DA sal nie ‘regeer met wapen teen kop’

“Gereed om te regeer.” Die DA het Vrydag sommige van sy nuwe burgemeesters bekend gestel. (Foto: DA/Twitter)

Die DA het Vrydag verskeie van sy nuwe burgemeesters bekend gestel en die onderneming gegee dat hy behoorlike werksverhoudings met ander politieke partye saam met wie hy voortaan sal regeer, gaan opbou en handhaaf.

Die DA se leierskap het egter benadruk dat die party nie sy beginsels sal prysgee ter wille van beheer oor ʼn munisipaliteit nie.

Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, sê die party gaan hom nie laat voorskryf deur ʼn party soos die EFF wat “verwag om van buite die regering aan partye binne die regering te dikteer wat hulle moet doen nie”.

“Dit is wat hy vantevore gedoen het,” het Zille met verwysing na EFF-leier Julius Malema gesê.

“Hy wil nie regeer nie, hy wil amptenare beheer, tenders, kontrakte, wie waar aangestel moet word of watter tender moet kry – en as jy dit nié doen nie, onttrek hy sy steun.”

Die EFF het vroeër vandeesweek onverwags sy steun aan DA-kandidate gegee – omdat hy nie ANC-kandidate wou ondersteun nie – om oorwinnings in Johannesburg en Ekurhuleni te behaal.

Zille sê die DA het allermins vir dié steun gevra.

“Ek het nuus vir hom: Ons gaan nie van hom afhanklik wees nie. Ons gaan nie gekoop en gekaap en deur die EFF beheer word nie. Ons sal getrou bly aan ons waardes en ons sal voortgaan om ʼn land te bou waarop Afrika trots kan wees.”

Zille sê die DA het dit vantevore ook al duidelik gestel dat die DA bereid is om ʼn opposisierol te speel, eerder as om sy beginsels prys te gee.

John Steenhuisen, DA-leier, sê ook die DA is bereid om na die insette van enige party of organisasie te luister, maar gaan hom nie oor sy beginsels laat voorskryf nie.

“Ons gaan nie regeer met ʼn wapen teen ons kop nie. Soveel as wat ons wil dien en die regering laat werk, sal ons terugkeer na opbouende opposisie as ons in ʼn situasie beland waar daar van ons verwag word om ons beginsels te verraai.”

Steenhuisen sê in munisipaliteite waar onderhandelings steeds voortduur, sal die DA in “goeder trou en met nederigheid” na ander partye uitreik. Hy sê politieke partye sal ʼn manier moet vind om beter saam te werk en mekaar te vind.

“Dit vra vir politieke volwassenheid wat volgens my vir veels te lank afwesig was.”

Hy het die DA-burgemeesters gevra om bondgenote op verskillende plekke te vind en uit te reik na die burgerlike samelewing, nieregeringsorganisasies, die sakesektor en selfs afgetredenes wie se kundigheid steeds van groot waarde kan wees.

“Kyk verder as julle eie banke, aanvaar hulp wanneer dit aangebied word. Julle het ʼn enorme verantwoordelikheid, moenie alles alleen probeer doen nie.”

Steenhuisen sê groot geleenthede lê waar die DA nou regeer, maar dat daar ook enorme gevare skuil omdat inwoners beskerm moet word teen die mislukkings van die nasionale regering. Dit sluit in die beveiliging van burgers waar die polisie versuim om dit te doen, die opknapping van die spoorstelsel ondanks Prasa se ineenstorting, die bestuur van hawens waar Transnet te kort skiet, om mense teen beurtkrag te beskerm wanneer Eskom versuim om dit te doen – en dit alles terwyl die plaaslike ekonomie ontwikkel en werk geskep moet word.

“Dít is enorme verantwoordelikhede, maar elke burgemeester aanvaar dit met graagte.”

Steenhuisen het ook die partye wat voortaan saam met die DA sal regeer, die versekering gegee dat die party alles moontlik sal doen om ʼn produktiewe en wedersyds eerbiedige ruimte te skep. “Ons is dit verskuldig aan die miljoene inwoners in die stede en dorpe en aan elke kieser wat dit moontlik gemaak het om die ANC daar uit die kussings te lig, om te bewys dat ʼn veelpartydemokrasie vir hulle werk.”

Die DA is ná die plaaslike verkiesing aan bewind in 12 munisipaliteite waar die party ʼn volstrekte meerderheid behaal het, terwyl die DA in 15 plaaslike owerhede ʼn DA-geleide koalisie aangegaan het, of ʼn minderheidsregering is waar die DA die grootste party is.

Die DA is boonop vir die eerste keer aan bewind in uMngeni in KwaZulu-Natal, Ekurhuleni in Gauteng en die Beyers Naude-munisipaliteit in die Oos-Kaap.

“Dit gee aan ons die geleentheid om kiesers vir die eerste keer bekend te stel aan wat ons die ‘DA-verskil’ noem.”

In Ekurhuleni was die aanwysing van die DA-kandidaat Tania Campbell as burgemeester selfs vir haar en haar party ʼn verrassing. Campbell is bestempel as die “toevallige burgemeester”.

Sy het Vrydag gesê sy voel geëerd deur die vertroue wat nie net die DA nie, maar ook opposisiepartye in haar geplaas het.

In Johannesburg is die DA se dr. Mpho Phalati as burgemeester aangewys. Phalati sê sy het ʼn “gebroke stad” aangetref, maar glo vas dit kan weer herstel word. In Johannesburg het die DA nie ʼn meerderheid nie, en ʼn koalisieregering moet saamgestel word.

Dit gaan dus groot wysheid verg om die wisselvallige koalisie bymekaar te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Lourens CFG ·

Die DA moet ook nie té arrogant en grootkop raak nie.
Dit is tyd vir ALLE partye om volwasse te raak, op te hou met alewige bek gevegte, en begin om ons, die bevolking, te dien. Dit is immers hul doel.

Perdeby ·

En dit is die EFF glad nie, die DA het vir hom ‘n baie duidelike boodskap gestuur.

anniekiewiet ·

Al hierdie DA uitsprake klink ook asof hulle grootkop kry omdat hul nou gelukkig was om goeie posisies in te neem. Nietemin, sterkte.

EnoughSaid ·

Ekskuus, maar as opposisie gaan jy NIE die bloeding kan stop nie……al skree jy nou hoe hard en vir hoe lank…..So bly maar eerder in bewind, stem saam oor beginsels handhaaf, maar laat PE is les wees vir almal……

Shakespeare ·

Elkeen met een breinsel kan sien en lees hoe die Wes Kaap onder moeilike omstandighede sukses na sukses behaal. Die wat dit nie kan sien nie……ek verkoop breinselle teen halfprys.

Wiehan ·

Ek sien Bongani Baloyi gaan die premiers kanidaat vir Gauteng in 2024 wees. Baie goed. Laat hy vir die burgemeesters leer en raad gee hoe om suksesvol te regeer. Hy het as 26 jarige ‘n groot sukses vehaal in Midvaal begin en dit is steeds een van die top 5 munisipaliteite in die land. DA, gebruil dit wat jyulle het, met hom kan dit net goed gaan want hy vat geen nonsens nie. Ek werk baie in die townships in gauteng en almal ken en praat van hom. Ek ek is nie eers DA lid nie.

KB ·

Ek sien wat bedoel word met die arrogansie vd DA…”Me, myself and I”…

Dries ·

Ja julle gaan wysheid nodig he. Geen regering kan regeer met n geweer teen die kop nie. Die EFF is n slegte venoot

KB ·

Ons sal ook nie die DA se arrogansie duld nie.
Ewe skielik het hulle te belangrik vir hulle self geword.

‘n Leier het inbors, ‘n leier is nederig, ‘n leier het visie, ‘n leier het beginsels en ‘n ruggraat. As gevolg hiervan respekteer selfs sy vyande hom.

John Steenhuisen skiet ver tekort.

annie ·

Nee, eerder met ‘n gelaaide wapen teen die rug… En hoe meer mense die DA in poste aanstel, hoe meer toesig is nodig…blue, blue my life js blue…

Kobus ·

DA is heethoofdig en selfgesentreert. Hulle sal liewer die geveg wen en die oorlog verloor. Is die DA werklik so goed? Skoon audits is een ding, maar hulle faal op plekke waar dit saak maak. Neem bv die plakker probleem, die behuising propleem. EFF moet nie onderskat word nie. Niemand verwag dat hulle hulle waardes moet opoffer nie, maar hulle moet hulle verkiesingsbeloftes nakom en het heel moontlik ondersteuning van ander partye nodig.

Danie ·

Ek sê weer, indien die DA n koalisie moet aangaan, moet hy sy mandaat onthou waarvoor sy kiesers gestem het.
Sy kiesers het nie vir die eff gestem nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.