DA-raadslid, voormalige Aardklop-hoof vermis

Andries Vrey. (Foto: Verskaf)

Andries Vrey, ʼn DA-raadslid van die Vrystaat en voormalige hoof van die Aardklop Nasionale Kunstefees, word vermis.

Volgens Dorne Vrey, Andries (43) se eksvrou, het sy en die kinders hom die laaste keer op 16 Januarie gesien, voordat hy na Umdloti naby Durban vertrek het om daar vakansie te hou. “Sy kinders het die laaste keer op die 24ste Januarie [Sondag] met hom op sy selfoon gepraat en die DA het die dag daarna met hom kontak gehad, maar sedert Dinsdag [26 Januarie] is sy foon af,” sê Dorne.

Andries is ʼn DA-raadslid van Parys in die Vrystaat en was tot en met 2016 uitvoerende hoof van die Aardklop Nasionale Kunstefees.

Andries sou vermoedelik in ʼn Airbnb tuisgaan, maar Dorne is nie seker wat sy adres in Umdloti was nie. “Daar is geen rede waarom hy sou verdwyn nie. Ons is net baie bekommerd omdat hy verlede jaar siek was weens ʼn hartkwaal en ʼn beroerte gehad het. Sy hartfunksie is swak en ons is bang dat so iets weer kon gebeur.”

Andries en Dorne het twee kinders, onderskeidelik drie en nege jaar oud. “Dit is net stresvol, want dit voel mens werk teen tyd.”

Andries is as ʼn vermiste persoon by die polisie aangemeld. Hy het blou oë, blonde hare en is 1,75 m lank. Hy ry ʼn silwer Mercedes-Benz C200 met registrasienommer FCK 762 FS. Hy het ʼn T-hemp, jeans en hardloopskoene aangehad toe hy die laaste keer gesien is.

Enigiemand met inligting oor waar Andries hom bevind, kan die polisie in Parys by 056 816 2504/2500 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.