DA se Solly Msimanga aangeval

Skermgreep uit die video

ʼn Man is Donderdag in hegtenis geneem ná Solly Msimanga, Gautengse leier van die Demokratiese Alliansie, in Benoni aangeval is.

Fred Nel, die provinsiale voorsitter van die DA, sê die party verwelkom die vinnige reaksie deur die polisie en die inhegtenisneming van die vermeende aanvaller.

In ʼn video wat op sosiale media gedeel is, kan Msimanga gesien word waar sy mond en kop bloei. Die aanvaller beskuldig hom daarvan dat hy ʼn dief is en geld skuld.

“Mnr. Msimanga verklaar onomwonde dat hy nie dié geld skuld nie en hy oorweeg om aanklagte teen die aanvaller aanhangig te maak,” het Nel bygevoeg.

Msimanga het by ʼn neef in Benoni gekuier toe die persoon, ʼn sakevennoot van Msimanga se neef, die familielid aangeval het. “Msimanga wou ingryp en hy is toe ook aangeval. Die aanvaller beskuldig Msimanga dan op die video dat hy hom geld skuld.”

Die man is in hegtenis geneem en het intussen publiek om verskoning gevra aan Msimanga. Hy bevestig dat Msimanga hom nie geld skuld nie.

“Die aanvaller het ook aangebied om die mediese uitgawes te dek en enige ander verliese wat mnr. Msimanga gely het.”

Nel sê die party veroordeel die aanval op sy provinsiale leier. “Suid-Afrikaners moet binne die wet optree om verskille te hanteer. Niemand mag die reg in eie hande neem en die regte van ander mense skend nie – soos wat vandag gebeur het nie. Geweld is beslis nie die antwoord nie.”

Omdat dit ʼn persoonlike kwessie is, sal die DA aan Msimanga die ruimte bied om self te besluit hoe hy die saak verder wil hanteer.

Die saak is opgelos:

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nienie ·

Klink vir my of daar ‘n bietjie voggies ook betrokke was by die gekuiery….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.