DA: Ramaphosa se kabinet ʼn ‘noodlottige kompromis’

Mmusi Maimane, leier van die DA, tydens ʼn debat oor die 2017 staatsrede.

Die Demokratiese Alliansie (DA) het David Mabuza se aanstelling as adjunkpresident van Suid-Afrika as ʼn noodlottige kompromis bestempel.

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandag omstreeks 22:15 regstreeks uit die Uniegebou wysigings in sy kabinet aangekondig.

Hy het tydens die kabinetskommeling vir David Mabuza, premier van Mpumalanga en adjunkpresident van die ANC, as adjunkpresident aangewys. Mabuza sal amptelik in dié pos ingesweer word sodra hy as lid van die nasionale vergadering ingesweer is.

Mmusi Maimane, leier van die DA, het in ʼn verklaring gesê Mabuza se aanstelling ondermyn Ramaphosa se beoogde planne, veral om korrupsie te beveg. “Dit lei geen twyfel dat Mabuza onbevoeg is om die adjunkpresident van Suid-Afrika te wees nie. Hy is gedurende die afgelope twee dekades in sy amp in die middel van omstredenheid wat blatante korrupsie tot boewery insluit. Sy aanstelling as adjunkpresident hou ʼn gevaar vir ons land in. Dis boonop teenstrydig met Ramaphosa se verbintenis om ‘korrupsie in openbare instellings ʼn nekslag toe te dien’.”

Hy het gesê Ramaphosa se nuwe kabinet wys duidelik dat “die probleem in Suid-Afrika” by die ANC self lê en dat die ministers in Ramaphosa se kabinet ʼn bewys is dat ANC-kaders in sy oë eerste gestel word en die belange van Suid-Afrika tweede.

“Die kabinet is steeds vol gekompromitteerde ministers, Gupta-lojaliste en ministers wat van korrupsie beskuldig word. Die besluit om die opgeblase kabinet te behou, beteken dat Ramaphosa nie dié geleentheid benut het om die grootte van die kabinet te sny nie. Ons behoort nie te moet wag vir ʼn oorsigstudie om die ‘sleg’ weg te sny [af te dank] nie,” het hy gesê.

Maimane het egter Ramaphosa geprys dat Faith Muthambi, Mosebenzi Zwane, Des van Rooyen, David Mahlobo, Lynne Brown en Bongani Bongo die trekpas gekry het.

Hy het die heraanstelling van Pravin Gordhan as die minister van openbare ondernemings en Nhlanhla Nene as minister van finansies as ʼn goeie besluit bestempel.

“Ons hoop dat Gordhan die verrotting in ons staatsbeheerde organisasies sal kan uitroei. Nene se terugkeer as minister van finansies moet ook verwelkom word. Nene se eerste taak as minister van finansies moet wees om die toename in belasting- en vervoerkoste terug te trek en voor te stel hoe regeringsbesteding verminder kan word om die tekort wat openbare geld betref aan te vul,” het hy gesê.

Intussen het die EFF ook Ramaphosa se kabinetskommeling veroordeel.

Mbuyiseni Ndlozi, woordvoerder van die party, het die nuwe kabinet as die blote herbelyning van korrupte amptenare bestempel. Ndlozi het veral gekap na die aanstellings van Malusi Gigaba, Nomvula Mokonyane en Bathabile Dlamini en gesê geen kabinet wat skoon is van korrupsie kan dié ministers insluit nie.

Hy het ʼn beroep gedoen om die “hele ANC” te verwerp in die 2019- nasionale verkiesing aangesien Ramaphosa volgens hom nie daarin belangstel om korrupsie te bestry nie. “Ramaphosa se onvermoë om individue wat by korrupsie betrokke is, te ontmasker, is bewys dat niemand die ANC van korrupsie kan red nie,” het hy gesê.

Ndlozi sê die EFF verwelkom ook die aanstelling van Nhlanhla Nene.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Daan ·

Selfde ANC net n ander sherif die DA sal n verkiesing moet wen om daadwerklik n verandering te bring.Die DA sal dit nooit maak sonder van sy vennote nie en dit is hier waar die VF+ N GROOT VERSKIL gaan maak as ons mense net reg stem.

Spook ·

Stem heelhartig saam jou, dit maak meer sin om vir die grootste oposisie te stem… Ons moet eers net die ANC uitwerk voor almal loop en vir kleiner partye gaan stem

Casper Labuschagne ·

@spook, elke nuwe verkiesing kom nagenoeg vyf miljoen nuwe stemgeregtiges by wat deur die bank vir die EFF steun. Gevolglik sal die EFF of in 2019, of in die verkiesing daarna vir die DA verbysteek. Sal dit dan nog steeds vir jou sin maak om vir die grootste opposisie te stem, of sal jy dan skielik redes vind om vir ‘n heelwat kleiner party te stem wat jou waardes en kultuur verteenwoordig?

Vermeende ·

Daan jou mense se stem tel nie veel nie want getalle is nie aan hulle kant nie, verder is jy reg, julle sal maar weer kliphard na die EFF moet vry en dan sall julle die EFF se grondbeleid moet steun.
Duideliker as dit kan ek dit nie se nie.

Stephan de S ·

Of die president speel speletjies met sy praatjies oor die uitroei van korrupsie of die nuwe “veronderstelde verkleinde” kabinet is n refleksie van die min seggenskap of mag wat hy in die ANC het. M. a. w die ou korruptes is nog net so in beheer. Voeg by dat “transformasie gaan versnel”word en dit word moeilik om n hoopvolle bedeling te verwag.

pieterdp ·

Geen hoop op herstel nie. Nog steeds korrip tot in die wortel.
Als gaan oor hul sak. Niks vir SA nie.

Yankee ·

Vaderland, julle almal klink nes CNN!! Gee die man n kans!! Veral julle DA aanhangers.

Moeggeploeg ·

Slim baie slim skuiwe gemaak. Ek glo uit die manier wat hy die aanstellings gemaak het gaan nog groot dinge gebeur – hy gaan al die korrupsie beslis uitroei. Hy hou die wat betrokke was in posisies net tot hulle reg is om te vervolg word. Dit neem jare om ‘n deeglike saak van bedrog se bewyse te maak. Ek weet want ek ken iemand wat ‘n forensiese ouditeur is en net aan sulke werk. dis nie net 1 uur se werk nie. In elk geval hy het tot volgende jaar om hom te bewys. Die opsies om te stem word al beter – my stem gaan beslis nie waar hy verlede jaar was nie. Mnr die President doen so voort – baie dankbaar dat jy die nodige ondervinding het om ons land weer vooruitstrewend te maak en ons mense weer hoop op n beter lewe te kan gee en hê

Elize ·

Dit wil voorkom asof die probleem by die Party is, so kom ons kyk wat gebeur. As hulle nie hulle sokkies optrek nie, gaan die DA baie stemme kry 2019.

Linda ·

die DA is n klomp Mickey Mouses hopeloos te swak om n land soos Suid Afrika te beheer, sorry !!!

Veritas ·

Maak seker van julle feite. CR het geen keuse gehad in die aanstelling van David Mabuza as vise-president nie. Hy is deur die ANC kiesers by die onlangse konferensie, as vise-president van die ANC verkies. Die ANC-beleid vereis dat die ANC vise-president, ook vise-president van die land sal wees net soos wat die ANC president, die landspresident sal wees indien die party aan bewind is. Dit was ‘n uitgemaakte saak van die begin af.

Linda ·

Veritas ek stem heeltemal saam met jou !! Mense verstaan nie die hele senario nie. CR is n slim man. Hierdie Dlamini wat hy nou geskuif het as ‘Minister of Woman’ sit binnekort sonder werk aangesien daardie afdeling gaan sluit. Sover dit Gigaba betref, daar is n ondersoek aan die gang op die oomblik teen hom en die Guptas. Net n kwessie van tyd en hy is ook uit.

snoefie ·

same old same old. wat het julle anders verwag? keep your friends close, your enemies yet closer?

Jaco ·

Wel dis nogsteeds die ANC, so het nie veel beter verwag nie met CR aan bewind nie…Same ship….different captain!

Casper Labuschagne ·

R.W. Johnson het geskryf (Politicsweb) dat Zuma al die nodige stemme in plek gehad het vir NDZ om president van die ANC te word. Toe kom die reuse skok dat David Mabuza op die nippertjie vir Ramaphosa gestem het. Ramaphosa het voor die ANC konferensie honderde miljoene rande vanaf wit sakelui bekom en dit het sekerlik daardie ANC stemme ten gunste van hom bevonds. Duidelik was die koste van Mabuza se steun selfs hoër, adjunkpresident van SA en ‘n direkte lyn na die presidentskap. “Saint” Ramaphosa is die Judasbok wat ons sal lei tot op die rand van ‘n kommunistiese bedeling, Mabuza is ons laksman wat hom sal opvolg.

SjN ·

Die johny walker green, blue en black het seker gevloei met die gebeurtenis.

Stompie van As ·

Die DA kla uit beginsel oor alles. Moet dalk eers voor hul eie deur vee.

Vermeende ·

Hier is darem baie mense wat CR se lof besing en aanhang dan praat ek nie eers van verdedig nie, as dit die gevoel van DA lede oor die algemeen is hoe sal die DA dan n kans staan om in 2019 te groei.

Merk my woorde:
Die VF+ gaan groei ten koste van die DA.
Die EFF gaan groei ten koste van ander miletante partye.
Die ANC gaan die grootste groei toon tenkoste van alle linkse partye.
Die DA gaan inkrimp ten koste van VF+ en ANC.
COPE sal nie meer vir baie jare bestaan nie.

Kerneels ·

Die van julle wat DA stem om ANC uit te stem weet seker nie dat hulle manufeste selfde is nie. Mmusi sal nooit iets vir sy wit kiesers of ons taal doen nie te bang hy word gese hulle is wit party.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.