DA sê Ramaphosa spandeer meer aan kaders as Zuma

(Grafika verskaf deur die DA)

Die Demokratiese Alliansie sê hy het die afgelope ses maande noukeurig bewyse ingesamel oor uitgawes aan personeel wat deur 27 ministers en 35 adjunkministers in pres. Cyril Ramaphosa se kabinet werk.

“Hierdie kostes is aangegaan kragtens die ministeriële handboek. Aangesien dié reëls uitsluitlik deur die president bepaal word, is alle uitgawes dus sy verantwoordelikheid,” sê Leon Schreiber, die DA se skaduminister vir staatsdiens en administrasie.

“Die DA kan vandag onthul dat die president ANC-ministers en adjunkministers, wat fase 6-beurtkrag ʼn permanente kenmerk van die land gemaak het, in staat gestel het om 624 persoonlike personeellede aan te stel, teen ʼn koste vir belastingbetalers van byna R2 miljard sedert hy in Februarie 2018 as president aangewys is.”

Schreiber sê selfs nog meer skokkend as die indiensneming van al dié onproduktiewe kaders, is die feit dat dié inligting nog nooit vantevore onthul is nie en dat daar geen parlementêre oorsig is oor die uitgawes nie.

Die huidige weergawe van die ministeriële handboek stel elke minister in staat om 11 personeellede aan te stel. Adjunkministers mag sewe ondersteunende personeel aanstel. Hierdie personeellede sluit in huishoudelike hulp, ontvangspersoneel, gemeenskapsuitreikbeamptes, privaat en afspraaksekretarisse en bystand-aanstelling en administratiewe sekretarisse.

“Soos wat ons laas jaar gesien het toe die DA onthul het hoe Ramaphosa in die geheim gepoog het om die getalle te verhoog, word die ministeriële handboek nou ten volle in die geheim bedryf sonder dat dit op enige wetgewing gebaseer is.

“Die DA het reeds ʼn klag by die Openbare Beskermer ingedien dat ʼn ministeriële handboek, waar die president die belastingbetaler kan laat opdok sonder enige parlementêre oorsig, sekerlik onwettig en ongrondwetlik is.”

Schreiber sê as deel van die volgende stap in die DA se veldtog om aan die mense van Suid-Afrika te onthul hoe Ramaphosa hulle “deur sy geheime handboek misbruik”, is elke staatsdepartement versoek om inligting te verskaf oor die uitgawes aan persoonlike personeel vir ministers en adjunkministers. “Die antwoorde het aangedui dat belastingbetalers slegs oor die afgelope jaar meer as R387 miljoen aan salarisse spandeer het vir 624 ANC-kaders.”

Byna die helfte van alle kabinetministers, minstens 12 van hulle, oortree tans die ministeriële handboek omdat hulle meer as 11 personeellede in diens het. Nog minstens 17 adjunkministers het ook meer as sewe personeellede in diens.

Die DA is besig met ʼn nuwe klag by die Openbare Beskermer teen dié 17 adjunkministers en die volgende 12 ministers:

  • Gwede Mantashe: 17 personeel teen R11,7 miljoen per jaar
  • Ronald Lamola: 17 personeel teen R10,2 miljoen per jaar;
  • Mmamoloko Kubayi: 15 personeel teen R10,3 miljoen per jaar;
  • Blade Nzimande: 14 personeel teen R9 miljoen per jaar;
  • Naledi Pandor: 14 personeel teen R8,8 miljoen per jaar;
  • Bheki Cele: 14 personeel teen R8,4 miljoen per jaar;
  • Lindiwe Zulu: 14 personeel teen R9,1 miljoen per jaar;
  • Fikile Mbalula: 13 personeel teen R10,2 miljoen per jaar;
  • Maite Nkoana-Mashabane: 13 personeel teen R7,7 miljoen per jaar;
  • Aaron Motsoaledi: 12 personeel teen R8,7 miljoen per jaar;
  • Joe Phaahla: 12 personeel teen R7,8 miljoen per jaar; en
  • Thulas Nxesi, wat as minister van arbeid en waarnemende minister van staatsdiens en administrasie die toesighouer moet wees van die handboek, is skynbaar vir die grootste oortreding verantwoordelik. In sy kapasiteit as minister van arbeid: 16 personeel teen R13,1 miljoen per jaar; en as waarnemende minister van staatsdiens en administrasie: 13 personeel teen R9,3 miljoen per jaar.

“Die DA se onthulling dat belastingbetalers ʼn bedrag van R1 935 705 005 aan 624 personeel in ministers se kantoor spandeer het, volg ná ons vroeër vandeesweek ook onthul het dat ANC-ministers en adjunkministers tans in 97 staatseiendomme in Pretoria en Kaapstad woon ter waarde van nagenoeg R1 miljard. Die minister van openbare werke in die ANC-kabinet, Patricia de Lille, het dié vermorsing verdedig toe sy effektief gesê het: ‘Die pre-1994-regering het dit gedoen; ons kan dit ook doen.’

“Kragtens die ministeriële handboek word ministers en adjunkministers in dié huise deur 624 personeellede bedien en hulle ontvang ook BBP-beskerming ter waarde van nagenoeg R8 miljoen elk per jaar, gratis water en elektrisiteit van tot R5 000 per maand en vier luukse voertuie elk. De Lille het vroeër ook erken dat R2,6 miljoen spandeer is om kragopwekkers aan te skaf sodat die ministeriële huise nie onderwerp word aan beurtkrag – wat hul inwoners veroorsaak het nie.”

Ramaphosa se kabinet kos meer as Zuma s’n

President Cyril Ramaphosa lewer die Staatsrede vir 2023
(Foto: ESA ALEXANDER / POOL / AFP)

Schreiber sê nóg ʼn kommerwekkende element in Ramaphosa se handboek is dat dit selfs nog meer spandering moontlik gemaak het vir personeel as onder oudpres. Jacob Zuma se administrasie. Alhoewel Zuma meer ministers in sy kabinet gehad het (34 teenoor 27), laat Ramaphosa die ministers en adjunkministers toe om meer personeel aan te stel. Ramaphosa het ook dieselfde hoeveelheid adjunkministers in sy kabinet as Zuma (35).

Volgens die vorige weergawe van die handboek, wat van 7 Februarie 2007 tot 20 November 2019 van krag was tydens Zuma se ampstermyn, is ministers toegelaat om 10 ondersteunende personeel aan te stel en elke adjunkminister kon ses aanstel. Onder Ramaphosa is dié getalle onderskeidelik na 11 en 7 aangepas.

“Dit beteken dat Ramaphosa se kabinet belastingbetalers meer kos as Zuma sʼn. Dit is nog meer kommerwekkend dat Ramaphosa verlede jaar in April gepoog het om stil-stil die handboek te wysig om die getalle onderskeidelik na 15 en 10 aan te pas. Toe die DA dié geheime wysigings onthul het, het ons bereken dat die verhoging die belastingbetaler sowat R87 miljoen meer elke jaar sou kos. Dit is slegs weens uiterste druk deur die publiek, danksy die DA se onthullings, dat Ramaphosa genoop is om sy geheime wysigings terug te trek.”

DA baklei teen ministeriële handboek

(Foto: Noordwes- provinsiale wetgewer)

Ongeag die voortgesette ondersoek deur die Openbare Beskermer dat die hele ministeriële handboek skynbaar onwettig is, tesame met die nuwe klag deur die DA dat byna die helfte van die kabinet die reëls oor personeelaanstellings oortree, wil die DA ook die Wetsontwerp om Kabinetbyvoordele te Besnoei aan die parlement voorhou.

“Hierdie wetsontwerp, wat die vorm sal aanneem as ʼn wysiging aan die Wet op die Besoldiging van Openbare Ampsbekleërs sal ʼn einde bring aan die straffeloosheid waarmee Ramaphosa belastingbetalers misbruik om te betaal vir die luukse leefstyl van ANC-kaders wat Suid-Afrika verwoes. Die wetsontwerp sal die handboek onderwerp aan volledige parlementêre deursigtigheid en oorsig.”

  • Klik hier om die volledige uiteensetting te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Isobel ·

Die land het nie krag nie maar hul gebruik miljoene rande. Dit is belaglik. Hul net besig om hul eie sakke vol te maak.

Nico ·

Die mense kan mos nie al die werk self doen nie, stel meer aan sodat die minister kan sit en niks doen nie, elke minister moet ongeveer 4 ajunk ministers gebruik.

Di ·

SKELM VERBY!!! Ons moet dringend van al hierdie korrupte ANC kaders ontslae raak as ons hierdie land enigsins van totale verval wil red.

Witbaard ·

2 probleme:
1. Die mense stem nie.
2. Die massas word gedreig dat hulle Sassageld gaan verloor as hulle nie vir die ANC stem nie

Papsak ·

Hier is nie geld nie maar hulle wil nog mors hulle kyk na hulle sakke en regeer niks meer nie hierdie land gaan n dop word

tierwyfie ·

Dis darem te lekker hoe dit in hierdie land gaan. Die president en die res se salarisse behoort met 80,% besnoei te word. Die ministers behoort nie aangestel te word as hulle nie self die werk kan doen nie. Elkeen het net een sekretaris nodig.
Die salarisse behoort bepaal te word deur die kabinet wat die ander partye insluit.

Jaco ·

Wat die DA gerieflik vergeet, is dat ELKE parlementslid, insluitend die DA, meer as R1miljoen salaris per jaar kry, plus verniet vlieg, plus ‘n luukse motor, plus ‘n lekker vet petroltoelae. Die stygende petrolprys raak hulle dus nie. Dan is daar ook nog ‘n onthaaltoelae. Nugter weet waarvoor dit is.
Maar kortom, bogenoemde is die “pakket” wat ALLE parlementslede kry, ook dié van die DA wat nou so kla oor ANC-ministers se salarisse.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.