DA-raadslede in Tshwane ‘bedrieglik’ – ANC

Foto: Demokratiese Alliansie/Facebook

Die DA het gerugte ontken dat twee van die party se raadslede in die Tshwane-metroraad nie langer binne die munisipale grense van die stad woon en dus nie langer die DA in die raad kan verteenwoordig nie.

Dit volg nadat die ANC-koukus in die stad ʼn verklaring uitgereik het waarin dié party sê hy het bewyse dat raadslede Ernst Botha en Johan Welmans nie langer in Tshwane, of selfs in Gauteng woon nie. Daarom is dié raadslede “onwettig” en “bedrieglik”, sê die ANC.

Die ANC sê hy het bewyse dat Botha na Nieu-Seeland geëmigreer het en geruime tyd reeds van daar af werk. Die party beweer Welmans het sy huis in Tshwane verkoop en reeds by die Vryheidsfront Plus aangesluit. Laasgenoemde bewering is ten sterkste deur die leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald, ontken.

Volgens die verkiesingswet moet wyksraadslede binne die grense van die munisipaliteit woon waarin hulle verkies is. Daar word ook van wyksraadslede verwag om gereeld vergaderings in hul wyke te hou en direk met inwoners te skakel.

Die DA het wel Dinsdagmiddag laat aan Maroela Media gesê dat Botha bedank het.

(Argieffoto)

Die ANC beweer dat Botha ʼn Nieu-Seelandse e-pos-adres gebruik om die virtuele raadsvergaderings in Tshwane by te woon. Die party het glo ook bewyse dat hy geëmigreer het. Botha kon nie betyds vir kommentaar bereik word nie, maar die DA se hoofsweep in Tshwane, Christo van den Heever, het aan Maroela Media bevestig dat hy intussen as raadslid bedank het.

Welmans het uit Riebeek-Kasteel aan Maroela Media gesê dat hy tans mediese behandeling vir nierversaking ontvang en deur ʼn familielid, wat ʼn mediese dokter in die Wes-Kaap is, behandel word.

Van den Heever sê Botha en Welmans is met goedgekeurde verlof tot aan die einde van Februarie en het tydens hul verlof steeds al hul raadsverantwoordelikhede nagekom, aangesien raadsvergaderings weens Covid-19 virtueel plaasvind.

Van den Heever sê die ANC het in Januarie vier raadslede verloor wat weens Covid-19 gesterf het. Nog twee is verlede jaar dood. Vyf van die ses ANC-vakatures is vir wyksraadslede wat beteken dat tussenverkiesings binne vyf wyke gehou moet word.

“Die ANC het dus slegs 84 raadslede terwyl die DA van 1 Maart 90 sal hê, nadat twee raadslede verlede jaar [en Botha vanjaar] bedank het.” Die DA het dus steeds, volgens Van den Heever, ʼn meerderheidsverteenwoordiging in die raad.

Die ANC se leier in die raad, dr. Kgosi Maepa, sê Botha en Welmans tree onwettig op en dat dit ʼn kriminele oortreding is dat albei tot dusver salarisse ontvang het. Die party beplan om môre (Woensdag) kriminele klagte teen die twee raadslede, sowel as teen die DA se hoofsweep, Christo van den Heever, en die speaker, Katlego Mathebe, in te dien.

“Van den Heever het die raad moedswillig mislei deur voor te gee dat die twee nie uit hul wonings getrek het nie,” sê Maepa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nie Verbaas ·

Ek is verbaas dat enige persoon in ons liewe ou ANC iemand anders as bedrieglik durf afmaak.

Hennie J ·

Moontlik leef ek in my eie wonderwereld, maar sover ek weet moet jy n geregistreerde kieser wees in die munisipaliteit waarvoor jy n raadslid is. Woonagtig in die wyk is nie n wetsvereiste nie. Hoe dit ookal sy, die da raadslede sien ook die skrif aan die muur en fladder nou oral rond op soek na heenkome. Die VF Plus, die enigste moontlike politieke tuiste vir die meer behoudende politici sal seker nou oorval word met aansoeke van afgeleefde da raadslede. Ek glo in die integriteit van die VF Plus en n behoorlike keuringsproses sal verseker dat hulle nie met die gevolge van die ‘chicken run’ opgeskeep sit nie.

Jakes ·

Ag asb ANC, julle is die meesters om bedrielik te wees. Bedrog en korrupsie is n ander naam vir julle party.

Bushy ·

Alle politieke leiers wat selfs net oorweeg om te immigreer hoort nie in SA politieke nie en moet dadelik bedank.
Ons soek nie sulke politieke verteenwoordigers om ons te verteenwoordig nie.
In my opinie is hulle draadsitters wat net sit en kyk watter kant van die draad die gras groener gaan wees.

Veronika ·

Ag foeitog, julle is tog nou so bly dat julle darem iets kon kry om die DA mee te kap!! Shame ook maar vreeslik as jy nie meer weet hoe om jou eie gemors toe te smeer nie, dan gooi jy die aandag na iemand anders, oudste trick in die boek!! Tsk!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.