DA se versoek oor toegang tot staatskaping-getuies afgekeur

Adjunkhoofregter Raymond Zondo. Foto: Getrude Makhafola/ANA

Raymond Zondo, adjunkhoofregter, voorsitter van die geregtelike kommissie van ondersoek na staatskaping en korrupsie en bedrog in die openbare sektor, het die DA se versoek vir spesiale toegang tog getuies in die komende staatskapingverhore afgekeur.

Zondo het dié aankondiging Donderdagaand in ʼn verklaring gemaak.

Hy het gesê hoewel baie van die DA se versoeke binne die normale werkinge van die kommissie val, wou die party ook die reg gehad het om getuies te ondervra en dít kon hy nie toelaat nie.

“Die DA se versoek vir die reg om getuies van die kommissie te ondervra is van die hand gewys,” het Zondo gesê.

Die DA se versoek om geskrewe en mondelinge argumente in te dien tydens die afsluiting van die kommissie se verhore is vir nou van die hand gewys, maar Zondo het wel gesê dat hulle dié versoek op ʼn later stadium weer kan rig.

Die DA het aangevoer dat die party een van die klaers was wat die openbare beskermer se kantoor genader het met betrekking tot die staatskapingverslag wat in 2016 bekendgestel is, en sou voormalige pres. Jacob Zuma ʼn hersieningsaansoek voor ʼn hooggeregshof bring oor die verslag die DA een van die belanghebbende partye sou wees. Daarom het die party aangevoer dat hy die reg het om die getuies voor die kommissie te ondervra.

Zondo meen egter net omdat die DA ʼn klag by die openbare beskermer gelê het, dit die party nie die reg gee om getuies te ondervra nie.

“Die kommissie het ʼn regspan wie se werk insluit om die potensiële getuies te ondervra, verklarings by hulle af te neem en hulle aan die kommissie voor te hou as getuies. Daar is geen rede waarom die DA nie kan staatmaak op die kommissie se regspan nie.”

Zondo meen daar is nie in dié geval, soos in siviele litigasie, partye in dispuut nie. Die kommissie is net volgens hom ʼn ondersoek na “sekere aantygings”.

Die verhore na staatskaping sal na verwagting op 20 Augustus begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jacques ·

Ek ruik n rot . Hier word iets weg gesteek of iemand beskerm .

Theresa B ·

Nou toe nou. Dis darem net te gerieflik. Maatjies help maatjies nou weer hier, of hoe…….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.