DA ruk op teen e-tol

Honderde DA-ondersteuners het operuk om teen die e-tolstelsel te betoog. Foto: Wille Venter / DA

Honderde DA-ondersteuners het operuk om teen die e-tolstelsel te betoog. Foto: Wille Venter / DA

Die DA het Woensdag na David Makhura, Gautengse premier, se kantore in Johannesburg se middestad opgeruk om teen die e-tolstelsel te betoog en ʼn referendum oor die kwessie te eis.

“Ons is hier as die stem vir die mense van Gauteng en om bewusmaking te skep dat ons die geveg voorsit,” het John Moodey, die DA se provinsiale leier, by die betoging gesê.

“Ons sal aanhou om die kwessie op te haal totdat die stelsel geskrap word. Ons doen ʼn beroep op die premier vir ʼn referendum oor die saak sodat die mense se stemme vir eens en vir altyd gehoor kan word.”

Die party versoek verder dat ʼn brandstofheffing vir die provinsie se paaie betaal.

“Ons wil vir die paaie betaal deur ʼn toegewyde en afgebakende nasionale brandstofheffing,” het Neil Campbell, die party se woordvoerder vir paaie en vervoer, by die betoging gesê. “Ons verwerp die e-tolstelsel met die minagting wat dit verdien.”

Hy het gesê weens die apartheid-era se ruimtelike beplanning betaal armes die meeste vir vervoer.

Campbell het ook gesê Makhura se voorstel vir ʼn gekombineerde stelsel sal veroorsaak dat die koste van e-tol jaar na jaar toeneem.

Solly Msimanga, die DA se provinsiale voorsitter, het die verhouding tussen Gauteng se inwoners en die e-tolstelsel vergelyk met ʼn verhouding van ʼn gehawende vrou en haar lewensmaat.

“Die mishandeling, deur die regering en sy e-tolstelsel, begin stadig, en mense sal voortgaan om dit te verdra, selfs al raak dit erger,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sollie ·

Ja, verbrands, vir wat betaal mens allerhande brandstofheffings? In my jong dae is DIT hoe ons (GOEIE) paaie onderhou was. Nou kom hulle met etolsnert! Wens ek kon saam gaan betoog!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.