DA poog om verskille te oorkom voor kongres

Mmusi Maimane, leier van die DA.

Pogings is agter die skerms aan die gang om verskille binne die DA op te los oor ras- en geslagskwessies in die aanloop tot die party se federale kongres hierdie naweek in Pretoria.

Voorstelle dat DA-strukture meer verteenwoordigend moet wees, het die afgelope twee weke gelei tot ʼn teenvoorstel wat raskwotas in die DA spesifiek sal verbied. Die verwagting is dat dit tot ʼn onbetaamlike openbare stryery kan lei as iemand nie ingryp nie.

Die tweede resolusie wat onmin kan veroorsaak stel voor dat alle vrouelede van die DA outomaties lede word van die DA-vrouenetwerk (Dawn), wat dieselfde rol in die DA vervul wat die ANC-vroueliga in die ANC het.

Baie van die DA se meer liberale lede, asook baie van die meer welvarende vrouelede, meen Dawn is ʼn onnodige en tydrowende aktiwiteit (dit tref onderskeid tussen mense op grond van geslag, wat nie baie liberaal is nie).

Baie ander vrouelede van die DA meen egter Dawn bied waardevolle ondersteuning aan vroue wat byvoorbeeld ly onder huishoudelike geweld of ander knelpunte wat spesifiek vroue beleef.

Waarnemers sal die DA-kongres ook dophou vir aanduidings oor hoe die DA gaan aanpas by veranderde partypolitieke dinamiek ná verlede week se mislukte mosie van wantroue in die DA-burgemeester van Nelson Mandelabaai, Athol Trollip.

Terselfdertyd het die DA poste in die metroraad aangebied aan twee kleiner opposisiepartye met wie die DA nie gewoonlik saamwerk nie, te wete die Patriotic Alliance (PA) en die African Independent Congress (AIC), wat op hulle beurt onderneem het om Trollip as burgemeester te steun.

Die DA-leier, Mmusi Maimane, het die afgelope paar weke al meer stellings begin maak teen die EFF.

Alle oë sal dus dié naweek op Maimane wees om te sien wat hy oor verhoudinge tussen die DA en ander politieke partye te sê gaan hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

DA se moses ·

Die DA moet nou net so aangaan dan is hulle binne kort kleiner as ACDP.

John ·

Mmm… Mmusi glo hy is die siel van die DA en sy paar helpers abba hom. Hy is ‘n predikant en hoort nie in die politiek nie want jok is nogal mode in sy tipe pos. Nog ‘n vrou as leier sal die laaste spyker in die party se doodskis wees. Die Afrikaners wat nog vir die groep stem wat net voor verkiesings na hulle vry, gaan na volgende jaar geskok wees. Grondhervorming gaan ook daar mode word om dan weer swart kiesers se harte te wen.

Hettie ·

DA lede is net dit ..LEDE
Nie manlik of vroulik of swart of wit nie !!
Hoekom moet almal altyd ‘n label kry ?
Daar is soveel afgevaardigtes en dit is dit !!!

Wiehan ·

Ek sal nie vir die DA stem nie want hul dag en aand praatjies verskil hemelsbreed. Daar is regtig geen toekoms by hulle nie. Ons enigste kan op oorlewing is om ‘n onafhanklike staat in die Noordkaap te kry
Lank lewe Die Republiek van Orania.

Afrikaan ·

Verstommend hoe dié party verander het sedert Zille uitgestem is. Maimane is net nog ‘n nar op die politieke verhoog waarvandaan diskriminasie teen wit gepropageer word en hy probeer nie eers subtiel daaroor wees nie!

Eish ·

” If you are a racist, please don’t vote for us”
Maimane se woorde n jaar of wat gelede. Kleurblindheid, geslagsgelykheid, die vermoë om n mens te sien wanneer jy iemand aanskou en ras en geslag is bloot negeerbare terloopshede. Terwyl die DA dames dinamiek nou skielik spesifieke behoeftes ontwikkel het, soos huishoudelike geweld en ander knelpunte. Dis dalk te verstane indien jy die aanrandings en chaos tydens munisipale, provinsiale en parlementêre vergaderings aanskou tussen die ANC en DA.Hul moet maar hul mind opmaak of vroue gelykes is, of n bedreigde spesie. Dis eenvoudig n grap vasgevang in komieklike woordgimnastiek.

Dit is maar net die verafrikanisering van Westerse liberalisme, of die gonswoord daarvoor, partypolitieke dinamiek.

rollie ·

Die DA soek nie rassiste en simpatiseerders van Apartheid nie. Dit sluit die meerderheid van Maroela se lesers uit om as lede te kwalifiseer. Ondersteun die VF+ en los die DA uit sodat hulle hulle werk kan doen met mense wat die land wil vorentoe vat en nie in die verlede wil leef nie.

Boet Fasie ·

Rollie , ek glo nie die DA kan bekostig om die meerderheid van Maroela lesers te verloor nie want dan het hulle nie meer werk om te doen nie. Met die DA se onderlinge baklei vat hulle in elk geval nie die party en die land vooruit nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.