DA publiseer bewyse van US-rektor se aanval op moedertaalonderrig

universiteit-stellenbosch

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

Die Demokratiese Alliansie (DA) publiseer vandag die volle rekord van getuienis wat ingesamel is tydens oudregter Burton Fourie se ondersoek oor die rektor van die Universiteit Stellenbosch (US), prof. Wim de Villiers, se pogings om ‘n regter van die grondwetlike hof, Edwin Cameron, te oorreed om ‘n nominasie te aanvaar om die universiteit se volgende kanselier te word.

Dr Leon Schreiber, DA-LP en kiesafdelingshoof in Stellenbosch, het gesê die getuienis toon dat De Villiers inderdaad deurlopend gesprekke gevoer het met Cameron – en selfs een keer ‘n geheime ontmoeting met Cameron gehad het – terwyl De Villiers ‘n respondent was in die grondwetlike hofsaak oor die afskaffing van Afrikaans as ‘n gelyke onderrigtaal aan die US.

Kort ná die reeks gesprekke tussen De Villiers en Cameron, het Cameron die uitspraak gelewer wat moedertaalonderrig in inheemse tale aan die US keelaf gesny het.

Die getuienis wat die DA vandag publiseer, kom nadat die US aanvanklik op ‘n onwettige wyse probeer het om dit van die publiek weg te steek. Dit het die DA genoop om met ‘n hofsaak te begin, met die Wes-Kaapse hooggeregshof wat gelas het dat die US geen reg het om die getuienis geheim te hou nie.

Die DA is veral bekommerd oor die roekelose en neerhalende opmerkings wat De Villiers tydens sy onderhoud met Fourie oor moedertaalonderrig gemaak het. De Villiers verwys onder andere na “Gelyke Kanse en mense wat hulle ondersteun en die media – Afrikaanse media” as ʼn “groep wat ‘n pre-1990 provinsiale insulariteit nastreef”. Hy verwerp ook die behoefte onder miljoene Afrikaanssprekendes om hul grondwetlike reg op moedertaalonderrig uit te oefen as ‘n “geloofsaak” en ʼn “saak van die Evangelie.”

Tydens sy onderhoud met Fourie voer De Villiers verder aan dat hy “nie geweet het” dat Cameron “betrokke is by hierdie [hofsaak oor die afskaffing van moedertaalonderrig] nie.” Hierdie bewering word egter direk weerspreek deur ‘n WhatsApp-boodskap wat De Villiers op 22 Augustus 2019 gestuur het aan ‘n groep US-alumni, waarin hy prontuit gesê het: “Edwin C. is wel nog betrokke by die skryf van die uitspraak (3-6 maande vanaf 8 Aug).”

“Dit is tog totaal verregaande dat die rektor van ‘n universiteit aanvoer dat hy so onbevoeg is dat hy nie eers weet wie op die grondwetlike hof dien nie. Soos sy eie WhatsApp-boodskap duidelik bewys, was De Villiers ten volle bewus van Cameron se betrokkenheid by die saak oor Afrikaans,” het Schreiber bygevoeg.

Dit is ook opvallend dat die voorsitter van die US-raad, George Steyn, De Villiers kritiseer vir sy “voortvarendheid”. Steyn voer aan dat “die hele taal-saga” begin het “met ‘n uitlating [deur De Villiers] . . . waar hy teen die statuut opgetree het”. Volgens Steyn was “daardie voortvarendheid . . . ook betrokke” tydens De Villiers se pogings om Cameron te oorreed om kanselier te word te midde van ‘n grondwetlike hofsaak waarby De Villiers direk betrokke was.

Die getuienis van die Fourie-ondersoek maak dit duideliker as ooit dat die huidige US-bestuur, onder leiding van De Villiers, op ‘n arrogante en roekelose wyse neersien op moedertaalonderrig. In die proses het hulle miljoene Afrikaanssprekendes se grondwetlike reg op moedertaalonderrig aktief ondermyn.

“Die DA glo dat ons ‘n sterk saak sal hê indien ons die Fourie-verslag op hersiening neem, en ons behou ons reg voor om dit te doen. Maar die realiteit is dat die uurglas besig is om vinnig leeg te loop vir moedertaalonderrig, ook aan die US. Daar is eenvoudig nie meer tyd vir hofsake wat jare lank sloer nie.

“Wat eerder nou nodig is, is dat elke persoon wat glo in die waarde van moedertaalonderrig opstaan en daarop aandring dat die US begin om Afrikaanse studente net so waardig te ag as Engelssprekende studente. En die DA gaan in die heel voorste linie hiervoor veg. Die US se reëls stipuleer dat die taalbeleid volgende jaar hersien moet word, en die DA is reeds besig om voorbereidings te tref vir ‘n historiese en ongekende politieke veldtog om te eis dat Afrikaans gelykgestel word met Engels aan die US.”

Schreiber sê elke persoon wat glo dat Afrikaanse studente se regte net so belangrik is soos die regte van Engelse studente, met die party sal hande vat vir die geveg wat voorlê in Stellenbosch.

Die dokumente is hier, hier, hier, hier, hier, hier, hier en hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Sarel ·

Wel Afrikaans sal nooit weer terugkeerna Stellenbosch nie
maar die onderkruiper bly nog .

Sonia ·

In hierdie aangeleentheid het die DA my volle ondersteuning! Hopelik ALLE Afrikaanssprekendes want as ons handjies gevou sit gaan ons mooi en kosbare taal spoedig in die niet verdwyn. Tsek DeVilliers! Hy moet afgedank word en sy naam moet nooit weer ivm US gehoor word nie.

Kobus ·

Ek is moeg om mense wat voor die verkiesing beloftes maak en dit daar na vergeet, te ondersteun.

J ·

Slim Wim is aangestel met die vooropgestelde taak om Afrikaans te vernietig by US.

Soos die spreekwoordelike Trojaanse perd … was Wim oënskynlik ‘n wit Afrikaanse omie wat die Boere sou gerusstel (dit kon ‘n Swart Zimbabwiër gewees het?).

Maar aan die binnekant van die geskenk ‘houtperd’ het die ‘dood’ van Afrikaans geskuil!

Wie het Wim se aanstelling ‘bewimpel’?

Dít is waar die PRIME EVIL skuil wat AFRIKAANS moet ‘vermoor’!

Wie het Wim se aanstelling ‘bewimpel’?

Therese ·

Waar was dr. Schreiber en sy party al die jare toe taalvegters as “regse taalbulle” gebrandmerk is?
Dit klink kompleet of die DA uit ‘n diep slaap ontwaak het.
Liewer laat as nooit, maar die koeël is al (amper) deur die kerk in hierdie geval.

Pieter ·

Duidelik ‘n geval van samespanning tussen die Rektor de Villiers en die Regter Cameron. Bewys dat howe nie onafhanklik is nie. Samespanning = korrupsie. Hofuitspraak moet nietig verklaar word tesame met kriminele vervolging van die 2 menere. Laat hulle ook al die hofonkostes betaal. Die gebeure plaas hulle in dieselfde vragskip van korrupsie as Zuma.

annie ·

Het die geagte rektor dalk per ongeluk miskien ‘n diep verborge minderwaardigheidsgevoel jeens engelse; dat engelse mense meer gekultifeerd is as Afrikaners al is hy sowieso ‘n hogere Franse nasaat? Dit is so dat daar in die verlede Afrikaners was wat ‘boots’ oor kop geslaan het vir die ‘queen’.com. Dis in elke geval ‘n vreemde land diè waar die nasie met verskeie pragtige huistale hulself common maak om oor te skakel na die taal van ‘n koloniale mag wat ons vir so lank onder sy duim gehad het. Regter Cameron behoort lekker in sy mou te lag…

Jannie van Niekerk ·

Dis baie waar annie. (Jou vriend Kallie Kuiken)

wilhelm ·

Dit klink soos dieselfde tipe dudes wat deel was van Lord Milner se post-ABO circus om alles van die Boere,wat oorleef het, uit te wis.Om te dink ek het eens by daai trots Afrikaanse wêreldklas varsity geswot.Laat my huil……

JohanR ·

Wat het gebeure met al die manne en vroue van eerlikheid wat by Universiteit Stellenbosch (US was oor die jare? Lyk my alles daar is nou net n verneuk spil!

JohanR ·

4ntj13 nou vra ons die vraag maar in Engels. Are Wim de Villiers and Edwin Cameron going to do the honorable thing and resign?

Kobus ·

Ondersteun ons eie, of bou nog ‘n Afrikaanse Universiteit, ek is seker solidariteit sal help.

Johannes ·

Ja, Afrikaans moet ten minste met Engels gelykgestel word, soos Jan Marais in sy stigtingskenking bepaal het.

Hennie J ·

Reg so DA, eet hulle. Eet hulle soos n mielie dat net die stronk oorbly. Ek het nou nie eintlik veel vertroue in die DA nie, maar het sedert sy aanstelling by Afriforum n kleintjie dood aan wat presies Adv. Gerrie Nel se jop is. Nou nooi ek ek hulle(dis nou Afriforum en die advokate) om die saak van bedrog, korrupsie en boereverneukery op te neem en om slim wim en sy regter ordentlik op te neuk.

Zombie ·

Ek aanvaar dat jy reeds ń betaalde lid van Afriforum is en dat jy jou reeds mildelike maandelike finansiële bydrae sal verhoog, sodat genoemde organisasie in staat sal wees om te doen soos jy hulle versoek.

Gert Johannes ·

Moet seker maar aanvaar dat verloopte afrikaners om gekoop is om onss land weg tegee, dat daar nog is wat omgekoop word om ons taal en kultuur af te breek. Dieselfde is besig om te gebeur met ons Godsdiens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.