DA se nuwe beleidshoof sit planne uiteen

Die DA se nuwe beleidshoof het groot planne om die amptelike opposisie se beleid duideliker omskrewe en meer definitief te maak.

Gwen Ngwenya (28) het haar voorgraadse studie voltooi aan die Universiteit van Kaapstad, waar sy voorsitter van die studenteraad was onder die DA-vaandel. Sy het ʼn meestersgraad in internasionale ekonomie aan die Universiteit van Parys verwerf en is tans ʼn meestersgraadstudent in finansies aan die Universiteit van Londen.

Voordat sy parlementslid geword het was sy die operasionele hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudings.

Ngwenya is vandeesmaand ingehuldig as die DA se parlementslid vir Hammanskraal, maar haar belangrikste rol sal wees om beleidskwessies vir die DA te koördineer.

Die DA het die afgelope paar jaar onder kwaai kritiek – onder meer van moontlike koalisievennote teen die ANC – begin deurloop omdat hulle nie behoorlik opgedateerde, prakties uitvoerbare beleid het nie.

Dit is Ngwenya se taak om duidelikheid en samehang te bring met die daarstel van ʼn beleid gegrond op die DA se liberale politieke beginsels, op ʼn manier wat die meeste moontlike stemme sal trek.

Sy sal ook moet probeer om ʼn meer inklusiewe proses daarvan te maak – hoewel Ngwenya dit nie sal erken nie, het die mees onlangse beleidsprosesse wat die DA aangepak het, kritiek ontlok dat diegene wat aan die hoof van die prosesse gestaan het, parlementslede en portefeuljewoordvoerders (skaduministers, in DA-taal) uitgesluit het ten gunste van eie voorkeur en die gebruik van party-amptenare.

“Ek beplan om die beleidskrywery op twee parallelle maniere te doen,” het Ngwenya aan Maroela Media verduidelik. “Die eerste is om die DA se parlementslede eerstens as wets- en beleidskrywers te behandel. Tans is daar in alle politieke partye die neiging om die klem eerstens te plaas op parlementslede se oorsigrol, wat wel belangrik is. Maar die beleidsrol moenie agterweë bly nie.

“Wat die interne deel van die beleidskryfproses betref, gaan parlementslede dus ʼn groot rol speel. Maar daar moet ook van eksterne spesialiskundigheid gebruik gemaak word om die beste beleid daar te stel.

“Voorts gaan ons die beleidstukke op twee maniere bekend stel. Tydens die DA-kongres op 7 en 8 April in Pretoria gaan verskeie nuwe beleidstukke bekend gestel word. Maar terselfdertyd gaan ons ʼn aanlopende beleidskryfproses oor ʼn tydperk van vyf jaar hê wat beleid deurgaans sal opdateer en bekend stel,” het Ngwenya verduidelik.

“Die sleutelvraag wat ons as die DA sal moet beantwoord oor byna alle beleidsaspekte is wat ons verstaan onder bemagtiging, wanneer bemagtiging bereik word en hoe dit bereik word.

“Dit is byvoorbeeld belangrik dat ons nie ras as die bepaler vir bemagtiging beskou nie, maar eerder inkomste en vermoë. Dit is die hoofuitdaging wat ons as die DA nou moet takel – om hierdie land se geleenthede en uitdagings op ʼn beginselvaste manier prakties aan te pak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Callie ·

DA, ek het vir julle gestem., let wel het. Nie oor julle n droom party was of is nie, om oppisisie te kan wees vir die siek, korrupte ANC. Dit raak al duideliker dat julle dalk erger as hulle sal wees. Die land het geen toekoms oor nie. Niks gaan keer dat hier n tweede Zimbabwe kom nie. Kom ons bid net meer.

Paul ·

Jan-Jan, ek sal graag van jou wil hoor wat jou opinie is van die DA se vete met De Lille. Daar sit mos eintlik maar net politiek agter en die bewerings teen haar is maar ‘n front, al gee die DA hoog daaroor op. Hulle het drooggemaak en nou soek hulle haar nie meer daar nie, punt. Ek dink ook Maimane wil van die ‘ou’ DA bloed in die Kaap ontslae raak, hy wil meer beheer hê en voel bedreig en word daar eintlik as ’buitestander, van die noorde af beskou. Dis mos, in die kaap, waar die DA se suksesse die meeste gesien kan word en sy gesig is maar min daar te sien, net Zille en De Lille.

Lolla ·

En so erken DA dan nou, vir wie ek nooit ooit weer sal stem nie, dat hulle beleid niks anders as n valse belofte wat onvoldoenbaar was, of n “floating glass castle” was. Al ons tyd in die stem rye nog net gemors! Ons was belieg, bedrieg, verraai en onder valse voorwensels gehou AL hierdie jare! Ek is so jammer VFPlus, dat ek julle so kort gekyk het. Julle verdien die verskoning. Belowe ek sal VFPlus stem. Waarlikke integriteit, deursugtig, eerlik en in die land en ALLE SAners se belang nog altyd. Trots en dankbaar dat julle ook nie julself ophou met optogte en gemors wat daarmee saam gaan. Uitstekende voorbeeld.

Oom Kalahari ·

En so krummel die kastele met mags beheptheid. Die Geskiedenis is en bly maar ‘n sirkel effek. VF+ is klein maar elke jaar bly my stem by jou, want jy staan bankvas agter jou minderheids volk en van my vriende het ook nou besef dat elke stem briefie ‘n groter verteenwoordiging gaan meebring. Dankie Dr Groenewald, DA is ook maardie sakdoek in ANC se sak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.