DA reageer ná Zuma se appèl oor aanklagte

Jacob Zuma. Foto: Flickr/GovernmentZA

Jacob Zuma. Foto: Flickr/GovernmentZA

Die Demokratiese Alliansie het ʼn beëdigde verklaring by die hoogste hof van appèl ingedien in reaksie op korrupsie-aanklagte teen pres. Jacob Zuma.

Zuma doen aansoek om verlof tot appèl ná ʼn onlangse uitspraak deur ʼn vol bank regters in die Pretoriase hooggeregshof waar 783 aanklagte van bedrog en korrupsie weer teen die president ingestel is. Die klagtes is vroeër op ʼn omstrede wyse deur die voormalige hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag, Mokotedi Mpshe, teruggetrek en het die weg gebaan vir Zuma om president te word.

James Selfe, uitvoerende voorsitter van die DA se federale raad, het gesê die Demokratiese Alliansie voer aan daar is geen redelike vooruitsig vir sukses nie, en daar is ook nie enige oortuigende redes waarom die appèl aangehoor moet word nie. “Die vol bank van die Noord-Gautengse hooggeregshof [Pretoria] het omvattend die kwessies ondersoek en hulle het ook bepaal dat ʼn appèlaansoek onsuksesvol sal wees.”

Zuma voer aan dit was ʼn breuk in die skeiding van magte vir ʼn hof om te bepaal of vervolging moet voortgaan of nie, aangesien hierdie mag slegs by die NVG berus.

Die hooggeregshofuitspraak het egter daarop gewys dat hy nie uitspraak lewer oor die algemene beginsel dat ʼn hof moet beslis of vervolging moet voortgaan of nie, maar eerder die omstandighede van die misbruik van ʼn proses wat op ʼn deursigtige wyse in ʼn hof bepaal moet word, en nie in die geheim – soos Mpshe opgetree het toe hy op 1 April 2009 die aanklagte teruggetrek het nie.

“Ons voer aan die hof was in hierdie aspek korrek, aangesien Mpshe verskeie faktore nie in ag geneem het nie en daarom was sy besluit irrasioneel,” het Selfe bygevoeg. “Pres. Zuma se steun op bewerings van ʼn politieke sameswering is geheel en al irrelevant. Die DA dring daarop aan dat die NVG Zuma onmiddellik aankla en dat hy sy dag in die hof kan hê, soos hy nog altyd beweer hy wil hê.”

Lees alle vorige berigte oor die spioenasiebande-saak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

GES ·

Die wiel draai baie stadig maar trap verskriklik seer. Mnr Zuma jou uurglas is besig om leeg te loop. Hoe langer jy dit probeer uitstel hoe harder gaan dit op jou afkom. Jou maters (kaders) raak senuagtig en begin vlug. Die eindfluitjie het vir korrupsie en magsmisbruik geblaas ……

Kan jy glo.. ·

Ek kan nie glo hy (ek wens ek kan hom noem wat ek wil maar dan haal Maroela dit uit) met so baie weg kom nie. Het hy min stemme onder die jeug nou gaan koop hy hulle stemme met ń zero persent tersiere verhoging. Waar moet Gordhan soveel vandaan kry? Die staat het alreeds R2 800 miljoen skuld…

Zirk ·

Zuma se voortdurende aanteken van appél op sy 873 aanklagte teen hom, is gedoen om tyd te koop. Waarom.? Ek dink hy is deur die ANC nuk getaak om nog voor sy uittrede, iets baie groots ( wat blykbaar baie ongewild sal wees) in hierdie land te doen. En dit sal dié land BAIE skade berokken.

Armando ·

Zirk, ek dink jy het ‘n punt. Wie weet wat daar alles uit daardie nes uitgebroei gaan word? Gaan dit hoenderkuikens of adders wees?

Lida ·

Ry hom totdat hy sy dag in die hof kry. Skelm. Hy is nie verhewe bo die wet nie. Ek haal my hoed vir die DA af dat hulle hom so mergel. Hy kan nie die land regeer nie dit is tog duidelik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.