DA-raadslid in Kaapstad doodgeskiet, beloning uitgeloof

Argieffoto (StevePB, Pixabay)

ʼn Raadslid van die DA is Woensdagaand ná ʼn vergadering in Kaapstad doodgeskiet.

Patricia de Lille, Kaapstad se burgemeester, sowel as Bonginkosi Madikizela, die DA se waarnemende leier in die Wes-Kaap, het Donderdag hul skok uitgespreek nadat Xolile Gwanxu, raadslid van die groter Philippi-omgewing, deur ʼn onbekende aanvaller doodgeskiet is.

Volgens die Stad Kaapstad het ʼn man Gwanxu genader en geskiet. Hy is op die toneel dood. Madikizela het gesê die voorval het plaasgevind nadat Gwanxu ʼn vergadering gelei het by sy kantoor in die plaaslike gemeenskapsaal.

“Sy moordenaar het hom geskiet toe hy besig was om die saal ná die vergadering te sluit,” het Madikizela gesê.

Die motief vir die moord is nie bekend nie en word deur die polisie ondersoek.

Madikizela het gesê die party verwelkom die polisie se ondersoek in die saak en hoop dat die oortreder gou aangekeer sal word.

“Gwanxu was ʼn langstaande lid van die DA en het vir agt jaar as raadslid gedien. Hy was ʼn bekende en gerespekteerde leier in die gebied en hy het dit met eerbare toewyding en vasberadenheid gedoen,” het Madikizela gesê.

De Lille het Gwanxu beskryf as ʼn toegewyde en hardwerkende dienaar van sy gemeenskap. “Dit is ʼn geweldige verlies vir Kaapstad. Ons is van ʼn groot gemeenskapsleier beroof. Ons sal alles in ons vermoë doen om die polisie by te staan en te verseker dat die oortreder aangekeer word en die mag van die gereg voel,” het sy gesê.

Die stad het ʼn beloning van R50 000 uitgeloof vir enige inligting wat tot die inhegtenisneming en suksesvolle vervolging van die moordenaar sal lei.

De Lille en Madikizela het hul innige meegevoel met Gwanxu se geliefdes betuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Koos1 ·

Sonder om onsimpatiek te wees, maar hoekom word die bedrag geld nie uit geloof vir alle moorde wat in Kaapstad gepleeg word nie? Is dit omdat die moord op ‘n DA lid was, en Kaapstad deur die DA bestuur word? Kan hulle so die belasingbetaler se geld uit deel?

zeno ·

O! ja, ek wonder ook,is hulle dan bealngriker as die gewone burger wat dalk ook vir die DA gestem het?

lisaan ·

Ek dink jul is nou baie onredelik. Daardie man het baie gedoen vir die party en ek glo dat hy ook vrede probeer werkstellig het. Wonder as die DA vandag doodloop, wat gaan al die sterkduime hul kruisies trek.

SARIE VAN HEERDEN ·

Deesdae kan jy geld maak uit ENIGIETS. Selfs moord het ‘n finansiele voordeel/beloning.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.