DA se premierskandidate bekend  

Demokratiese Alliansie

Meer as 30 DA-lede het hulself verkiesbaar gestel om volgende jaar hul party se provinsiale premierskandidate te wees.

Die nege uiteindelike premierskandidate sal deur lede van die federale en provinsiale dagbesture van die party aangewys word.

Die enigste twee provinsies waar die DA-premierskandidate onbestrede aangewys is, is die Oos-Kaap en die Noord-Kaap. In albei gevalle sal die provinsiale DA-leiers ook die premierskandidate wees: Nqaba Bhanga in die Oos-Kaap en Andrew Louw in die Noord-Kaap.

Die twee provinsies waar die wedloop die meeste belangstelling gaande maak is die twee waar die DA die beste kanse het om ʼn premier verkies te kry, te wete die Wes-Kaap en Gauteng.

Sewe DA-lede het hul name in die hoed gegooi om Helen Zille op te volg as Wes-Kaapse premier. Hulle is Fazloodien Abrahams (prokureur van Mitchells Plain), Bonginkosi Madikizela (provinsiale partyleier), David Maynier (parlementslid), Kelly Baloyi (ʼn relatief onbekende faktor), JC MacFarlane (ʼn regstudent), Alan Winde (provinsiale LUR vir ekonomiese ontwikkeling) en Michael Mack (oor wie nie veel bekend is nie).

Die opmerklikste van die lys voornemende DA-premierskandidate vir Gauteng is dat die provinsiale partyleier, John Moodey, nie in die wedloop is nie. Sake sal uitgespook word tussen Makashule Gana (lid van die provinsiale wetgewer en voormalige nasionale DA-jeugleier), Wendy Alexander (stadsraadslid vir die Northgate-gebied in Johannesburg), Sandy Mbuvha (oor wie nie veel bekend is nie), Rachel Mathebe (speaker van die Tshwane-metro in Pretoria), Ghaleb Cachalia (parlementslid), Johannes Page (wie se profiel nie baie hoog is nie), Karabo Tledima (wat in die reklamebedryf is), Refiloe Ntsekhe (lid van die provinsiale wetgewer en een van die DA se nasionale woordvoerders) en Solly Msimanga (burgemeester van Tshwane).

Mbuvha en Tladima het hulself nie net vir die posisie van Gautengse premier beskikbaar gestel nie, maar ook vir premier van Noordwes. Die ander Noordwes-kandidate is dr. Tutu Faleni (lid van die provinsiale wetgewer), Thabo Selepe (ʼn taamlik onbekende faktor) en Patrick Sesana, ʼn raadslid in die Matlosana-munisipaliteit in Klerksdorp. Die provinsiale DA-leier in Noordwes. Joe McGluwa, het hom nie as premier beskikbaar gestel nie.

In KwaZulu-Natal is daar net twee kandidate, naamlik die provinsiale DA-leier, Zwakele Mncwango, en Zoe Moore, ʼn provinsiale bestuurslid van die DA-vrouenetwerk.

Limpopo se premierskandidaat sal uit vier moontlikhede beslis word. Jacques Smalle, die provinsiale DA-leier, sal kragte meet teen dieselfde Sandy Mbuvha wat ook in Noordwes en Gauteng staan, Tshedza Sikhwari (ʼn lid van die DA-jeug) en Rembuluwani Thelma Marole (wat al jare lank ʼn prominente DA-lid in die provinsie is).

Die twee nominasies uit die Vrystaat is die provinsiale DA-leier, Patricia Kopane, en Coreen Malherbe, wat nie ʼn dominante teenwoordigheid in die nuusmedia handhaaf nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Koos ·

Nogal optimisties om enigsins ‘n premierskandidaat vir Noordwes of Limpopo te wil stel. Die DA mag seker maar droom…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.