DA sal onteiening ‘tot in internasionale howe’ beveg

Foto ter illustrasie. (Foto: Noah Silliman/Unsplash)

Die DA sal onteiening sonder vergoeding tot in die internasionale howe beveg, en die Wes-Kaapse regering is reeds in kontak met buitelandse regerings om hulle oor die impak van voorgenome grondwetlike veranderings op hul landsburgers se Suid-Afrikaanse bates in te lig.

So het dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse LUR vir landbou en nasionale voorsitter van die DA, Maandagaand tydens ʼn openbare vergadering van die DA in Durbanville gesê.

Die vergadering is meestal deur boere van die omgewing en so ver as Wellington en Bonnievale bygewoon, en het op die wynlandgoed D’Aria plaasgevind.

Meyer het verder uitgewys dat die land se inkomste uit landbou met 13,1% toegeneem het vanjaar, terwyl die land se BBP met 7% gedaal het. Wes-Kaapse wintergraan en wynbou het hiertoe ʼn groot bydrae gelewer.

Volgens hom beteken dit die nasionale regering moet sy ingesteldheid teenoor boere verander en boere behandel soos wat die DA-regering in die Wes-Kaap dit doen.

Die Wes-Kaapse landbou sluit 187 000 werkgeleenthede op 6 937 plase in, en die provinsie sien om na die oudste landboukollege op die vasteland, Elsenburg buite Stellenbosch.

Meyer het hom dit ten doel gestel om die Wes-Kaap se drie landbouskole (Augsburg by Clanwilliam, Boland in die Paarl en Oakdale by Riversdal) aan te vul. Hy ondersoek veral  moontlikhede by Rawsonville en Bonnievale.

Dr. Ivan Meyer, LUR vir landbou in die Wes-Kaap. Foto: Brendan Magaar/African News Agency (ANA)

Wat landelike veiligheid betref het Meyer aangetoon dat al die provinsie se plaaswagte elektronies ingeskakel is by sy departement sodat lakse polisie-optrede nie geduld word nie.

Meyer het dié situasie in kontras geplaas met dié in die Oos-Vrystaat wat hy onlangs besoek het en waar die owerheid die boere volgens hom nie bystaan nie.

Elke Wes-Kaapse distriksmunisipaliteit onder DA-beheer het ook ʼn toegewyde raadslid wat spesifiek aan die belange van die kommersiële landbou aandag moet gee, het Meyer gesê.

Hy gaan persoonlik na elke Wes-Kaapse hofsaak voortspruitend uit ʼn plaasmoord om borgtog teen te staan. Die volgende een spruit uit die moord op Tool Wessels van Bonnievale.

Meyer het ook uitgewys dat die Wes-Kaap se landelike paaie in stand gehou word terwyl landelike paaie in die res van die land vergaan.

Vroeër het die DA-leier, John Steenhuisen, in ʼn sterk bewoorde toespraak ʼn aanval op die ANC-regering gedoen aan dié se hantering van werkloosheid, dienslewering, die koronavirus-pandemie, vuurwapeneienaarskap, grondbesit en die ekonomie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Werner ·

Om in die howe te baklei gaan hierdie keer nie meer genoeg wees nie DA.Dit gebeur maar as jy met komuniste wil onderhandel.Hulle steur hulle nie aan howe nie .So jammer dat ek nou nie bars van opgewondenheid oor julle stelling nie.Dit is te min te laat.

gpsa ·

Dankie DA. sonder sulke teenkanting sou ons in SA al baie slegter af gewees het. Sterkte daarme.

jzjz05 ·

Ek is nie n lid van die DA nie ,maar moet sê dat hulle iets probeer doen aan die saak wat ons almal raak “Eendrag maak Mag” dan moet almal saamstaan dat ons die onreg kan beveg en nie ander wil afbreek nie, Die saak biy die selfde al is jy nie van die selde party nie.

Harley Davidson ·

Ek ondersteun die idee van ‘n onafhanklike weskaap.

Phillip ·

Stem dag kom mos nader Solidariteit is mos besig daar mee . VF+ ook . DA wil maar net stemme wen

Althes ·

Het die ANC nie geleer uit Zimbabwe waar gierige regeringsamptenare en Grace Mugabe grond geneem het vir eie gewin nie?
Gee hul gas DA!

Margaret ·

DA – asseblief – help ons hiermee. Ons het al die hulp nodig wat ons kan kry.

Mariana ·

Sterkte vir Mnr Meyer, want wragtig daar moet vinnige verandering kom.

Belinda ·

dan kry mens mense wat nog huis koop, ek sal nie, wat is die use om n eiendom te koop maar jy huur dit basies net van die regering. more stap hul in jou huis, sien dis 1 persoon wat byvoorbeeld in n 3 slaapkamer huis woon, dan sit hul jou uit omdat n groter familie daar kan woon? dis after all hul grond, of jy gekoop het of nie.

Astrain ·

Sterkte DA, dit sal wonderlik wees dat IEMAND IETS DOEN!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.