DA, parlement verwelkom OB-uitspraak 

Busisiwe Mkhwebane, die Openbare Beskermer (Foto: ANA)

Die parlement en die DA het die hooggeregshof in Kaapstad se beslissing teen adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), verwelkom.

Mkhwebane het gepoog om die uitvoering van die parlement se reëls rakende die moontlike verwydering van haarself en ander hoofde van art. 9-instellings uit hul poste met ʼn interdik te vertraag.

Natasha Mazzone, DA-hoofsweep, meen daar moet nou geen verdere vertragings wees vir Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering, om ʼn onafhanklike paneel aan te stel om te bepaal of daar ʼn prima facie-saak is vir die parlement om voort te gaan met die proses om Mkhwebane te verwyder nie.

“Mkhwebane se ampstermyn as openbare beskermer besoedel die eens trotse reputasie van hierdie belangrike hoofstuk 9-instelling om die uitvoerende gesag sonder vrees of guns tot verantwoording te roep.

“Onder haar leiding het die instansie slag na slag in die howe gely en laat dit ’n duidelike indruk van die instelling se tandeloosheid en onbeholpenheid.”

Die poging om ʼn interdik te kry was volgens Mazzone duidelik net ʼn poging om hierdie ondersoek te vertraag en om ’n wettige parlementêre proses om haar te verwyder ongeldig te maak.

“Sy het die kantoor van die openbare beskermer onmeetlike skade berokken. Suid-Afrika het iemand nodig wat onafhanklik en boonop bo verdenking is om aan die hoof  van hierdie instelling te staan.”

Die parlement het intussen ook die hof se beslissing verwelkom. Moloto Mothapo, woordvoerder van die parlement, het gesê die regters het die speaker se voorlegging gehandhaaf dat ʼn interim-interdik sou neerkom op ’n ernstige beperking van ’n kritieke kenmerk van die toesighoudende magte van die Nasionale Vergadering en onnodig inbreuk sou maak op die skeiding van magte.

“Die regters het bevind dat die proses om ’n ampsdraer van ’n hoofstuk 9-instelling in ʼn staat van beskuldiging te plaas ’n belangrike meganisme is vir die aanspreeklikheid van ampsdraers ingevolge die Grondwet, en daarom moet ’n hof nie in sodanige prosesse inmeng nie.”

Volgens Mothapo sal Modise binnekort die name bekend maak van die mense wat op die paneel sal dien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hennie

Dit is maar moeilik om van n “klip-in-die-skoen” kader ontslae te raak sonder om te erken dat dit n besondere swak aanstelling was.

Ratel

Smaak my Zuma se lakei gaan haar tassies moet pak. Die verskil tussen Mkhwebane en haar voorganger, Thuli Madonsela, is verstommend.

annie

Die driemanskap word nou aangevat: Zuma, Ace, Busisiwe. ‘n Paar gevaarlike maande lè voor… eintlik wèreldwyd. Ons moet lig trap. En bid moet ons bid.

JohanR

Laat ons nou sien….as daar twaalf op die pannel is sal hy soe daar uit sien. 5 ANC, 3 EFF, 2 DA, 1 IFP 1 VF+