DA sê Mangaung-afgradering gaan beleggings, werksgeleenthede kos

Moody's

Die kredietgraderingsagentskap Moody’s. (Foto: ANA)

Die DA in Mangaung in die Vrystaat het Woensdag die skuld vir die internasionale kredietgradeerder Moody’s se afgradering van die metro na B3, vierkant op die ANC gepak. Dit was ʼn afgradering van drie kerwe. Die vooruitsig is boonop negatief.

Hardie Vivier, die DA se koukusleier in Mangaung, sê die besluit is ʼn weerspieëling van die “roekelose regeringsmislukking van die ANC in die metro”.

Die Mangaung-metro bestaan uit Bloemfontein, Thaba Nchu, Botshabelo, Dewetsdorp, Wepener en Van Stadensrus.

“Die afgradering is ʼn hartseer bewys van die kultuur van wanbestuur en swak regering waardeur die ANC-bewind onder burgemeester Olly Mlameleli, gekenmerk word. Dit is uiters ongewoon vir Moody’s om so ʼn kwaai afgradering te doen, behalwe in gevalle waar groot kommer heers oor die manier waarop regeer word – iets waarvoor die ANC nou gesorg het,” het Vivier gesê.

Volgens hom is dit ʼn alledaagse verskynsel vir inwoners om dae lank sonder water te sit, terwyl herstelwerk aan paaie en vullisverwydering in die metro al hoe minder gedoen word.

Verlede maand is beperkings op Bloem Water weens agterstallige skuld geplaas.

“Die kredietafgradering gaan sonder twyfel die beleggings wat die metro dalk kon lok, afskrik en die plaaslike ekonomie en werkskepping striem.”

Die kredietgradeerder het gesê die afgradering weerspieël die Vrystaatse munisipaliteit se verslegtende likiditeit, wat daartoe gelei het dat hy onlangs nie betyds sy skuld aan banke kon terugbetaal nie. Dit dui ook op ʼn groot waarskynlikheid dat hy dit in die toekoms nie gaan kan betaal nie.

Moody’s het gesê die likiditeitsprobleme is die gevolg van ʼn kombinasie van swak plaaslike regering en swak uitvoering van ʼn herstelplan wat met die nasionale regering aangegaan is.

Voorlopige resultate vir 2019 wys dat Mangaung se kontant van R289 miljoen na R131 miljoen afgeneem het, wat beteken het die munisipaliteit moes uitstel vra om sommige van sy finansiële verpligtinge na te kom. Manguang het ook gevra vir sewe dae uitstel om lenings terug te betaal, pleks daarvan om dit teen die spertyd van 30 Junie te betaal.

Die omvang van die afgradering is ook ʼn weerspieëling van Moody’s se vroeëre verwagting dat daar meer doeltreffende kommunikasie en maatreëls tussen die metro en die nasionale regering gaan wees om probleme uit te stryk en ekstra steun te verskaf, maar dat dít nie gebeur het nie.

Verbruikerskuld het van R1,3 miljard verlede jaar toegeneem tot R2,8 miljard, ten spyte van pogings om skuld in te vorder.

Tussen Julie 2018 en Mei 2019 is net R192 miljoen van ou skuld ingevorder.

“Teen 30 Junie 2019 is die metro R4,1 miljard geskuld, waarvan 36% deur die sakesektor en staatsdepartemente. Inwoners en ander debiteure is verantwoordelik vir 64% van skuld,” het Moody’s gesê.

Moody’s het gesê die munisipaliteit het ook nog nie die veranderings in werking gestel wat die nasionale tesourie vir sy 2019-begroting voorgestel het nie, wat waarskynlik ʼn begrotingstekort vir die 2019/-’20-boekjaar tot gevolg gaan hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Gert

Dankie Ollie en jou Gespuis, goed gedoen, ek hoop julle is baie trots op julle puik gemors wat julle aangevang het.

Marie MALAN

Wil graag weet, oor Bank dinge, voetjie gehoor fluit, banke het toestemming gegee regering mag (mense se spaar geld gebruik om ekonomie te help red, waar of nie?) het by bank gaan vra, maar Hul weet niks se hulle???

jaco

Ek kan verstaan as n DA munisipaliteit se water afgesny word oor agterstallige skuld.
Maar Manguang het n ANC stadsraad en water word beheer deur die ANC-beheerde Dept van Water en Sanitasie. So van agterstallige skuld behoort eintlik GEEN sprake te wees nie. Tegnies skuld die ANC vir die ANC geld. Dit kan mos afgeskryf word. Dis dan alles in een “ANC huis”.

Wurmpie

En so gaan dit orals

Stebastiaan

En so beur die kader munisipaliteite voort na verarming en verwoesting!!!!!