‘DA-reputasie aan flarde, moet nou op kiesers fokus’

By die DA se laaste verkiesingsveldtog voor die munisipale verkiesing op 3 Augustus 2016 (30 Julie 2016) Foto: DA, Facebook

Die Demokratiese Alliansie (DA) se probleme is dalk nog nie ʼn krisis nie, maar die party se reputasie is besig om al meer skade as gevolg daarvan te ly.

Dit is die mening van Gareth van Onselen, ʼn politieke ontleder verbonde aan die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge. “Die party is al ʼn geruime tyd te sterk op hul eie interne probleme gefokus. Enige politieke party moet buite homself kyk en fokus op die kwessies wat hul kiesers raak. Die DA is eenvoudig nie ekstern gefokus nie en dit kom teen ʼn prys.”

Hy sê die party se probleme het reeds verlede jaar begin ná Helen Zille se omstrede twiet oor die nalatenskap van kolonialisme. Die twiet van Zille in Maart 2017, wat deel gevorm het van ʼn reeks ná haar besoek aan Singapoer, het ʼn herrie op sosiale media veroorsaak en sy is erg gekap omdat talle mense dit gesien het as ʼn verdediging van kolonialisme. Kort daarna is die party ook gekritiseer vir die manier waarop hy Dag Zero, die droogte en waterkrisis in Kaapstad, hanteer het.

Patricia de Lille in die hooggeregshof in Kaapstad (11 Mei 2018). Foto: Chantall Presence/ANA

Die DA versus De Lille

Meer onlangs sit Suid-Afrikaners verstom en toekyk hoe die DA in ʼn stryd gewikkel is om Patricia de Lille uit die party te werk. Sy is Dinsdag weer in haar pos as burgemeester van Kaapstad aangestel nadat sy ‘n dringende aansoek teen die politieke party in die hooggregshof in Kaapstad gewen het.

Van Onselen sê daar is eintlik twee sake teen De Lille en dit is tans moeilik om tussen die twee sake teen haar te onderskei.

“Die eerste saak is ʼn politieke een wat die DA teen De Lille gemaak het. Dit hou verband met haar leierskap, houding en die gevolglike uitval in die Kaapse koukus. Dit het uitgeloop op die Steenhuisen-verslag.

“Die tweede saak is ʼn etiese saak wat die Stad Kaapstad teen De Lille aanhangig gemaak het en het betrekking op haar finansiële oorsig as burgemeester en bewerings van wanadministrasie en nepotisme. Die Stad ondersoek tans die bewerings.

“Van die twee sake is die etiese saak die ernstigste – dit behels die versuim om openbare geld behoorlik te bestuur, maar dit gaan verlore in al die geraas en verwarring rakende die politieke saak. Suid-Afrikaners kan net nie meer onderskei wat gaan vir wat nie en dit is moeilik om self uit te pluis waar reg en verkeerd begin en eindig in hierdie saga.”

Die vraag is egter of die DA in ieder geval ʼn sterk saak teen De Lille het. Van Onselen meen die party het, maar prosedureel is dit moontlik al in gedrang gebring.

“Kyk nou maar na die SMS wat nou aan die lig gekom het, waarin De Lille na bewering aan ʼn lid van die keuringskomitee vir die volgende stadsbestuurder gestuur het. In die SMS het De Lille glo gesê die bestaande stadsbestuurder moet die hoogste punte vir keuring kry sodat hy behou kan word, iets wat ʼn ernstige oortreding van reëls en etiek is, as dit waar sou wees.

“Dié soort besonderhede het egter verlore geraak in die ingewikkelde en verwarrende manier waarop die DA die prosedure hanteer het. Die probleem word ook vererger deur De Lille, wat enkele eenvoudige en belangrike vrae ontduik oor die saak.”

helen-zille-mmusi-maimane

Helen Zille en Mmusi Maimane van die DA tydens ‘n mediakonferensie in Junie 2017. Foto: Getrude Makhafola/ANA

Soveel vir die DA se naam

Die hele situasie met De Lille het ʼn negatiewe uitwerking op die party en dit kan veral op sosiale media raakgesien word.

Volgens Tonya Khoury, ʼn onafhanklike media-ontleder, het die party vroeër verlede week baie negatiewe dekking in die media en op sosiale media ontvang.

“Sosialemediagebruikers het liefdevol na De Lille as ‘Aunty Pat’ begin verwys en haar tot op die laaste as ʼn vegter uitgebeeld. Die oorweldigende sentiment in die gesprek oor die DA teen De Lille was een van hartseer, verrassing en afkeer in die hele situasie. Dit was veral (67%) mans in die ouderdomsgroep tussen 18 en 34 in Gauteng en die Wes-Kaap, met ʼn belangstelling in politiek en hul gesin, wat aan die gesprekke deelgeneem het.”

Khoury sê dit is vir haar verbasend om te sien hoe die party se reputasie inplof sonder ʼn enkele woord uit opposisiepartye se geledere.

“Die publiek haat interne, morsige en ingewikkelde binnegevegte in ʼn politieke party. Dit verhoog kiesers se apatie en ontevredenheid. Kiesers wil hê partye moet op die kwessie wat vir hulle saak maak, soos die ekonomie, misdaad en onderwys, fokus en nie die DA se interne probleme nie.

“Ongelukkig floreer die media ook meer op laasgenoemde, en dit is dikwels ten koste van die werklike kwessies en die kiesers se behoeftes.”

Mmusi Maimane, leier van die DA (Foto: ANA)

Leierskap in die amptelike opposisieparty

Van Onselen sê hy dink ook Mmusi Maimane se leierskap mag ook moontlik tot die party se probleme bydra. “Ek dink sy leierskap neig om tegemoetkomend te wees terwyl hy dubbelsinnig en onseker is oor kwessies wat te doen het met identiteit en ras.

“Ongelukkig is hy ook geneig om uit die vuis te praat met betrekking tot die party se beleid, dit veroorsaak probleme en onsekerheid vir die DA.”

Van Onselen sê Maimane kan homself met wyse raadgewers binne die party omring, maar het ook ʼn partystruktuur geërf waarmee hy eenvoudig moet kan saamwerk.

“Ek dink nie die probleem is soseer met wie Maimane homself omring nie, maar eerder dat die interne DA hiërargie effens verdeeld en onseker is oor watter rigting die party nou moet inslaan.

“Dit is nie nou al moontlik om te sê dat die DA finaal in ʼn spesifieke politieke rigting ingeslaan het nie, maar ek dink die party is beslis onseker oor wat dit moet doen. Boonop is die party ook besig om meer toegeeflik te raak aan die smaak van ʼn kragte binne die party wat nie liberaal is nie.

“Of die party heeltemal hieraan sal toegee, sal ons moet sien en ek dink dit is deel van die debat wat tans binne die DA plaasvind. Daar is beslis kompeterende ideologiese kragte binne die party want tans veg vir leierskap in die party.”

Kan die situasie beredder word?

Van Onselen glo as die party sy interne probleme kan oplos en na sy kernbesigheid – die kwessies wat kiesers raak – terugkeer, kan die DA nog dinge regmaak voor die komende verkiesing.

“Dit sal ook beteken dat daar ʼn volgehoue tydperk vir die party is sonder enige omstredenheid sodat hulle ʼn boodskap van effektiwiteit kan lewer teenoor die ANC se swak rekord aan die stuur van die nasionale regering. Hiervoor gaan die party sterk alternatiewe beleide moet vestig en die boodskappe moet uitstuur wat aanklank vind by die kwessies wat werklik vir kiesers saak maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Louis le Roux ·

Die DA het ‘n meer gebalanseerde leier nodig. Iemand wat nie op loop gaan en sy eie kop volg soss Maimane nie. Hy het heeltemal te belangrik vir homself geword en vergeet van die mense wat die party ondersteun. Hy en die ringkoppe in die party moet om ‘n tafel gaan sit en die werklike probleme aanspreek en nie kleinlikhede binne die party laat oorheers nie. Ek is bevrees die DA het al klaar ‘n klomp blanke en kleurlingstemme verloor.

Adam ·

Maimane en Kortbroek van Schalkwyk is die twee SA politieke leiers wat man alleen daarin kon slaag om hul partye enorme skade te berokken. Maimane is kliphard besig om die DA in sy kanon te bestuur en hy word ywerig bygestaan deur ‘n paaar ander politieke dwergies.

Basjan ·

Viva Kortbroek, viva! Daar slaan jy die spyker op die kop, ou Adam! Jy het sopas die hele situasie in ‘n kort uiteensetting opgesom!

christa ·

lankal besluit on VF+ te stem, die DA is nie wat hy voorgee om te wees nie.

Lourens ·

Daai selle ding besluit christa. Eks wit en werkloos agv bbbee maar steeds is ek “bevoorregt”. Tatta DA

nannie ·

Daar word teveel van “White privilege” gepraat. Gaan ook nie weer vir die da stem nie.

Adam ·

Johan, ek dink jy verwoord talle van ons Afrikaners se grootse probleem en dit is dat ons eenvoudig nie ‘n behoorlike politieke tuiste in SA kan vind nie.

John ·

Die DA het die ANC weer stukrag gegee en Maimane is self besig om sy party in die voet te skiet. Inderwaarheid is die DA nou so vol ‘heiliges’ dat dit dalk eerder ‘n klooster kan oopmaak. De Lille speel die skone lelie van die droe Kaapse vlaktes, die volmaakte burgemeester; net te selfvoldaan vir iemand wat net ‘n amp beklee en nie deur die pous homself tot heilige verklaar is nie. Afrikaners gaan die DA in strepe los. Of hulle vir ander partye gaan stem is ‘n ander saak. Miskien braai die meeste dalk op stemdag en kuier saam want die VF+ sit met dieselfde ooms op die trekkers wat die lande ploeg en hulle is moeg geploeg…

Casper Labuschagne ·

Voorwaar is die DA voortaan die ware tuiste vir persone wat regtig diepliggend skuldig voel vanweë hul inherente witbevoorregting. Maar die res van ons verskuldigtes sonder enige berou of rasgedrewe gewete sal liefs groot draaie rondom die DA loop.

Rynhardt ·

Kyk baie moet nog gebeur voor die 2019-verkiesing.As die verkiesing,en ek bedoel as die verkiesing dou plaasvind is dit verby vir die DA!!!Maimane het dit duidelik gemaak dat hy wit bevoorregting wil beveg terwyl die party vir jare stilbly oor die regstellende aksie wat hy ondersteun teen blankes!SA politiek lankal dood nes die DA!

kobus ·

Stem vir iemand wat vir ons doen.soos die VF+ hulle beteken iets vir ons.

Helene Heyns ·

Maimane moet terugkom aarde toe. Sy kop het te groot geword en hy leef in die wolke. By alles is hy n rugsteker. Met Helen Zille en Patricia de Lille was die DA n party om mee rekening te hou.

Ad ·

Nee wat!!!! Sal NIE DA stem nie. Ek doen 3 werke om dit net te maak einde van die maand. Maar nee is mos white privilege. Ek het my studies self betaal met werk en studeer. En inligting wat min het is die studente wat nou gratis swot gebruik die beurs geld om lekker te lewe en stel nie belang in studies nie. Hulle dit vir myself gese. Net nog n jaar vir kos toe laag. Akkomodasie toelaag en vervoer toelaag.

pieter ·

Ek kan regtig nie glo dat daar nog n persoon teen wie die landswette diskrimineer oor hulle wit is nog vir die DA stem nie ek kan nog verstaan die raadslede wat betaal word om niks te doen nie .

J B ·

Dit wil lyk asof , Maimane nie beheer het oor sy party nie. Die hele petalje met De Lille is gladnie deursigtig nie, en dit lyk asof daar ’n vete teen haar gevoer word. Uiters swak vir die amptelike opposisie.

Oom Kalahari ·

Dr Groenewald -VF+, my kruisie het jul beslis in 2019.

Gerhard ·

Die DA is die personifikasie van wat die probleem is met multikulturalisme. Daar is teveel verskillende groepe, wat teveel van mekaar verskil en dit word onmoontlik om almal gelukkig te hou.

Amanda ·

Nog nooit DA gestem en sal ook nie hul is net bek praatjies en doen niks. Hul kan maar vergeet van die Kaap met die volgende verkiesing met hierdie onderlinge geskille tussen hul speel hul die bal so reg in die ANC se hande.

Akademi Buktu ·

Maimane is ‘n politieke kleuter en dit wys nou al lankal. Ek het met die vorige nasionale verkiesing vir die DA gestem in die siening dat hulle die minste van die groot euwels was. Toe raak Maimane sy kinderagtige gekwyl kwyt oor mense wat nie in die DA welkom is nie en siedaar, met die munisipale verkiesing ondersteun ek toe maar die VF+. En die makgemaakte Kanadees, Gavin Davis, kwyl by geleentheid van opgewondenheid omdat hy in die parlement digby die bank sit waar Dr. Verwoerd vermoor is. My brief aan die Demoonkratiese Alliansie is nooit beantwoord nie. Dus DA, daa’s die deur, laat julle stemwerwers maa’ by my verbyhou. Julle wil mos nie sogenaamde wit bevoorregting (dus ook hul stemme) hê nie.

O aarde ·

Ek stem saam dat die skielike omswaai en aanhang van die ANC se rassisme beleide, het my ook van die DA genees. Ek het nogal gedink dat Maimane ‘n leier is wat die party kan vorentoe vat. Ek wil nie graag stem vir ‘n party wat velkleur voorop stel nie, dan kan almal maar net ANC stem. Maar as dit nou die norm word, dan het die DA nie meer my stem nie en die VF+ is die antwoord.

vissie ·

Wat doen ek nou? Ek is wit en Afrikaans …..So ek stem VF+ Ta- ta DA

JANEE ·

Ons wil net in vrede leef en laat leef…maar die magstryd in die DA het die droom verydel.
MM dink hy is groter as die party. Dink in 2019 sal die VF + sterker staan as ooit.
Die politieke leiers onderskat ons kiesers se intergiteit en intelligensie

EB ·

Wat het tannie Pat gedoen wat verkeerd was? Ek wonder nou nog of het ek iets gemis?

Boet Fasie ·

Jammer as jy nie saam met die DA stem nie word jou lidmaatskap gekanselleer en word jy met vlieende vaandels uit die DA geskop. Sorry maar ek is ook uit die rugstekende DA , vir elke ongelukkige lid verloor die sommer baie stemme by die stembus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.