DA se beleidskongres laat vonke spat

(Foto: DA/Twitter)

Die DA is besig met sy eerste virtuele beleidskongres wat Saterdag begin het en Sondag ten einde loop. Die eerste dag het gefokus op die party se politieke grondbeginsels. Op die tweede dag kom ekonomiese beleid aan die beurt.

Die DA se beleidshoof, Gwen Ngwenya, het Vrydag by navraag aan Maroela Media gesê die kongres kan nie alle DA-beleid debatteer en afhandel binne twee dae nie; daar word dus op grondbeginsels, ekonomie en plaaslike regering gefokus.

Daar sal vorentoe na ander kwessies gekyk word, want die skryf van beleid is ʼn deurlopende proses, het Ngwenya gesê.

Die kongres word deur 200 afgevaardigdes van dwarsoor die land bygewoon en volg op ʼn proses van agt maande waarin DA-lede, akademici en gemeenskapsleiers op ʼn verskeidenheid gebiede hul insette gelewer het.

Die kongres is geslote vir die media en die publiek, maar Maroela Media se bronne in die kongres sê Saterdagoggend se bespreking oor nie-rassigheid was ʼn taamlike bloedbad omdat mense se definisie en begrip van nie-rassigheid so uiteenlopend is.

Die bespreking daarna het baie beter verloop en het uitgeloop op ʼn amendement wat groter klem op versoening (intern sowel as in die Suid-Afrikaanse gemeenskap) plaas en die bydrae wat die DA tot versoening kan lewer.

Die amendement, wat ook ten doel gehad het om sommige van die meer bakleierige individue in die DA-topleierskap tot orde en betaamlikheid te roep, is aanvaar met 106 stemme teen vyf. Afgevaardigdes van alle rasse het veral sterk gevoel dat versoening en menswaardigheid ʼn meer sentrale rol in die DA moet speel.

Sondag se bespreking sal die ongemaklike kwessie van die verband tussen ras, armoede, rykdom en regstelling takel en behoort vir lewendige debat te sorg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Simon ·

Versoening tussen rasse veral tussen swart en wit het in mense heugenis wereldwyd nooit kon en weens wette van die natuur nooit kan slaag nie. Wat is die DA se kanse? ‘n Ronde nul. Spandeer eerder julle energie op dinge soos korrupsie, armoede/werkloosheid.

Kanjynoumeer ·

Ras/Rassisme?
Dit sal nooit verander nie en sal altyd n onderwerp van bespreking bly sonder n oplossing.
Daarmee sal ons oor kleurgrense moet probeer vrede maak. Respek en verdraagsaamheid teenoor mekaar.
Niks met ras te doen nie, maar ons kultuur, denke en manier van doen en vele ander denk en sienswyse sal NOOIT dieselfde wees nie.
Dit is hoe ons DNA/samestelling is.
Ons kan vir ewig veg daarteen, maar sal ons elke keer teen n muur vasloop.
Saamwerk, waar die een die ander een se hand was. Ons het mekaar nodig. So verstaan ons dit ook op die plaas en werk in harmonie saam.

gatgogga ·

Ramaphosa en Malema is albei duidelik gekant teen versoening (Rama meer subtiel).

Heinrich ·

Die feit dat “mense se definisie van nie-rassigheid nie dieselfde is nie” toon dat die ANC se Animal Farm idee van alle rasse is gelyk maar sekere is meer gelyk as ander nog stewig staan in die ANC Lite gedeelte van die DA. Die DA flip tussen ANC denke en bietjie meer nugtere denke elke keer wanneer daar nuwe leierskap is. Stem vandag vir hulle, môre kry hulle ‘n nuwe leier en dan slaan hulle weer ‘n nuwe rigting teen jou in.

christo ·

Steenhuisen is níé die regte leier vir die DA nie. Hy is daar om homself te dien en die party nie. Hy kan gaan leer by Alan Winde van die Wes-Kaap. ‘n Nederige mens wat nie net ‘n geraas maak soos ‘n stout skoolkind nie, maar die Wes-Kaap uitstekend bestuur. Mens was nié jou vuilgoed in die openbaar nie, so ook nie ‘n party se binnegevegte nie.
Waar is die dae toe daar orde in die parlement was? Deesdae is die parlement vol sirkusboere. ( Niks gemik teen rasegte boere nie!)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.