DA se Patricia-hoofpyn vererger

Patricia de Lille (Foto: Phando Jikelo/African News Agency/ANA)

Die DA se Kaapse kopseer het in ’n migraine verander noudat ’n volbank van die Kaapse hooggeregshof in Patricia de Lille se guns bevind het oor die pogings om haar uit die DA en die Kaapse burgemeesterskap te skop.

Hoewel die aanvanklike terugslag vir die DA is dat hul hantering van die De Lille-kwessie vir baie waarnemers nog meer kleinsielig, nydiger en meer onverstaanbaar lyk, is die werklik groot skade die hof se bevinding dat die party se federale regskommissie sedert 2015 verkeerd saamgestel is, wat alle dissiplinêre besluite deur die DA die afgelope drie jaar ongeldig kan maak

Die eenparige bevinding deur die volbank, soos voorgedra deur regter Andre le Grange, was trouens dat die DA so ’n omvattende gemors van hul eie dissiplinêre prosesse gemaak het dat die meriete van die saak nie eens nodig gehad het om ter sprake te kom nie.

Dit was nog deurgaans De Lille se primêre argument, wat tot dusver deur die DA afgelag is. Die regters het egter veral twee belangrike gegewens uitgewys wat nou ter sprake kom, en die party se lewe tot interne struwelings kan vergal in die aanloop tot aanstaande jaar se algemene verkiesing.

Eerstens het die regters bevind dat die DA se federale regskommissie sedert 2015 verkeerdelik saamgestel is. Dit kan die deur ooplaat vir mense wat die afgelope drie jaar intern deur die DA skuldig bevind is aan dissiplinêre oortreding” om ook daardie stappe, en potensieel gevolglike verlies aan poste en inkomste, ter syde te laat stel met sanksionerende kostebevele soos die een wat aan De Lille toegestaan is.

Tweedens het die hof bevind die 24 uur wat kragtens die sogenaamde “De Lille-klousule” in die DA-grondwet (amptelik bekend as die terugroep-klousule) aan ampsdraers met wie die DA ontevrede is, gegun word om redes te verskaf hoekom hulle nie uit hul poste verwyder moet word nie, is te kort. Dit is strydig met ’n ander en ouer bepaling in die DA-grondwet wat die reg om jou saak te stel, behoorlik voor te berei en die volledige klagtes teen jou op rekord te hê, waarborg.

Dit beteken die DA se dissiplinêre optrede teen DA-ampsdaers in spesifiek Matzikama (Vredendal), Knysna, George en Stellenbosch loop gevaar om in dieselfde gemors as die De Lille-tameletjie te verander.

Uit hoofde daarvan sal De Lille nou môre ’n aansoek in die Kaapse hooggeregshof bring dat diegene wat bewerings oor haar bestuurstyl en gedrag gemaak het voor die DA se interne Steenhuisen-kommissie se name en volledige bewerings bekend gemaak word. Sy vra ook dat enige dissiplinêre verhoor teen haar oop moet wees vir die publiek, sodat enigeen presies kan sien wat die DA doen. Die DA sal die aansoek teenstaan.

Dit lyk ook nie in hierdie stadium asof die DA die hand van versoening en vriendskap wat De Lille hulle die afgelope paar weke aangebied het, gaan aanvaar nie. In hul reaksie op hul nederlaag het die DA gister bloot opnuut gal gebraak teen De Lille, en beloof om weer te probeer om haar intern te vervolg. Dit ten spyte van die bewerings oor die federale regskommissie, die stand van die proses teen haar en die feit dat ’n vorige poging skipbreuk gely het nadat een van die paneellede wat die federale regskommissie aangestel het om De Lille dissiplinêr te verhoor, met De Lille saamgestem het dat hy onbevoeg is om haar te verhoor en homself gevolglik onttrek het aan die paneel.

Indien die DA voortgaan met sy pogings om teen die volbank se eenparige bevinding te appelleer, is dit ’n ope vraag hoe die party meen so ’n proses kan voor volgende jaar se algemene verkiesing afgeloop wees, en hoe die party meen hy kan De Lille hoegenaamd regskragtig intern verhoor gegewe die deurmekaarspul in sy interne prosesse.

Só erg is die DA se Kaapse migraine op hierdie Donderdag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Ander Annie ·

Ai DA, hierdie perd wat julle bloots probeer ry, gaan nou vir julle bloots ry en baie groot skade berokken. Patricia de Lille is ‘n merkwaardige vrou. Nederige en hardwerkende vrou.

TDW ·

Ander Annie, leer de lille werklik ken, jy sal jou woorde gou insluk. Google maar bietjie die artikel “de lille a brief history” van biznews. Jy sal baie verbaas wees oor hierdie “merkwaardige, nederige, hardwerkende vrou”
Sys ‘n wolf in skaapsklere.

Louis le Roux ·

Nouja, daar sit Mmusi en sy trawante met
‘n vuurwarm patat wat hul vingers so brand dat hulle nie weet wat om te doen nie. Ek dink persoonlik dat hierdie storie hulle gaan benadeel en hulle stemme gaan verloor. Maimane wat gewoonlik baie te sê het, is baie stil. Baie stof tot nadenke ou grootbek.

Speedguard ·

Gee hulle gas Pat, ek het nog in die “apartheids Jare” net langes jou gesit in ‘n Hotel in Natal waar ons ontbeid geniet het, jy het ons beskaafd gegroet en was dit baie aangenaam om jou te ontmoed, jy was ‘n inspirasie vir my kinders met hoe jy die kelners hanteer en behandel het, doen so voort !!

Huh? ·

Nou wat se Glynnis Breytenbach hiervan? Ha ha. En die DA is besig om eiehandig hul eie graf te grawe vir volgende verkiesing, met Maimane die hoof grouer, James Selfe sy regterhand en die res soos ‘n klomp skape agterna. Hoor my lied, as die DA die Wes Kaap weer wen, gaan dit skraps wees. En hulle gaan waarskynlik Pta en Jhb verloor, want baie kiesers daar gaan eenvoudig vir ‘n ander party stem wat nie so skynheilig en ‘n deurmekaarspul is nie (dis nou nie die ANC nie, meer waarskynlik VF+ en Cope, dit sal ‘n moeilike keuse wees)

Johann cb ·

Dié hofsake is dalk vir die meeste van ons kopsere, maar luister gerus na Me deLille – sy weet waarvan sy praat! Baie van ons, ek ingesluit, kan baie by haar leer…dit word nou egter duur lesse! Stop die hofsake en los probleme onderling op!

JANEE ·

Daar is groter, belangriker issues om aan aandag te gee DA. !!!

Eish ·

Die begin van die disintegrasie van die DA.
Hoe op aarde kon n mens dink dat hul die land kon regeer, hul kom nie eens uit die wegspringblokke nie!
Of is dit verafrikanisering wat dit tot gevolg het?
Hoe dit ookal sy, heelparty DA parlementariërs moet maar die laaste skof geniet. 2019 is om die draai.

Interessant ·

Al is ek ten volle bewus van onse Patriciatjie se geraamtes en mantelswaaiery, kan ek my nie daarvan weerhou om my daarin te verkreukel dat sy vrou-alleen die top kanonne so bietjie gas gee nie.

Lerato ·

TDW
Ek het die moeite gedoen om die berig te lees waarna jy verwys en was tot in my sokkies geskok.

As Malema sê, kill the farmer kill the boer, is almal geskok. As De lill dit sê, dink die mense sy is n held.
Sommige kommentators op hierdie blog praat leedvermakerig van die DA, terwyl die DA eintlik die enigste werkbare alternatief bied.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.