DA sal OVK-aansoek teenstaan

Argieffoto (Foto: Motshwari Mofokeng/African News Agency/ANA)

Die Demokratiese Alliansie is van voornemens om die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se moontlike aansoek, om die plaaslikeregeringsverkiesing tot Februarie 2022 uit te stel, teen te staan.

John Steenhuisen, leier van die DA, het gesê sy party se prokureurs het ʼn sperdatum van Vrydag, 6 Augustus, vir die OVK gestel om by hul voorgeskrewe beplanning te hou om met die verkiesing voort te gaan. Die OVK moet ook ʼn registrasieperiode voor die verkiesing beskikbaar maak en weer die kiesersrol oopmaak om nuwe name by te voeg. Die kiesersrol is gesluit toe Nkosazana Dlamini-Zuma, die minister van samewerkende regering en tradisionele sake die verkiesingsdatum van 27 Oktober aangekondig het.

“Indien die OVK versuim om dit te doen, sal ons geen ander keuse hê as om die Grondwet en die demokratiese regte van ons kiesers in die hof te verdedig nie,” het Steenhuisen bygevoeg.

Volgens die Grondwet moet plaaslikeregeringsverkiesings gehou word binne 90 dae van die einde van die vyfjaartermyn vir munisipale rade. “Dit is die OVK se werk – hul enigste werk – om seker te maak dit gebeur. Selfs in ʼn ontwrigte kalender is daar ander stappe wat gedoen kan word om seker te maak dat hierdie fundamentele demokratiese reg beskerm word.”

Volgens die DA se berekenings is daar moontlik nege miljoen kiesers wat in aanmerking kom om te registreer, maar wie se name nie tans op die kiesersrol is nie. “As die OVK nie vir hulle die geleentheid bied om te registreer nie, kan ons nie voldoen aan die vereiste van ʼn vry en regverdige verkiesing nie. Dit is moontlik om tydelik artikel 6 van die Wet opsy te sit, ʼn registrasienaweek teen die einde van Augustus te hou en steeds voort te gaan met die verkiesing op 27 Oktober.”

Steenhuisen meen dit is duidelik dat die ontwrigtings van Covid-19 en die tegniese uitdagings rondom die kiesersrol bloot ʼn rookskerm is vir die werklike rede om die verkiesing uit te stel: die ANC se vrees vir die kiesers. “Terwyl ons ekonomie onstuimig is; ons ʼn werkloosheidskoers van meer as 42% het; ʼn interne faksie-oorlog die party in twee kan skeur; en die meerderheid van ANC-beheerde munisipaliteite op die randjie van ineenstorting is, is die party eenvoudig nie gereed om die geregverdigde woede van kiesers by die stembus te hanteer nie. As die verkiesing uitgestel word, maak die OVK homself daaraan skuldig om die ANC te help om kiesersaanspreeklikheid te ontduik. Die DA sal nie toelaat dat dit gebeur nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jacobus ·

Die OVK is ook maar net nog een van die ANC se “onafhanklike” en amptelike agentskappe.

Robert ·

Stem nogal die keer saam met die agbare DA. Hulle sal eke jaar ‘n nuwe verskoning uitsuig om nie die verkiesings te hou nie. Nes alle ander kommunistiese regimes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.