen word, teen n fooi natuurlik.

Dirk Mostert ·

Hoe gouer hoe beter. Ek wou al lankal ‘n sekere staatsdepartement rapporteer oor onreelmatighede, maar wag op ‘n nuwe O.B.

Jack ·

Nog n kommissie! Ek weet nie nou meer nie. Teveel van die goed met baie uitgawes en bittermin resultate op grondvlak. Sal maar lees wat met die een gaan gebeur.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.