DA sal “onnodige” opgraderings by parlement teenstaan

Die parlementsgebou in Kaapstad Foto: World Elections

Die parlementsgebou in Kaapstad Foto: World Elections

Die Demokratiese Alliansie het Sondag gesê hy gaan die voorgestelde opgraderings ter waarde van R1.4 miljard van die parlementêre gebied teenstaan.

“Die nasionale fiskus is reeds onder geweldige druk met ʼn stygende tekort,” het John Steenhuisen, die DA se hoofsweep, in ʼn verklaring gesê. “Ons kan nie bekostig om geld te spandeer aan onnodige luukshede vir die parlement nie.”

Die Sunday Times het berig dat Baleka Mbete, speaker in die Nasionale Vergadering, en Thandi Modise, voorsitter van die nasionale raad van provinsies, beplan om in November met die minister van finansies Nhlanhla Nene, te vergader om nuwe kantore, woonstelle, eetkamers en kamers vir LPs te bespreek.

Die koerant het berig dat die parlement se nuwe voorsittende beamptes die planne met onmiddellike effek in werking wil stel. Die planne sluit die volgende in:
– ʼn lokaal vir 1 500 persone met ʼn banketsaal wat uitsluitlik vir gesamentlike sittings gebruik kan word ter waarde van R487 miljoen;
– ʼn 16 000 vierkante meter kantoor- en restaurantblok ter waarde van R312 miljoen;
– ʼn besoekersentrum ter waarde van R68 miljoen; en
– ʼn drie verdieping parkeerterrein ter waarde van R275 miljoen.

Modise het glo gesê die parlement verkwis geld aan hotelvenues vir komiteevergaderings, aangesien die parlement nie meer genoeg spasie het nie.

Steenhuisen meen egter die 1 500 sitplek-saal sal slegs per geleentheid gebruik word vir die gesamentlike sitting van die nasionale raad van provinsies en die Nasionale Vergadering. “Die huidige reëling dat die spasie in die Nasionale Vergadering gebruik word, is voldoende,” het hy gesê.

Die DA het bygevoeg daar is nie ʼn behoefte vir ʼn woonstelkompleks, ondergrondse parkeerterrein of bykomende restaurante in die middestad nie.

“Die DA sal die opgradering teenstaan,” het Steenhuisen gesê. “As die speaker enige respek het vir die tesourie se versoek om ons gordels stywer te trek, sal sy onmiddellik hierdie verkwistende voorstel staak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Elizabeth ·

Dankie DA! Hou die spul vermorsers FYN dop. Ek weet nie waar wil hulle al die miljarde vandaan kry nie – dis soveel vir kernkragsentrales wat beplan word, soveel vir hierdie storie, soveel vir dit en dat en intussen kan hul dadelik begin met meer kragstasies bou, hospitale wat vrot is opgradeer, PAAIE opgradeer in plaas van om die arme belastingbetaler met e-tol te belas… nee wat. As hulle soveel geld vir nonsens het dan moet hulle sommer dadelik e-tol afskaf en daardie miljarde vir die paaie gebruik en klaar. Spul skelms.

Waks ·

Dankie DA dat julle mense is wat dink, ander mense dink nie dit moet net gespandeer word onnodige luxuries. Terwyl da mense is wat betoog voor 1994 en tot nou vir water sanitasie en weet nie wat nog nie ma ander mense kan geld verkwis somme net vir lekkerte hoe dan.

a ·

Weereens ‘n eensydige vermorsing beslissing…hierdie bedrag kan huise voorsien aan die Kaapse inwoners…veral die bruin mense die al vir geslagte in hokkies en agterkamers/agterplase moet woon.
Hoeveel belastingbetalers is in die land? neem kennis dat ons word droog gemelk. Die DA kan dit teenstaan en aandring dat die bedrag aan opgradering van huisvesting bestee word, en ook seker woonbuurte laat skoonmaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.