DA sê Abrahams moet Gordhan-aanklagte terugtrek, bedank

Pravin Gordhan Foto: Hands Off Pravin Gordhan, Facebook

Pravin Gordhan Foto: Hands Off Pravin Gordhan, Facebook

Die Demokratiese Alliansie het Sondag gesê Shaun Abrahams, nasionale direkteur van openbare vervolging, moet die regte ding doen en die aanklagte teen die minister van finansies en sy medebeskuldigdes terugtrek en daarna bedank.

Berigte dui daarop dat Abrahams noodsaaklike bewyse geïgnoreer het toe hy minister Pravin Gordhan en sy voormalige adjunkte by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Oupa Magashula en Ivan Pillay, van bedrog aangekla het en dat die direktoraat van prioriteitsmisdaadondersoeke (Valke), onder leiding van staatsaanklaer Torie Pretorius, slegs ʼn “oorsigtelike ondersoek” gedoen het, het Glynnis Breytenbach, woordvoerder van die DA, gesê.

“In die lig hiervan, moet Abrahams die regte ding doen en onmiddellik die aanklagte terugtrek,” het sy gesê.

Volgens hofdokumente wat deur die Helen Suzman-stigting ingedien is, het Abrahams en Pretorius doelbewus bewyse geïgnoreer wat daarop wys dat goedkeuring vir vroeë aftrede nie ʼn ongewone praktyk is nie.

“Berigte vandag [Sondag] wys ook dat die Valke nie behoorlik hul ondersoek afgehandel het nie. Die dossier wat aan Abrahams oorhandig is, was nie volledig nie en het noodsaaklike inligting gekort. Dit bevestig bloot dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en die Valke gekaap is deur diegene wat hierdie instansies wil gebruik vir politieke heksejagte,” het Breytenbach bygevoeg.

“Die Valke het van skokkende boelietaktiek in hul ondersoek gebruik gemaak en het selfs SAID-adjunkdirekteur Vlok Symington in die SAID-raadsaal in Pretoria toegesluit. Hulle het daarna geëis dat hy afskrifte moes oorhandig van ʼn e-pos van die prokureur vir David Makapela, en hulle het Symington hardhandig behandel toe hy geweier het. Symington het weens etiese redes geweier om ʼn beëdigde verklaring af te lê oor die aanklagte teen Gordhan,” het Breytenbach bygevoeg.

“Nou lyk dit of Abrahams probeer om homself uit die gemors te wurm deur te sê dat hy geen deel gehad het in die besluit om met die aanklagte voort te gaan nie,” het sy gesê. “Hy kan nie van die Suid-Afrikaanse publiek verwag om te glo dat hy, as nasionale direkteur van openbare vervolging, geen sê gehad het of gekonsulteer is oor die besluit nie.

“Die enigste behoorlike ding vir Abrahams om te doen sal wees om die aanklagte teen Gordhan, Pillay en Magashula terug te trek, erken dat hy nie opgewasse is vir die opdrag nie, en saam met sy handlanger Torie Pretorius bedank,” het Breytenbach bygevoeg.

Maroela Media het vroeër berig “informele gesprekke” word tans gehou om die aanklagte teen Pravin Gordhan en sy medebeskuldigdes te laat vaar. Lees meer.

Lees alle vorige berigte oor Pravin Gordhan op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

GES ·

Dit sal goed wees as die bedrogsaak kan voortgaan. Dit sal ʼn manier wees om die waarheid te openbaar. Daar is huidiglik soveel korrupsie en bedrog betrokke dat hierdie gestoei vir jare so kan aangaan.

Hendrik ·

Van die parlementslede is onkundig en harthorend. Dan wil hulle ook kastig wys hy is iets. Dis hulle wat ook ons waardevolle belasting geld mors en die land opd………. Daar is mos n plek in PTA wat kan geld vervaardig as dit klaar is.
ONS MOET BID EN BID VIR REDDING

Peter van der Schyff ·

Laat die saak nou sy gang gaan. Ek het groot geloof in ons regstelsel en daar is geen beter manier om ‘n einde hieraan te maak as vir ‘n hof om die saak met die nodige minagting uit te gooi nie.

Hendrik ·

Pieter jy is reg maar dis onnodige geld vermorsing vandat die een bles die land weggegee het en nou n ander bles oorgeneem het. Die eerste bles met sy mense is nou doodstil.

Vi vian ·

Wanneer hierdie saak oor is en die belaglikheid daarvan ten toon gestel is, moet Abrahams vervolg word vir vermorsing van geld en tyd en watookal hul hom kan vervolg voor.

KP ·

Abrahams moet gefire word en van die advokate rol geskraap word.

JR ·

Herinner my aan gesegde: “die brak keer terug na sy braaksel”!!!

En die keer kyk miljoene hoe hy op sy pens kruip….

Cherokee ·

Dit geld vir elke enkele DA-lid wat skielik besluit het dat Gordhan hul held is.

Elo Quinn ·

Ek het persoonlik ervaar hoe top DA-politici aangejaag het. Nie een het omverskoning gevra of befank nie. VF+ leierskap het die situasie eenvoudig geïgnoreer. Is daar nog leierskap iewers?

Elo Quinn ·

Verskoning vir tikfoute. My tablet het ‘n wil van sy eie en ek het verswakte sig. Die beter DA-regering hier het my toe darem na tien jaar ‘n bril laat kry, waarmee ek nie kan lees nie.

Buitestander ·

Zuma Zuma is die oorsprong van die vervolging al ontken hy dit ten sterkte .
Die *AANKLAG* sal nooit in die hof draai nie want teveel waarhede sal in die hof uitkom.
Woensdag voor hofsitting sal Aberams die aanklag terug trek.
Zuma-Zuma kan nie bekostig dat sy naam daaraan gekoppel word nie.
Slaap rustig die is net ‘n weerlig afleier vir Nr.1.

Buitestander ·

Slaap rustig, Woensdag voor hofsitting begin sal die aanklagte terug getrek word.
Nr1 wil nie sy naam daaraan gekoppel hé nie. Sy handlangers weet dit.
As VGK en NR 1 se polisie nie bewyse het nie gaan die hof die saak net terug verwys. Óf uit die hof gooi.

Valie ·

raak ontslae van die Torie Pretorius karakter ook, hulle is meer skadelik as enige ander want onmiddelik verwag mens beter as jy sy naam hoor….

dirk ·

Abrahams het self minister Pravin Gordhan en sy voormalige adjunkte by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Oupa Magashula en Ivan Pillay, van bedrog aangekla hy kan nie nou sê hy is voorgesê nie..uiteindelik blyk hy in dieselfde kaliber te wees as soveel ander – dit was ‘n integriteitlose skuif en hy gaan gedagvaar word – dit kos gordan en die lande miljarde vir hierdie flater…laat abrahams boet –

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.