DA sal kantoorspasie vir R1 verhuur

DA-ondersteuners luister na Mmusi Maimane by Ellispark op 29 Maart 2014 Foto:  via @helenzille, Twitter

DA-ondersteuners luister na Mmusi Maimane by Ellispark op 29 Maart 2014 Foto: via @helenzille, Twitter

Die DA sal kantoorspasie aan klein ondernemings in Gauteng uitverhuur teen R1 per jaar indien hy die provinsie in vanjaar se verkiesing wen, het Mmusi Maimane, die party se premierskandidaat in Gauteng, Saterdag gesê.

“Ons kan nie toelaat dat klein ondernemings sukkel om huur te betaal nie,” het hy gesê. “Daar is so baie regeringsgeboue in Gauteng wat leeg staan of nie ten volle gebruik word nie.”

Maimane sê die ANC-regering besit meer as 55% van die grond in die provinsie. “Vir elke persoon met ʼn wonderlike besigheidsidee wat net nie kan voorbly nie omdat tye moeilik is; hierdie is ook julle stryd.”

Maimane het ʼn volgepakte pawiljoen by Ellispark in Johannesburg toegespreek tydens die bekendstelling van die party se provinsiale manifes. Hy sê die manifes is die party se belofte aan die mense van Gauteng en die stigting vir die toekoms. Die skare, wat hoofsaaklik DA-klere aangehad het, het gesing en gejuig.

“Ons het die regte man om Gauteng te lei,” het Helen Zille gesê, met verwysing na Maimane. “Hy het integriteit, intelligensie en deursettingsvermoë. Hy is ʼn blou man.”

Maimane het gesê verandering in die provinsie is moontlik. “Ons gaan wen, en ons gaan verandering bring.”

Hy sê die ANC-regering verhoed werksgeleenthede deur die e-tolprojek. “Shoprite se e-tolrekening is reeds R4 miljoen. Dit gaan kos duurder maak en ons almal armer.”

Hy sê die DA sal ook misdaad en korrupsie bestry. “Ek glo dat nie een enkele inwoner van Gauteng in vrees vir misdaad moet lewe nie,” het Maimane bygevoeg. Hy sê dwelmbase in gemeenskappe soos Eldoradopark bedryf hul sake uit regeringsbehuising. “Ons onderneem om dwelmbase uit alle openbare eiendom uit te sit: dit is ons belofte.”

Die DA gaan ook die Wet op Gemeenskapsveiligheid in die provinsie goedkeur.

Hy sê die DA sal ook ʼn ministeriële handboek bekend stel wat luukshede vir alle regeringsbeamptes sal beperk. “Nie meer R1.3 miljoen vir motors nie, geen meer kredietkaarte nie, en geen swembaddens meer van R500 000 nie.” -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Slim Daan ·

Die lot leer ook nie uit die opposisie se foute nie. Skaars ( indien ooit ) in die saal en die oomblik vir GROOT BELOFTES het aangebreek.
” Same old same old ” – lui die slagspreek.

Ria Maritz ·

Daar is verskeie SLAGSPREUKE oor beloftes … !

Nog pre-verkiesingsbeloftes – onvervulde beloftes van mag, mag julle dalk net aan die hakskeen byt.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.