DA plaas druk op Dirco oor gestrandes in Mosambiek

Die Lebombo-grenspos tussen Suid-Afrika en Mosambiek (Foto: Departement van openbare werke)

Die DA plaas druk op die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) om met die ambassades in buurlande saam te werk om die Suid-Afrikaners wat al byna tien weke in dié lande gestrand sit, te repatrieer. Daar heers nou al weke lank onduidelikheid oor die rede waarom die byna 1 000 Suid-Afrikaners wat steeds in buurlande gestrand is, nie kan terugkeer nie.

Die DA doen ʼn beroep op Dirco om onmiddellik met ambassades, die departemente van gesondheid, binnelandse sake en openbare werke in gesprek te tree om onmiddellik oplossings te vind om dié gestrande Suid-Afrikaners veilig terug te bring. Dié party versoek dat oplossings teen die naweek gevind moet word.

Maroela Media het vroeër berig meer as 500 gestrande Suid-Afrikaners in Mosambiek begin finansieel en emosioneel swaar trek. Benewens die feit dat hul geld en medisyne opraak, is van hulle ook al vir amper tien weke van hul geliefdes geskei en sommiges moes glo hul troeteldiere tuis laat uitsit omdat daar niemand is om na hulle om te sien nie. Van die gestrandes is in gr. 7- of matriekleerders wat Maandag moet terugkeer skool toe.

Darren Bergman, die DA se skaduminister van internasionale betrekkinge en samewerking en ook een van die stigterslede van die Home Away From Home-inisiatief, sê daar word nie duidelikheid gegee waarom Suid-Afrikaners wat in buurlande gestrand is, nie kan terugkom nie. Hy het vroeër gesê daar is nie duidelikheid of die repatriasieproses aan die Suid-Afrikaanse of die buurlande se kant vertraag word nie.

“Personeellede by die ambassades het blykbaar alle mag verloor om die Suid-Afrikaners veilig oor die landgrense te stuur,” sê Bergman.

Bergman spekuleer die oorhoofse rede waarom die repatriasieproses vertraag word, is glo weens die tekort aan beskikbare kwarantyngeriewe in Suid-Afrika, waar dié Suid-Afrikaners moet tuisgaan sodra hulle in die land aankom. Volgens die departement van gesondheid se regulasies moet almal wat gerepatrieer word vir 14 dae in kwarantyngeriewe bly.

“Ons kan nie toelaat dat die skoolkinders die reg tot onderwys ontneem word nie. Ons kan ook nie staan en toekyk hoe mense in ʼn vreemde land sit en krepeer weens ʼn tekort aan geld of medikasie nie,” sê Bergman.

Van dié gestrandes in Mosambiek sou verlede Maandag gerepatrieer word, maar die planne is gou in die wiele gery toe die ambassade laat weet het dat die Mosambiekse regering eers toestemming moet gee voordat die repatriasieproses kan voortgaan.

Maroela Media het vroeër ʼn navraag aan Clayson Monyela, woordvoerder van Dirco, oor die kwessie gerig en hy het gesê om Suid-Afrikaners uit Mosambiek te kry is die departement van binnelandse sake se verantwoordelikheid.

Siya Qoza, die woordvoerder van die minister van binnelandse sake, het net daarna aan Maroela Media gesê Dirco koördineer die internasionale reise van burgers. Qoza het nie verder op enige navrae van Maroela Media gereageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.