DA se Randall Williams in Tshwane herkies

Randall Williams is weer tot burgemeester van die Tshwane-metro verkies. (Foto: DA)

Die DA se Randall Williams is onbestrede tot burgemeester van die Tshwane-metro herkies.

Die DA het Dinsdag al drie raadsposte in die metro opgeraap toe DA-raadslid Christo van den Heever gedurende ʼn raadsvergadering onbestrede tot hoofsweep herkies is, terwyl Katlego Mathebe tot speaker verkies is. Dít óók onbestrede nadat die ANC geen kandidate vir enige van die raadsposte benoem het nie.

Die ANC het nou vir die eerste keer beheer oor al drie metro’s in Gauteng verloor – eers Johannesburg, toe Ekurhuleni en nou ook Tshwane.

Williams het vanmiddag gedurende die raadsvergadering gesê ʼn golf van verandering het die afgelope twee dae oor die metro’s in Gauteng gespoel nadat politieke partye byeengekom het om hul steun aan DA-burgemeesters te verleen.

Daar wag egter nou verskeie uitdagings op Williams aangesien geen party ʼn volstrekte meerderheid stemme tydens die munisipale verkiesings in die Tshwane-metro verwerf het nie.

Die hoofstad sal vir die volgende vyf jaar deur ʼn meerderheidskoalisieregering regeer word. Dit sluit in die DA, ActionSA, die VF Plus, ACDP en COPE.

Williams het vanmiddag gesê sukses in die metro sal slegs verseker word indien die partye hul politieke verskille oorwin en die belange van Tshwane se inwoners vooropstel.

“Dit is hoekom ek wil vra dat ons as verteenwoordigers van verskeie politieke partye voortdurend daarna streef om saam te werk om die gehalte van dienste wat aan ons gemeenskappe verskaf word, te verbeter,” het die herverkose burgemeester gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Tiptol ·

Dis wonderlik. Nou moet hulle die gemors begin skoonmaak. Hulle erf ‘n deurmekaar spul.

Adriaan ·

Ek wed jou die anc gaan Jan die skuld gee. En vir Maria. Wolraad moet natuurlik ook skuld kry.

Yvonne ·

Ek bid vir elkeen wat in hierdie uitdaging staan….vir samewerking en meningsvolle gesprekke tot voordeel van almal.

Frank ·

Dit is goed dat die drek anc en eff nie daar is om strooi aan te jaag nie.

Skuilnaam ·

Same old, same old… Hy WAS die burgermeester, en NIKS het verbeter nie. ‘n Spul belaglike narre wat NIKS kan doen nie.

Hendrik ·

Verdeel die metro soos dit eers was in kleiner gedeeltes. Akasia, Centurion ens. en dan sal dienslewering weereens verbeter.

Johnny ·

Dis nou dieselfde ou wat in ‘n radio-onderhoud op Radio Pretoria wat direk uitgesaai is van die verkiesingsentrum af die dag na die verkiesing, met ‘n swaar Afrikaanse aksent die Afrikaanse vrae in Engels beantwoord?

Vernon ·

Voor die DA nie die lui ,slegte amptenare wegjaag nie,gaan niks verander nie. Begin asb. by die Metro polisie wat laat in die aande mororiste afpers by strate en omkoopgeld eis!!!!

Waarnemer ·

Well done!!!Nou moet julle net skouer aan die wiel sit en WERK om 2023 ook suksesvol te wees.Die ANC is NOU al besig om kiesers te bearbei vir 2023 se Nasionale verkiesing.OPSKUD DA en VF

SomeOne ·

daar gaan nog miljoene liters water in die “see” in “wegloop” voor daardie verkiesing

SomeOne ·

baie het vir die DA gestem, gesteun, doen nou julle plig, laat mense opkyk na Pretoria met sy verbeterings in “alle” velde

Sarel ·

Hier Broei iets by die ANC & EFF.
Ek stem saam dat Politieke geskille edn kant geplaas word
ter wille van die Gemeenskap. Ek sal egter eers wil kyk

Spookasem ·

Ek is ook seker dat iets hier aan te broei is. Die ANC en EFF gaan nie sommer platval nie. In elk geval moet die politieke partye eers al die slegte ‘civil servants’ uit hulle poste ontslae. Die arme burgermeester kan niks op sy eie doen nie. Hy het ‘n gesonde span wat saam met hom trek nodig.

Hardekwas ·

Na my mening het die Tshwane infrastruktuur drasties agteruit gegaan tydens die da se bewind. Dit is ook heel logies want die meerderheid werkers is anc/eff ondersteuners. Dit sal nooit verbeter nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.