DA-raadslid as burgemeester van Tshwane verkies

Randall Williams is die DA se nuwe burgemeesterskandidaat vir Tshwane. (Foto: DA)

Die DA-raadslid Randall Williams is tot burgemeester van die Tshwane-metro verkies.

Williams is Vrydagmiddag gedurende ’n raadsvergadering as nuwe burgemeester ingestem.

Williams het teen Moafrika Mabogwane, die EFF se burgemeesterskandidaat, te staan gekom. Die ANC het nie ʼn kandidaat benoem nie en ook nie aan die stemming deelgeneem nie.

Williams het die meerderheid van die stemme (97) ontvang vergeleke met Mabogwane se 25 stemme.

Daar was een bedorwe stem.

Williams se verkiesing tot burgemeester volg sowat agt maande nadat die DA hom as sy burgemeesterskandidaat voorgestel het in die lig van Stevens Mokgalapa se bedanking as burgemeester van die metro.

Mokgalapa het in Februarie as burgemeester bedank nadat die DA hom op verpligte verlof geplaas het weens bewerings dat hy kollegas ondermyn het en ʼn verhouding met een van die lede van sy burgemeesterskomitee gehad het.

Mokgalapa het Vrydag ook uit die DA bedank.

Volgens John Steenhuisen, DA-leier, volg Williams se aanstelling ná maande van onrus en onsekerheid in die hoofstad.

“Die verkiesing van Randall Williams is ’n belangrike stap om Tshwane weer op die regte pad te plaas onder ’n bekwame DA-regering, en ek is verheug dat ons nou die mandaat van die kiesers in die hoofstad van ons land kan uitvoer om die verandering te bring wat sy inwoners volkome verdien.”

Steenhuisen sê Pretorianers kan van skoon en doeltreffende bestuur onder Williams se leiding verseker wees.

“Burgemeester Williams se fokus is om die lewering van basiese en noodsaaklike dienste te herstel, en die grondslag te lê vir ’n sterk en bekwame regering om die stad en sy inwoners die beste te bedien en in hul behoeftes te voorsien.”

Volgens Steenhuisen sal stukkende straatligte, slaggate en voldoende toegang tot water, veral in Hammanskraal, eerste prioriteit geniet.

“Burgemeester Williams het hom ook daartoe verbind om die uitdagings wat die Gautengse provinsiale regering se onwettige administrasie in Tshwane agtergelaat het, uit te roei en om stadsdepartemente skoon te maak ten einde finansiële stabiliteit en deursigtigheid te herstel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Stefan ·

Julle kan begin om op te hou mense se krag af te sny omdat jul GESKATTE meterlesings daarop dui dat dit agterstallig is wat inderwaarheid eintlik vooruit betaal is.

Stefaan ·

Dit op ‘n Vrydag middag en niemand antwoord die foon sodat hulle fout kan sien nie

Sarel ·

Sterkte daar wag vir u groot taak en baie kopseer.u sal die vetroue in die DA moet herstel

Wiehan ·

Heel eerste, ek is nie ‘n DA ondersteuner nie. Die DA moet alles nuwe burgemeesters eers na Midvaal stuur om hulle touwys te maak oor wat doeltreffende munisipale bestuur is. Hulle sal ook leer hoe om nie korupsie te duld nie.
Keep going Mayor Bongani Baloyi!

Jaco ·

Is sy velkleur “reg” vir dié pos? Ek vra net, want baie van sy mede-kleurlinge kry nie werk nie met die verskonings “you are not black enough” en “ons personeelsamestelling moet die nasionale demografie weerspieël”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.